Luister: Registreer nou vir Afrikaanse Onderwyserkongres


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Afrikaanse onderwysers kan nou registreer vir ʼn jaarlikse kongres wat fokus op die bevordering van onderwysers se professionele ontwikkeling, met ʼn spesifieke fokus op Afrikaans Huistaal en Wiskunde.

Dié kongres, wat vanjaar vir die vyfde keer aangebied word, bied meer as 80 sessies oor drie dae vir die vakinhoud van Wiskunde (hoër- en laerskool) en Afrikaans Huistaal (hoër- en laerskool), insluitend sessies oor pedagogiek en metodiek, leierskap en dissipline.

Hugo Vermeulen, hoof van Solidariteit Helpende Hand Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen dié inisiatief is noodsaaklike ondersteuning vir onderwys in Afrikaans. “Met die toenemende druk op Afrikaanse skole in Suid-Afrika, sal self-doen inisiatiewe soos hierdie al belangriker word.”

Volgens hom fokus die SOS op meer as net Afrikaans Huistaal en Wiskunde. “Die SOS fokus ook op die toepassing van tegnologie in die klaskamer en die gebruik van opvoedkundige programmatuur om onderwysers se klasaanbiedings te komplimenteer,” het hy verduidelik.

Die SOS-kongres is ook ʼn trekpleister vir kenners van regoor die wêreld. Kundiges soos Mo Hendon, ʼn wiskundedosent aan die Universiteit van Georgia in VSA, prof. Gerrit Stols en dr. Danie Brink sal die wiskunde-onderwysers toespreek.

Prof. Hans du Plessis en dr. Estelle Kruger sal onderskeidelik by Buffelspoort en Bellville die sprekers wees tydens die sessies oor taalonderwys vir Afrikaans Huistaal.

Ander bekende sprekers sluit in prof. Irma Eloff van die Universiteit van Pretoria, dr. Jeanette de Klerk-Luttig van die Universiteit Stellenbosch, Louis van der Watt van Atterbury Properties, dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting, Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en Susan Lombaard, besturende direkteur van Maroela Media.

Die eerste kongres word in die Noordwes-provinsie aangebied by die ATKV Buffelspoort-vakansieoord tussen 27 en 29 Junie en die Wes-Kaapse kongres by die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool in Bellville tussen 4 en 6 Julie.

Die koste vir die kongres beloop R1 100 per lid en R1 300 vir nie-lede. Dit sluit middagete en teetydverversings in. Aandete en verblyf beloop R200 en R750 onderskeidelik per persoon per dag.

Die sluitingsdatum vir registrasie is 8 Junie vir Buffelspoort en 13 Junie vir Bellville. Laai die registrasievorms by die SOS-webwerf af, en stuur dit aan [email protected].

Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde Onderwysers (VAW) en die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) is vanjaar aan die stuur van die kongres.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cobus ·

Kan iemand my asb inlig; hoekom Afrikaans-Huis taal en nie Afrikaans- Onderrig nie? Is dit ‘n slenter om AFRIKAANS in ‘n ander rigting te dwing?

JC ·

Ek deel jou sentimente hieroor Cobus- Afrikaans Huistaal is ‘n interessante benaming, maar sover dit my betref is enigiets wat Afrikaans is, of dit bevorder, awesome! Hul moet probeer om ook GROOT ASSEBLIEF ander Afrikaanses te betrek hierby asseblief!Die Taal kan nie floreer en dinamies wees voordat alle Afrikaanses betrek word nie!! Asseblief!

JC ·

Ek neem aan miskien is dit so omdat Afrikaanse vaardighede by die ouerhuis begin en is dit seker nie opsetlik so benoem nie? Hopelik begin AFRIKAANS NIE by die kombuis nie! maar by die huis, in die Howe, in die klaskamer, in die lesinglokaal, in die teater en in die laboratorium!! Sommer orals!

uhm ·

Seker omdat daar eerste addisionele taal en tweede addisionele taal ook is wat ook as afrikaans is maar nie noodwendig deur afrikaans sprekendes gepraat word nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Rosa

Dit wil voorkom of daar soms ‘n tegniese fout insluip met foto’s wat nie aan die regte berig koppel nie. Kan jy ons asseblief by [email protected] laat weet of jy dit op die app of direk op die webwerf verkeerd gesien het, en of jy jou selfoon of rekenaar gebruik het om die webwerf te besoek? Jammer daaroor!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.