Liefde kerndeel van dié kinderhuis

Personeel van die President Kruger Kinderhuis. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Wanneer daar oor ʼn kinderhuis gepraat word, duik dieselfde beelde gewoonlik by die meeste van ons op; ʼn ou, verlate gebou met donker gange waar kinders met hul aardse besittinkies afgelaai en van vergeet word.

“Dit ís seker in party gevalle ongelukkig so, maar ek dink dis hoofsaaklik in flieks wat hulle ons só uitbeeld. In ons huis is die gange net donker as ons beurtkrag het,” sê Kobus Vorster, hoof van die President Kruger Kinderhuis in Villieria, Pretoria, tergend oor een van die vele wanpersepsies wat daar aan kinderhuise kleef.

Dié biologiese pa van drie (en oupa van twee) is saam met sy vrou, Annetjie, vir meer as 24 jaar ook simboliese ouers vir honderde kinders wat weens trauma of maatskaplike uitdagings in die kinderhuis se sorg geplaas is.

President Kruger-kinderhuis is ook een van die oudstes in die land en bied sedert 1939 vir kinders tussen die ouderdom van twee en 18 jaar oud ʼn veilige, huislike heenkome.

“Kinders wat in ons sorg is, moet weet dat hierdie soos hulle eie huis is, waar hulle trots en gemaklik kan voel en die vrymoedigheid het om maats oor te nooi vir etes of naweekkuiers.”

Die tipiese huislike elemente is duidelik sigbaar: Groot, groen grasperke wat oor naweke gebruik word vir rugby- en krieketwedstryde asook ʼn silwerskoon swembad en braai-area waar daar in die hitte gekuier en baljaar kan word. Selfs ʼn straatkat wat deur die jare deel van die familie geword het.

“Jy sien mos nou, niemand word hier weggewys nie,” lag Kobus terwyl hy ʼn toer van die kinderhuis gee.

Hy verduidelik dat seuns en meisies op verskillende vloere in ʼn koshuisformaat geskei en in “huise” van tien tot 13 opgedeel word. Elke huis het ʼn versorger, oftewel ʼn “instaanma” soos hy na hulle verwys.

Daar word in ook in dié groepsverband aan tafel in die groot eetsaal, waar woorde soos “liefde”, “vrede” en “selfbeheersing” teen die muur pryk, geëet.

Die gange is ook allesbehalwe koud en donker en kamermure is met prentjies, foto’s en gesegdes beplak. Beddens is netjies opgemaak en ʼn Bybel lê ook op of langs elke bedjie. Selfone word ook eers op 14 jaar oud toegelaat en word by die jonges dikwels saans en oor naweke ingeneem.

“Oom, hy’t my boek geleen en dit nog nie teruggegee nie,” hoor ons in die verbygaan.

“Jy is nou mooi groot, jy weet mos hoe om dit te hanteer,” sê Kobus met ʼn kopvryf aan ʼn seun wat lyk of sy nuwe hoërskoolklere nog nie sy laerskoollyf akkommodeer nie.

“Soos met ʼn gewone huisgesin help die oues ook met die jonges, maar jy meet mos hoe dit is. Die oues raak baasspelerig en die kleintjies klik,” sê hy met ʼn knipoog.

In die byna industriële kombuis word reusepotte óf geskrop óf in gekook en twee helder versierde verjaardagkoeke staan reg om later geniet te word.

Ida, die kombuisbestuurder, en haar kookspan gaan maandeliks deur sowat 240 brode, 1 440 eiers, 420 kg vleis, 392 liter melk, 200 kg aartappels en 60 kg suiker om geregte vir meer as 60 kinders op te tower.

Kobus vertel dat dit sowat R8 500 per maand kos om een kind te versorg en dat die staatsubsidie wat die kinderhuis maandeliks ontvang slegs 30% van hul koste dek. Die ander 70% moet hulle self insamel.

Benewens skoolgeld moet die kinderhuis pa staan vir alle ander uitgawes en bied ook vir kinders toegang tot gespesialiseerde hulp, ʼn unieke potensiaal-ontwikkelingsentrum, ʼn opvoedkundige sielkundige en spelterapeut.

“Finansies is maar altyd die grootste uitdaging om die deure oop te hou, maar ons kinders verdien die beste en ons sal ons vingers stomp werk om dit vir hulle te bied.”

Roetine en dissipline is in dié huis kernbeginsels. Liefde is daar in oorvloed, maar rus is ʼn woord wat min hier ken.

“Ons staan soggens vyfuur op en is nie sommer voor halfelf in die bed nie,” vertel Lowisa Smit, wat saam met haar man ouers vir ʼn groep seuns in die kinderhuis is.

“Enige ouers ken die uitdaging van een kind soggens by die deur uitkry, dink by jouself hoe dit is om 13 van hulle betyds hier uit te kry!”

Boek lees en Binnelanders kyk is ook skaars plesiertjies vir dié instaanouers.

“Elke gang het ʼn klein waskamer. Dít het deur die jare ons kinderhuisma’s se terapiespreekkamer geword waar ons saam lag en huil oor ons kinders. Sjoe, ʼn mens is lief vir hulle, maar hulle kan jou moeg maak.”

Sy vertel dat sy daagliks meer by “haar kinders” leer as wat sy vir hulle kan leer, veral wanneer dit kom by vergifnis.

“Jy kan ʼn kind jammer kry oor sy omstandighede voordat hy na die kinderhuis toe kom, maar sodra hy by ons is, hoef jy hom nie meer jammer te kry nie. Hier het hy al die liefde, sorg en geleenthede en voordele as wat baie ander kinders het wat nog by hulle ouers bly.”

Hoewel daar “stiller tye” gedurende vakansies of uitslaapnaweke is, is die kinderhuis wel nooit dolleeg nie. Nie eens op Kersdag nie.

“Vir party kinders is hierdie werklik hulle enigste huis, maar ons wil nie hê dat die term ‘kinderhuis’ soos ʼn litteken vir hulle voel nie. Die skole gebruik ook diskresie om nooit ‘die kinderhuis-kinders’ te roep nie en ons bussies het ook nie ons naam of handelsmerk op nie,” sê Kobus.

Tog glo hy moet daar oop en eerlik met ʼn kind oor sy omstandighede en toekoms gesels word.

Liefde wen by dié kinderhuis. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

In die verlede is kinders dikwels weens finansiële uitdagings tydelik in kinderhuise geplaas, maar hy vertel die meeste gevalle is deesdae trauma-verwant.

“Jy kan jouself indink wat die huislike omstandighede was as ʼn kind deur ʼn hofbevel van sy ouers verwyder is. Kinders word ook dikwels by hul grootouers geplaas en dan word die eise naderhand net te veel.”

Ongeag ʼn kind se agtergrond en ouderdom bly die verwydering en opnemingsproses ʼn geweldig traumatiese een.

“Die omstandighede by die huis kan van watter aard ook al wees, dit bly steeds hulle huis en hulle ouers. Daarom is dit belangrik dat hulle presies verstaan hoekom hulle weggeneem word en wat die toekomsverwagting is. Ons glo nie daarin om hulle in die donker te hou nie.”

Elke kind wat die geleenthede aangryp wat die kinderhuis vir hom aanbied is ook volgens hom ʼn suksesverhaal. “As ons nou moet spog kan ons met trots sê dat ons al talle versorgers, onderwysers en selfs ʼn bekende radio-omroeper die wêreld ingestuur het,” vertel hy breëbors.

“Maar vir ons is dit die grootste riem onder hart as ons kinders tien of 15 jaar nadat hulle die huis verlaat het terugkom om hul eie kinders te wys waar hulle grootgeword het. Dít dien vir ons as bewyse dat ons, ons goed van ons taak gekwyt het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pannies ·

Mag die Here julle onbaatsugtige werk ryklik beloon.
Dankie vir dit wat julle in die kinders inbou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.