Ligloop vir te veel Swart Vrydag-kopies

swart-vrydag-blackfriday

Koop só slim hierdie Swart Vrydag en maak seker jy is nie platsak hierna nie. Foto: Basimmiller/Pixabay.com

Swart Vrydag het nou al goed nes geskop in Suid-Afrika, al is dit oorspronklik op die laaste Vrydag van November net in die VSA gehou om die begin van die Kersinkopieseisoen in te lei. Die reklameveldtogte vir Swart Vrydag het al weke gelede begin om verbruikers se tande vir al die winskopies te slyp, maar dit is belangrik dat verbruikers ook onthou dat Desember en Januarie met al hul uitgawes nog voorlê. Ina Opperman vertel hoe jy kan sorg dat jou beursie nie te plat anderkant uitkom nie. 

Kleinhandelaars en aanlynwinkels staan slaggereed om ʼn deel van jou swaarverdiende geld op te eis op Swart Vrydag. Daar is nou al selfs ʼn Kuber Maandag (Cyber Monday) en verskeie handelaars adverteer nou al hul Swart Naweek-winskopies. Vuisvoos verbruikers glo graag dat hulle ʼn paar rand sal “spaar” deur van die aanbiedings gebruik te maak, maar dit is belangrik dat jy steeds net koop wat jy regtig nodig het en nie net koop omdat koop koop is nie.

Dit is belangrik om te besef dat geen handelaar van sy wins sal prysgee om vir jou winskopies te besorg nie. Swart Vrydag is, net soos Moedersdag en Valentynsdag, ʼn bemarkingsgeleentheid wat deur die handel aangegryp word.

Die oogmerk van Swart Vrydag is, net soos ander spesiale dae, om verbruikers met spesiale aanbiedings na winkels te lok waar hulle geld kan uitgee op meer as net die produkte wat teen spesiale pryse verkoop word. ʼn Mens wonder ook of die pryse regtig so laag is en dit kan jou moeite loon om pryse te vergelyk voordat jy jou sak skud.

In ʼn trae ekonomie waarin verbruikers al hoe meer vir basiese goedere betaal, moet ʼn mens baie versigtig wees voordat jy geld bestee aan Swart Vrydag se spesiale aanbiedinge. Die Nasionale Kredietreguleerder waarsku ook dat mense veral versigtig moet wees vir oorbesteding wanneer hulle goedere op krediet koop.

“Mense moet lig loop vir verkoopsfoefies en Swart Vrydag met ʼn oop kop benader. Moenie impulsief koop nie en moenie dat die vloed advertensies jou in die versoeking lei nie,” sê Mpho Ramapala, bestuurder vir verbruikersopvoeding en kommunikasie by die reguleerder.

Sy waarsku dat Swart Vrydag dalk net kan sorg vir oorbesteding met die feestyd net om die draai, wat jou finansieel kan kniehalter in die nuwe jaar as jy nie versigtig is nie. “Voordat jy jou bankrekening leegmaak, moet jy seker maak dat jy reeds jou noodsaaklikhede vir die maand betaal het, soos jou huislening of huur en vervoerkoste.”

Volgens Ramapala beteken ʼn uitverkoping nie noodwendig dat jy moet koop tot jy omval nie en beslis nie as jy nie daarvoor begroot en belangriker uitgawes het nie. “Jy moet nooit jou Swart Vrydag-uitgawes of feesinkopies befonds deur onnodige lenings en krediet te gebruik en skuld aan te gaan nie.”

Koop só verantwoordelik op Swart Vrydag:

  • As jy iets op ʼn uitverkoping op krediet koop, onthou dat die fooie en rente die winskopie uitkanselleer. Kontant is koning.
  • Moenie geld bestee wat jy nie het nie. As jy nie begroot het vir jou winskopies nie, moet dit nie koop nie.
  • Al het jy ʼn paar rand om te bestee, sorg dat jy ʼn begroting vir die dag het vir hoeveel geld jy kan uitgee en bly by jou begroting.
  • Moenie oorhaastig koop nie. Koop wat jy beplan het en moenie ekstra koop op krediet nie.
  • Beplan versigtig en onthou jou begroting.
  • Maak ʼn lysie van wat jy wil koop sodat jy nie onnodige goed koop nie. As jy dit nie nou nodig het nie, sal jy dit seker nooit nodig kry nie. Moenie tyd en geld mors nie.
  • Hou 2018 in gedagte en hoe lekker dit gaan wees om die nuwe jaar sonder nuwe skuld te begin.
  • Gebruik liewer jou begroting vir Swart Vrydag om skuld af te los.
  • Vergelyk pryse voordat jy koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

A Mac ·

Ek laat my gladnie deur ‘n paar advertensies of swart Vrydag besparings oorrompel vir sogenaemde winskopies nie. Meeste mense gaan tog net goed koop wat hulle nie nodig het nie of om ander mense te beindruk. Dan praat ek nie eers van die skuld waarmee baie gaan sit omdat hulle dit op krediet gekoop het.

John ·

Die benaming waarsku al klaar. Dis ‘n gebruik wat oorgewaai het hierheen… Enige geskenk wat op ‘n uitverkoping gekoop is, is eintlik maar ‘n eina-geskenk. Nee wat!

Ander Annie ·

O neeeee, my senuwees is te broos om in ‘n lang ry te gaan staan vir sogenaamde “specials”. Ek vermy môre al wat winkel is. Ek gaan net die nuus dophou en lag vir diegene wat so baklei vir ‘n trollie……… Sterkte aan diegene wat braaf is vir die stormloop.

Anoniem ·

Skuus maar ek dink die regte woorde is : ” Kersinkopie seisoen in te lei”

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Anoniem

Baie dankie vir jou valkoog!
Die berig is nou gewysig.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.