Luister: Moet nie oorhaastige besluite neem nie


Theo-van-dan-bergIn vervaardiging moet jy nie oorhaastige besluite neem nie, want dit sal jou duur te staan kom, sê Theo van den Berg, stigter van Dala Wood.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek is in Newcastle gebore en het daar grootgeword, toe na skool na Johannesburg verhuis en het my eie besigheid op 21 begin. Ek is getroud en het twee klein kinders.

  • Waarom het jy hierdie soort besigheid en industrie aangepak?

Baie mense het my al gevra, maar ek het heel per ongeluk daarin beland. Ek het vir iemand gewerk en gesien daar is ʼn groot leemte in die mark, spesifiek vir wat ek kan doen, en ek het dit net begin doen; dit was nie eintlik ʼn groot plan of droom nie.

  • Jy praat van daardie ‘leemte’ – wat het jy gesien wat daardie ooglopende fase was?

Die groot fabrieke het almal voorraad gehad van kaste en goed, maar nie die werksblaaie nie omdat hulle gereeld in grootte verander en mense dan baie lank daarvoor moes wag. Net daar het ek besluit ek kan dit maak en so het ek begin en die besigheid het net van daar af begin groei.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons werk saam met die handelaars, so ons steun swaar op word of mouth-bemarking. Ons het onlangs ook met die sosiale media begin en dit begin nou werk.

  • Jy praat van die handelaar. Is dit ʼn doodgewone winkel wat meubels verkoop?

Die handelaar is maar die tussenganger tussen die fabriek en die eindgebruiker, so hulle gaan doen die opmetings en ons maak dit.

  • Watter sosiale media gebruik julle?

Facebook – veral Facebook-groepe in sekere areas. Ons gaan kyk maar waar is die grootste huise en die meeste besighede.

  • Wie is julle grootste kompetisie in die mark?

China – hulle voer groot hoeveelheid produkte in van China want dis baie goedkoop, maar die kwaliteit is nie dieselfde nie. Tog koop baie mense dit net oor die laer prys. Omdat hulle so baie op een slag uitvoer het hulle net een kleur en grootte en dis waar ons anders is: ons gee die kliënt ʼn opsie om die kleur of die grootte te kan verander en dis hoe ons die kliënte kry want dan sien hulle ook ons het ʼn kwaliteitproduk.

  • Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek het saam met ʼn ander fabriek in besigheid gegaan en die grootste fout wat ek gemaak het was om al my goed te verkoop en my masjinerie daarheen te neem. Toe die fabriek platval, het ek van my masjiene verloor, maar gelukkig nie almal nie en kon toe darem oor begin.  Ek was bietjie te vinnig met die besluit en het te gou al my goed verkoop. Dit was loshande my grootste fout.

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek is baie presies. Ek sal nie ʼn pryslys uitstuur as ek hom nie vier keer deurgekyk het nie.

  • Wat is tans die grootste pyn in jou besigheid?

Kontantvloei – dit neem ons drie weke om die produk af te lewer en dan is dit die gewag vir die kontant van die handelaar. Sommige mense betaal darem taamlik vinnig, maar ander neem tot drie weke om te betaal.  Dit werk vir my beter om ʼn kontantbesigheid te bedryf.

  • Sonder watter sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Vir die besigheid is finansiële sagteware die belangrikste –  ons gebruik Pastel.

  • Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn móét-lees?

Robert Kiyosaki se Rich Dad Poor Dad. Ek reken elke persoon moet ook ʼn boek lees oor sy gunsteling sport, want alles in die lewe gaan nie net altyd net oor besigheid nie. So ek lees alles oor gholf en gholfetiket.

  • Wie is die persoon wat vir jou ʼn inspirasie is en hoekom?

My pa.Hy was ʼn harde werker en het alles altyd op ʼn eerbare manier gedoen en as mens dít kan regkry het jy iets bereik wat niemand ooit by jou kan wegneem nie.

  • Wat is jou gunsteling aanhaling?

“Slowly, slowly catch the monkey”As jy ʼn aap wil vang gooi jy sout op die grond, maak ʼn gat in die boom en gooi die res van die sout daarin. As jy die gat net groot genoeg maak sal die aap sy hand indruk en as hy sy vuis vol sout maak kan sy hand nie weer uit nie, dit vat ʼn rukkie maar jy gaan hom wel vang.” As iets te vinnig kom kan dit vinnig weggevat word, maar as jy hard werk sal jy die vrugte pluk.

  • Met alles wat jy nou weet en as jy môre weer kan oorbegin; watse tipe besigheid sou dit wees?

Ek sal in ʼn tegniese rigting ingaan waar ek goed kan koop en verkoop en nie noodwendig vervaardig nie. Daar is baie kopseer in vervaardiging.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Facebook is maar die plek om my te gaan soek.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.