Luister: ʼn Reis om ander se lewe te verander


Wian Smith en Elizma Mouton tydens 'n spesiale projek vir Kansa (Foto: Facebook)

Wian Smith en Elizma Mouton tydens ‘n spesiale projek vir Kansa (Foto: Facebook)

Los alle vooropgestelde idees by die huis: SA Bachelor & Bachelorette gaan allermins oor skoonheid. Dié inisiatief ploeg juis terug in gemeenskappe en in die lewe van kankerpasiënte.

Wian Smith en Elizma Mouton, albei semifinaliste van dié unieke reis, het onlangs met Maroela Media kom gesels oor die inisiatief en die doel daaragter.

Dié twee semifinaliste se beslissing was finaal: Skoonheid het gʼn sê in dié reis nie, en dit gaan alles oor die mate waartoe deelnemers mense kan aanraak, hul lewe verander en ondersteun.

“Ons fokus veral op kanker, spesifiek kinders met kanker. Dit is vir ons belangrik om betrokke te raak. Verder leer ons gemeenskappe oor verdraagsaamheid, waardering en vriendelikheid. Jy het nie veel nodig om vir dié mense hierdie vaardighede te leer nie,” het Mouton vertel.

Smith sê hulle moet dikwels bontstaan om te verduidelik dat dié reis eerder in mense as hulle skoonheid belangstel. “Dis nie die normale Bachelors wat op die televisie gebeeldsaai word nie. Ons soek nie metgeselle nie – ons wil ʼn verskil maak. Dis ʼn liefdadigheidsplatform wat ons wil gebruik om mense se lewe te verander.”

Wian Smith en Elizma Mouton tydens 'n spesiale projek vir Kansa (Foto: Facebook)

Wian Smith en Elizma Mouton tydens ‘n spesiale projek vir Kansa (Foto: Facebook)

Die semifinaliste het elke maand spesifieke doelwitte, almal met betrekking tot liefdadigheid, wat hulle bereik. “Ons doen byvoorbeeld baie goed vir Kansa. Ons het nou die dag ʼn uitreik onderneem waartydens ons ʼn vierjarige meisietjie met kanker dieretuin toe gevat het om haar droom waar te maak.

“Dit was vir ons belangrik om te weet dat die projekte wat ons aanpak, ʼn daadwerklike verskil sal maak. In die afgelope drie jaar was ek so gefokus daarop om ʼn besigheid van die grond af op te bou, dat alles rondom dit begin wentel het. Hierdie projek was my geleentheid om by mense betrokke te raak,” het Smith gesê.

Mouton sê talle van haar familielede het ook al ʼn kankerstryd verloor, en daarom lê dit haar na aan die hart om saam met Kansa te werk. “Ek het self ook familielede wat kanker gehad het aan die dood afgestaan. Met dié reis kan ek teruggee aan ander en ʼn verskil maak aan diegene sonder dieselfde ondersteuningstelsel as wat ek het.”

Wian Smith en Elizma Mouton (Foto: Facebook)

Wian Smith en Elizma Mouton (Foto: Facebook)

Die duo het onder meer al geldinsamelings vir Kansa se TLC-program gedoen, ʼn uitreik na die dieretuin vir ʼn kankerpasiënt, vier vroue wat kanker oorleef het ʼn fotosessie gegee en hulle by ʼn spa bederf en dan ander geleenthede gehou waartydens geld vir Kansa ingesamel is.

“Dit is vir ons ʼn voorreg omdat ons in huise grootgeword het waar ons alles gekry het. Ons wil dus dinge vir mense gee wat hulle nie noodwendig het nie; spesifiek dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Dis belangrik om te weet wat regtig in die wêreld aangaan en dan minderbevoorregtes se behoeftes probeer aanspreek,” het hulle bygevoeg.

Wenners van die SA Bachelor & Bachelorette word aangewys deur SMS-stemme en hulle eie projekte. Wenners sal verantwoordelik gehou word om hulle projekte voort te sit, en voortdurend ʼn verskil in die gemeenskap te probeer maak.

Vir meer inligting, besoek die Bachelor-webwerf.

Besoek ook Wian Smith en Elizma Mouton se Facebook-blad.

Om vir die twee op hulle reis te stem, SMS die woorde “Wian” of “Elizma” na 35959.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Ja, goeie werk wat julle doen en dink ook aan dié wat agterbly. Ongelukkig het een van Kansa by my, my vrou en suster van vrou opgedaag en aan my vrou (breinkanker) in fyn besonderhede vertel hoe sy sal doodgaan. Aan my is ook vertel (voor my vrou en haar suster) dat a.g.v. die breinkanker dat sy naby haar einde ook ‘n totale persoonsverandering sal ondergaan en dit ‘n mens sal wees wat ek nie sal herken. Dank God dat laasgenoemde nie gebeur het. Ek kon met die hulp van Bo omsien na haar tot haar laaste oggend langs my aangebreek het. Ek is egter uiters negatief teenoor Kansa met hierdie onnodige gebeure.
Dit sal ook opbeurend wees om om te gee vir ons wat oorbly ná die dood van ‘n geliefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.