Luister: Besigheid deur brandvoorkoming


protect-o-burn

Vandag gesels ek met Jaco du Plessis

“Ontleed jou mark en maak kontak met die regte mense. Op hierdie manier sal jou besigheid kan floreer.”

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek woon tans in ʼn klein dorpie in Texas in die VSA saam met my pragtige vrou en twee kinders. As ek dit kan vergelyk met ʼn plek in Suid-Afrika, is dit baie soos die Vrystaat. Ek kom oorspronklik van Riebeeckstad en dit was ʼn fantastiese plek vir kinders om groot te word.

Ná skool het ek die konstruksiebedryf betree waar ek vervoerbande vir die myn gebou het. Persoonlik was dit vir my ʼn diep, donker gat, en net daar het ek ʼn besluit geneem om ʼn verandering in die wêreld te maak en my eie besigheid te begin.

Ek het toe ʼn konstruksiebesigheid begin en was baie geseënd daarmee, veral omdat ek dit later kon verkoop. Met daardie geld kon ek toe ʼn wildsplaas koop, maar ons het ongelukkig alles verloor. Die stuk grond wat ons gekoop het, het ʼn grondeis op gehad; iets wat die vorige boer versuim het om te noem en waarvan ons nie geweet nie. Boonop moes ons baklei teen droogtes en plaasaanvalle, maar die keerpunt het gekom toe ons een van ons kinders in die proses verloor het. Dit was werklik ʼn harde en fisiek uitputtende beroep.

Ons het familie in Secunda besoek met ʼn jong meisie wat tragies  in ʼn motorongeluk doodgebrand het. Ek het myself weer eens bevind waar ek terug was op die plaas toe ek moes totsiens sê aan alles en die hartseer was oorweldigend. Ek het net daar gesit en gebid en die Here gevra om my te help om te keer dat enigiemand ooit weer in ʼn motorongeluk doodbrand.

Vandaar is ek na ʼn vriend toe om te gaan uitvind wat die oorsaak is waarom sekere stowwe brand. Dit het daartoe gelei dat ek aan die Internasionale Brandweerinstituut ingenieurswese gaan studeer het. Die medium wat ek spesifiek ondersoek het, was die soort skuim waarmee ʼn brand vinnig geblus kan word. Ek het toe patentreg gekry op ʼn stelsel wat ek ontwikkel het en op dié manier het ek my onderneming begin, waarna ek toe die wêreldmark betree het

  • Sê gou vir my hoe het die boer die grondeis weggesteek en is daar advies wat jy vir iemand kan gee in verband met so iets?

Toe ons die grond gekoop het, was ons nog baie jonk en naïef. Ons het wel vir die boer gevra of daar enige hangende grondeise was en hy het gesê daar is nie. Ons het hom geglo en nie verder ondersoek gedoen nie – wat ʼn gróót fout was. Ons het een Sondag gesit en van my werkers het vir my gesê daar is mense by die hek wat my wil sien oor die grafte wat op die grond is. Ons het gesê daar is geen grafte op ons grond nie en hulle het my verseker dat daar is en dat hulle my presies sal gaan wys waar. Ek het ingestem dat hulle my gaan wys, maar daarop aangedring dat hulle reguit soontoe moes loop sonder draaie. Hulle het my dadelik gaan wys waar die grafte is en daar en dan het ek besef hulle het ʼn grondeis. Ons het deur die litigasie alleen baie geld verloor. As ek iemand raad kan gee is: Wéét wat aangaan op die grond voordat jy iets koop en doen jou navorsing deeglik.

  • Hoe het julle by jou unieke produk uitgekom?

Ek kan dit basies vergelyk met die beginsel van hoe my vrou ʼn skaapboud in die oond gaarmaak: Sy sny eers die een kant van die skaapboud af en dan die ander kant en sit dit dan in die oond. Eendag vra ek haar waarom het sy die kante van die skaapboud afsny. Sy sê toe want dis hoe haar ma haar geleer het. Dan kuier jy eendag by jou skoonma en jy vra waarom maak sy die skaapboud só gaar en dan sê sy ook want háár ma het dit so gedoen. Laastens kom jy by oumagrootjie en vra haar ook dieselfde vraag en haar antwoord is dat die oondskottel te klein was! Dit is tipies in my bedryf. Dis die norm wat deur al jare gevolg word en iewers moet ʼn mens inkom en sê ‘ek wil ʼn verskil maak’.

  • Waarom het jy hierdie soort besigheid en bedryf aangepak?

Ek het op ʼn punt in my lewe gekom waar ek besluit het ek wil ʼn verskil maak en daar was ʼn bedryf wat slaafs nagevolg word en wat suksesvol was, maar daar was iets wat gekort het. Ek het dit my fokuspunt gemaak om dit so maklik en vinnig as moontlik te maak vir die persoon wat op die toneel is. Ons het geweet ons gaan sukkel en klippe kou, maar dit het toe gewerk en die mark het besef dit is ʼn vinnige proses en dit werk goed.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons uitgangspunt was reg van die begin af om ʼn marksegment deeglik te ontleed. Ons het nie ʼn raadsaal nie, maar ons het wel ʼn oplossingkamer, en ons is ʼn span ouens wat ʼn marksegment identifiseer waar daar ʼn groot probleem is, soos byvoorbeeld ʼn watertekort of swak infrastruktuur. Ons weet dit is die areas waar ons produk nie nodig het om in te kan werk nie, so as ons daardie goed in ʼn spesifieke mark kan identifiseer dan weet ons ons produk kan 100% daar werk. Die laaste stap is om ʼn oplossing deur middel van ons tegnologie te vind wat ons dan aan die kliënte teen lae winskoste aanbied. Dit doen ons deur ʼn toets te doen en fisiek brande te reël om vir die kliënt te kan wys wat ons produk kan doen. Eintlik verkoop die produk homself.

  • Wanneer julle die brand reël, maar dis nie die besluitnemer self wat teenwoordig is nie; hoe maak julle dan?

Al manier waarop ons mense kan oortuig om ons produk te gebruik is om ʼn brand te stig. Ons het al duisende dollar bestee om brande te stig net om te hoor dit was nie die persoon wat die besluit moes maak nie en hulle moet eers met hulle base gaan praat. Só verloor ʼn mens baie geld.

Nou maak ons eers seker dat ons met die regte mense praat vóórdat ons weer al ons geld verbrand. So, as iemand sê hulle is nie die besluitnemers nie, sê ons vir hulle ons wil die persoon sien wat wel die besluite maak.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek het boerebeginsels op ʼn internasionale speelveld gaan toepas. In Suid-Afrika skud jy blad met iemand en jou woord is jou woord, maar in Amerika werk dit nie so nie. Ek wil vir enigiemand daarbuite sê: Jou woord is jou eer en jou naam word gekoppel aan jou besigheid en as jou naam sleg is gaan jou besigheid sleg wees.

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek kan nie terugdraai nie. As ek klaar die kat goed uit die boom gekyk en my opsies oorweeg het en ek het besluit om tot aksie oor te gaan, sal ek nie weer van plan verander nie. Een van die groot argumente in my huis is dat as iemand iets tuis vergeet het, ek nie gaan terugdraai nie. My ander swakheid is koeksisters!.

  • Wat is die een gewoonte wat jy wens jy gehad het?

Ek sal baie graag tyd wil hê om ʼn boek van voor tot agter te kan deurlees, maar ek kry net nie die kans om ʼn boek klaar te lees nie.

  • Sonder watter sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Apple. Ek is ʼn Apple–man. Ek kan nie daarsonder nie.

  • Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn móét-lees?

Die Bybel. Volgens my is dit belangrik in enige besigheid en dit sal vir jou ook lig op elke vraag en antwoord werp. Ook Rick Warren se Purpose-Driven Life en Richard Branson se outobiografie.

  • Wie is die persoon wat vir jou ʼn inspirasie is en hoekom?

Petrus in die Bybel. Ons probeer almal baie hard in die lewe en ons almal val net so hard en dan word ons net weer gered deur Jesus Christus. Ek sien myself dus nogal as ʼn Petrus; ons is ʼn rots en ons probeer ons bes, ons val en ons staan weer op. In die hedendaagse tyd sal ek sê my pa, want hy het van my ʼn man gemaak en dit was nie altyd maklik nie. Hy het my deur alles in my lewe ondersteun en was altyd daar vir my.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Believe you can and you’re halfway there”, die woorde van Theodore Roosevelt.

  • Met alles wat jy nou weet en as jy môre kan oor begin – watter soort onderneming sou dit wees?

Ek dink as ek dit moet opsom sal ek alles dieselfde wil hê as wat dit was, want dit het my gevorm in die mens wat ek is en waar ek vandag is. En as ek moet kies dink ek wel ek sou graag ʼn kommersiële helikoptervlieënier wou wees.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

E-pos: [email protected] of www.protectoburn.com.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Oom Ekonoom

Die feit dat die man geemmigreer het is n groot verlies vir ons land, en ek wens die huidige regering het die insig gehad om te besef watse skade hulle aan hulself en eie nageslag doen deur om die land so onaantreklik te maak dat innoverende entrepreneurs soos hierdie die land verlaat. Ons het mense soos hy nodig, hulle is die ware helde van n land, die mense wat werk, welvaart en n beter toekoms skep. Ek wens ook ons skole het meer klem gele op entrepreneurskap, tegnologie, sodat ons mense soos hy kan kweek.