Luister:  Lidi wil maar net bly ‘mooi maak’

Lidi-de-waal-_-4.jpg

Foto: Lidi de Waal – Facebook

Vroegoggende sal jy haar op ʼn klein kusdorpie kry waar sy langs die strand stap met haar hond, Lyla, en twee katte, Bombas en Leonard Cohen. Ja, haar katte stap saam, elke oggend, oor die duine, langs die see. Haar dinktyd.

Dié vrou is Lidi de Waal. ’n Kunstenares wat op ʼn baie besondere wyse haar skryfwerk en skilderkuns by mekaar laat uitkom. Haar prente, haar skryfwerk, haar menswees raak jou aan en bring emosie na vore. Daarvan kan soveel “Lidi-aanhangers” getuig.

Lidi was nog altyd besig om te skep. Vir baie jare het sy haar besig gehou met beeldhouwerk. Dít het sy ook met soveel passie gedoen. Elke keer dat sy een van haar nuwe skeppings uit die oond gehaal het, het sy die beeld ʼn soen gegee en in ons ou wêreld verwelkom.

Nadat sy ook die moeilike en seer deel van die lewe ervaar het, het die kunstenaar Hennie Niemann haar aangemoedig om te begin skilder. En soos die spreekwoord sê, die res is geskiedenis.

Hennie beskryf Lidi in haar boek, Die kleur van woorde, soos volg:  “Daar is net een Lidi. Dis net sy wat hierdie kostelike skepsels en skryfsels dag vir dag kan voortbring. Sy verwoord vir veral vroue hoe hulle werklik voel en wat hulle graag sou wou sê.”

Lidi skep net dit wat sy self aan haar lyf voel. “Ek dink dis daardie eerlikheid wat mense waardeer. En ek skryf maar oor universele goeters wat elke vrou voel.” Eerlikheid in haar werk is belangrik: “Dit gaan vir my oor ʼn absolute eerlikheid, dit wat jy binne jou het, in jou kuns kan uitbring. Ek kan nie skryf oor goed wat ek nie aan my lyf gevoel het nie.”

Lidi_De-Waal-_-Uitstalling.jpeg

Amanda van Jaarsveld, Lidi en Annelize Brits tydens die “Bêreboksie vol vlerke” vertoning.

Sy het ook al drie boeke die lig laat sien. Hier ontmoet haar skryf- en kunswerk. Dit word een. Sy werk nie volgens ʼn formule nie. Soms kom die skryfwerk eerste en soms kom die skildery eerste.

Onlangs het die bekroonde musikant, Lizanne Barnard, Lidi se kuns ʼn stappie verder gevoer en van haar werke getoonset. Dit kan gehoor word op Lizanne se CD, Gevlerktes. Daaruit is die produksie, Bêreboksie vol vlerke, geskep. Saam met Lizanne op die verhoog is die musikante Leon Ecroignard, Pyjama Shark en Thys van Deventer. Die aktrise, Elize Cawood, vertel die stories. So kry Lidi se werk vlerke en word uitgebeeld op ʼn verhoog met klank. Dit was ook die eerste keer dat Lidi die produksie gesien het: “Vir my was dit so oorweldigend. Dit het baie na aan my hart gesny. Ek het dit ongelooflik waardeer, en ja, ʼn mens voel so klein as jy sien wat hulle met jou werk gedoen het.”

En die toekoms? “Ek het al ʼn lang ruk terug opgehou om vreeslik vooruit te beplan.” Met al die geleenthede wat oor haar pad kom, wil sy maar net Lidi bly, sy wil net plein en plat op die aarde bly. Sy wil net steeds dinge mooi maak. Dis vir haar lekker om terug te staan en te weet dis mooi.

En mooi maak sy …

toemaar
sterkte
ek weet hoe jy voel
maar dis nie altyd waar nie
want g’n een mens weet presies
hoe voel ʼn ander een se voel nie
my blues is dalk blouer as joune
my gat dieper
my opdraand steiler
jou woede witwarmer as myne
jou seer vir jou totaal ondraaglik
terwyl ons ander dieselfde dimensie seer
met lydsaamheid gedra kry
maar mens wil tog bly troos
en getroos word
dan is ʼn kloppie op die skouer
of ʼn handvol woorde
al wat ons het om te offer
al bly woorde maar skrapse pleisters
vir die einas so diep in mens se brose binneste
– Lidi de Waal

Jy kan saam met Lidi gaan kuier op haar Facebook– of webblad. Daar kan ook saam met Lidi en Lizanne Barnard gekuier word by Innibos, Woorde innituin, Vrydag 29 Junie. Die produksie, Bêreboksie vol vlerke, sal ook op die verhoog wees tydens Aardklop in Potchefstroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.