Luister: Nog fondse nodig om driejarige se lewe te red


Wikus Olivier, Ilona Geldenhuys en Frank Pretorius (Foto: Maroela Media)

Wikus Olivier, Ilona Geldenhuys en Frank Pretorius in Pretoria (Foto: Maroela Media)

Weldoeners van dwarsoor die land het reeds hul harte en beursies vir Darius en Ilona Geldenhuys van Tzaneen in Limpopo oopgemaak, maar die gesin het nog nie genoeg geld ingesamel om hul driejarige dogtertjie se lewe te red nie.

Die Geldenhuys-gesin het slegs ʼn paar dae oor om nog meer as R2 miljoen in te samel sodat Imke spesiale kankerbehandeling by die Memorial Sloan Kettering-kankersentrum in New York kan kry.

Die gesin het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hoe hul lewe handomkeer verander het nadat Imke in Februarie vanjaar met hoërisiko-neuroblastoom gediagnoseer is.

Neuroblastoom is ʼn gewas wat hoofsaaklik voorkom by kinders jonger as vyf. Die gewas groei op hul niere en versprei na ander weefsel in die liggaam.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Ilona het Maandagoggend vertel die gesin is aangedaan oor weldoeners se skenkings. “Ons het in so ʼn kort tydjie meer as R5 miljoen ingesamel. Vir ander belangrike kwessies sukkel mens dikwels om tot R100 000 in te samel, maar mense van dwarsoor die land het net ingespring om ons te help,” het sy gesê.

Die gesin het egter nog meer as R2 miljoen nodig sodat Imke die spesiale behandeling in New York kan kry. Die behandeling, immunoterapie, behels behandeling waartydens die liggaam se eie immuunstelsel versterk word om teen die kanker te baklei.

“Dié soort behandeling is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie en dit is onbekostigbaar om die behandeling hierheen te bring. Ons het baie navorsing gedoen om te sien waar sy die grootste kanse om oorlewing gaan hê en dit is hoe ons op die Memorial Sloan Kettering-kankersentrum afgekom het,” het Ilona gesê.

Wikus Olivier en Frank Pretorius, die duo wat met hul fietse gaan ry van Pretoria na Tzaneen (Foto: Maroela Media)

Wikus Olivier en Frank Pretorius, die duo wat met hul fietse gaan ry van Pretoria na Tzaneen (Foto: Maroela Media)

Verskeie projekte word landswyd gehou om nou fondse vir dié operasie in te samel.

Die organisasie DebtSafe het Maandagoggend ook op hul fietse gespring om die pad tussen Pretoria en Tzaneen aan te durf om fondse langs die pad in te samel.

“As jy dink aan al die pyn wat klein Imke moet verduur, is die bietjie spierpyn wat ons gaan hê deur te trap, niks nie,” het Wikus Olivier, wat saam met Frank Pretorius ry, gesê. “Ons wil almal nooi om haar te help en iets te gee. Die roete is ook simbolies, want dit simboliseer haar laaste reis tussen Pretoria en Tzaneen voordat ons glo sy gesond gaan word.”

Vir meer inligting, besoek Imke se Facebook-blad. Jy kan ook kontak maak met Darius deur hom te bel by 076 618 8058 of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Besoek ook die Gebede vir Imke Facebook-blad of besoek Curls for Imke vir meer inligting oor skenkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gee om ·

Ek daag enige persoon om my aanbod te verbeter van R500-00

Gee om ·

ig. Dit is baie goed so dit gaan vir n baie goeie doel wonder waar is al die ander mense wat altyd kommetaar lewer

Janneman ·

Gee om, dankie en ek stem saam met jou. Ons mense is gou om te kritiseer maar huiwerig om n bydrae te maak waar dit saak maak. Kom nou mense, hoe kan ons hierdie kindjie versaak!

Janneman ·

Darius en Illona

Ek betaal more oggend my geldtjie in.

Sterkte, ek dink aanm en bid vir julle.

Gee om ·

Ek se baie dankie vir julle almal dit gaan vir n goeie doel sterkte met die familie mag die HERE julle seen

Daan ·

Moenie my verkeerd verstaan nie, maar op wie is die vertrou geplaas vir genesing? Daar is net een wat mense kan gesond maak en dit is die Here. Hoekom gaan ons almal nie in gebed en bid dat die Here hier ingryp en die kind heeltemal genees nie.
Daar kan honderd minjoen Rand ingesamel word en as die nie die Here se wil is nie, sal die kind nie herstel nie. Kom ons vra die Here om die genesing te gee en eer Hom daarna en verkondig dat Hy die genesing gedoen het. Geen mens bestaan wat die dood kan keer nie.

M.T ·

Ek stem 100% saam met jou Daan. Daar is soveel mense wat nie n geldelike bydrae kan lewer nie, maar ALMAL het die vermoë om te bid! Wonderwerke gebeur steeds! Sterkte klein Imke! Ek glo en vertrou dat God jou ten volle sal genees!

kanker survivor ·

mense wat nog nooit kanker gehad het of daarmee te doen gehad het nie, sal nie kan saam praat nie. God se genesing le ook in die medisyne wat hy toegelaat het om vir mense te gee. Gee die dogtertjie n regverdige kans, Ja God is in beheer, maar hy gee vir haar n kans om tog te probeer om haar lewe te red. Ek hoop dat die nodige fondse ingesamel kan word vir die gesin.
Kanker survivor

Denise ·

Daan ek stem volkome saam met jou God moet ten alle tye die Hoofsaak wees in elkeen van ons lewe elke dag wat ookal gebeur !!!! Sterkte aan die familie!!!!

Carla ·

Daan, M.T, Denise…

Kan ek net vir julle almal sê dat ek hoop julle op Facebook either die Curls for Imke of Darius/Ilona se page volg. Natuurlik is als in God se hande en as julle hulle volg sal julle sien dat hulle nie vir een keer God die skuld gegee het of van Hom weg dwaal nie. Inteendeel, hul geloof in Hom versterk elke dag.

In die Bybel staan ook dat jy enigiets van God kan vra want as jy dit glo sal Hy dit vir jou gee…as dit Sy wil is…maar mens kan nie net terug sit en nie jou kant bring nie. Nou hulle “kant bring” is om die bes moontlike opsie vir Imke te gaan soek het vir behandeling wat hulle in Amerika gekry het. Ek glo dat hulle weet dat al die insamelings nutteloos sal wees as hulle nie in God glo nie.

Doen julself die guns en gaan volg hulle op Facebook…eks seker julle sal sien dat julle opmerkings heeltemal onnodig was aangesien hierdie mense getuig van geloof in ons God.

Madie Truter ·

Carla, ek het glad nie gesê dat dit verkeerd is om die geld in te samel nie, ek volg hulle storie al van die begin af en het ook hulle fb blad gelike, al wat ek met my stelling probeer sê het is dat daar baie mense is wat graag n geldelike bydrae sou wou maak (ek inkluis) maar dat dit nie finansieel vir almal moontlik is nie, maar dat almal die vermoë het om te bid en te vra vir God se genade.

Ek hoop van harte dat hulle genoeg geld kan insamel om Imke se lewe te red.

Jammer as dit geklink het of ek bedoel dat hulle nie hul bes moet doen om haar lewe te red nie. Dis glad nie my bedoeling gewees nie :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.