Luister: Foto’s vir droogtehulp samel R254 750 in


Die mens wat die inisiatief agter die veiling van die droogtefoto's was. Foto: Cyril Blackburn

Die mans wat die inisiatief agter die veiling van die droogtefoto’s was. Foto: Cyril Blackburn

ʼn Bedrag van R254 750 is Donderdag tydens ʼn veiling van foto’s van droogtegebiede in Suid-Afrika deur die vakbond Solidariteit ingesamel vir droogtehulp.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hy het dié projek geïnisieer ná hy in 2015 deur droogtegebiede in Suid-Afrika gereis het. “Oral waar ek gery het, was dit net stof. Ek ken iemand wat haar enigste inkomste verdien deur ʼn stuk grond wat sy van familie geërf het. Nou gaan sy dit verloor met die droogte,” het hy vertel.

Die geld wat tydens die veiling ingesamel is, gaan aan die landbou-organisasie TLU SA geskenk word om aan boere hulp te verskaf. Daar is 21 van die 52 oorspronklike foto’s opgeveil. ʼn Enkele foto deur ʼn anonieme koper is vir R50 000 verkoop.

Hermann sê die droogte dwing Suid-Afrikaners om hande te neem en projekte van stapel te stuur wat droogteverligting gaan bring. “Ons het besluit om ʼn unieke fotoreeks saam te stel omdat dit die ergste droogte sedert 1904 is. Ons word gedwing tot gebed.”

Volgens ʼn droogteverslag wat deur die vakbond uitgereik is, benodig boere droogtehulp ter waarde van R20 miljard. “Die impak van die droogte op die landbousektor sal uiteraard die aanplant en verbouing van gewasse, waarvan baie as stapelvoedsel dien, drasties beïnvloed en derhalwe in die vorm van verhoogde voedselpryse tot uiting kom,” het die verslag gelui.

Die vier fotograwe, Reint Dykema, Riaan Roux, Willem de Lange en Hendrik van der Merwe, het foto’s van droogtegeteisterde gebiede soos Noordwes, Wes-Vrystaat en die Oos-Vrystaat geneem tydens verskeie reistogte.

“Elke druppel tel wat tot die projek bygedra is. Die fokus van die projek was aanvanklik op die bewusmaking van die droogte. Toe ons egter die foto’s sien, het ons geweet dis ʼn geleentheid om geld in te samel vir mense wat onder die droogte gebuk gaan,” het Reint Dykema gesê.

Paul Kruger, ʼn predikant wat die veiling geopen het, sê die droogte sál gebreek word omdat Suid-Afrikaners hulle hulp van God ontvang. “Ons weet waar ons hulp vandaan kom. En boere wat onder die droogte gebuk gaan, moet weet God het ʼn diep deernis met hulle; dit staan so in Jeremia.”

Hermann sê hy is verheug oor almal se deelname aan die projek. “Dit was verblydend om te sien hoeveel mense bereid was om hierdie projek te steun en by te dra om die uitwerking daarvan op boere, wat die winkelrakke moet vol hou, te verlaag. Solidariteit wil graag almal bedank wat ’n bydrae gelewer het om van die veiling ’n sukses te maak.”

Daar is steeds ʼn paar oorblywende foto’s waarop aanbiedinge gemaak kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daleen Prinsloo ·

wie is in die foto? Is die tweede van die kant af, nie dalk Henk van de Graaf van die TLUSA nie?

alida ·

MOOI SO SOLIDARITEIT – HOU SO AAN. PRYS DIE HERE DAARVOOR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.