Luister: Beradingskampe vir geliefdes van oorledenes


Elize Perrin wat die beradingskampe bestuur. Foto: Verskaf

Elize Perrin wat die beradingskampe bestuur. Foto: Verskaf

Ná Elize Perrin se broer in 2012 op sy kleinhoewe buite Brits vermoor is, het sy ʼn beradingskamp op die been gebring wat ondersteuning aan vriende en familie van oorledenes bied.

“Die dag van die begrafnis het ek om my gekyk en besef niemand moet met dié seer deur die lewe gaan nie. Ek het toe begin om die kampe te reël om ʼn plek van ondersteuning vir mense te bied,” het Elize vertel.

Dié kampe is hoofsaaklik vir mense wat geliefdes op onnatuurlike wyse verloor, hetsy weens moord, ongelukke of selfdood. Dit ondersteun ook mense wat slagoffers was van aanvalle of rooftogte. Daar is professionele beraders wat saam met die mense werk.

“Wanneer so iets in iemand se lewe gebeur, is daardie persoon geneig om in ʼn depressie te verval en die seer te onderdruk. Jy is dalk nie meer die ma, broer, suster of vriend wat jy kan wees nie, want jy loop met ’n swaar las,” het sy gesê.

Juis daarom is die kampe se tema “Vind die son” omdat sy daardeur wil hoop skep wat ook in ʼn genesingsproses kan ontwikkel.

Tydens die kampe word temas soos “Wat is trauma?” en “Wat is rou?” hanteer. Elize meen dit is belangrik om te sien waar ’n mens in die rouproses staan, asook om mense se vrae oor geloof en God te hanteer.

Sy bied vanjaar die vierde beradingskamp van 19 tot 21 Maart by Paradeisos-kampterrein in Pretoria aan. Dié kamp geskied oor ʼn langnaweek. Mense wat die kamp bywoon, is dus ʼn volle drie dae in die geselskap van mense wat ondersteuning bied.

Rig navrae aan Elize by [email protected] of 072 600 5809.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel Strydom ·

Hierdie is ons werklike helde en heldinne. Alle Voorspoed en seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.