[Luister] ‘STROOP’: ʼn eerlike blik op renosterstropery

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

Bonné de Bod neem nog ’n misdaadtoneel waar. Foto: Verskaf.

ʼn Nuwe dokumentêre rolprent, STROOP, bied ʼn ongesensureerde blik op die renosterstropingkrisis in Suid-Afrika. Bonné de Bod, bekende 50/50-aanbieder, onderneem in dié fliek verskeie besoeke na Suid-Afrika se nasionale parke, wildreservate, plase, hospitale en selfs na Asië om die skandaal oop te vlek op soek na oplossings.

De Bod, in samewerking met die bekroonde fliekvervaardiger Susan Scott, sê dié rolprent gaan vir eens en altyd ʼn realistiese blik op die renosterstropingkrisis bied. “Ons is so passievol oor die projek, ons stuur selfs ʼn soektog na renosterhoring in Asië van stapel, en dit doen ons sonder ʼn gefiltreerde bril. Ongelukkig het uitsaaiers die kykers en adverteerders wat hulle tevrede moet stel. Ek is al soveel keer vertel dat die publiek en die gehore daar buite nie meer wil weet van die renostersituasie in ons land nie, en dit is bloot nie reg nie.”

STROOP is moontlik gemaak danksy ʼn skarefinansieringsveldtog waardeur genoeg geld verskaf is om tonele oor die hele Suid-Afrika en selfs in Asië te verfilm.

“Dit is ʼn ware passieprojek. Ek is ongelooflik bevoorreg om tyd te kon deurbring saam met veldwagters in die voorste linies in die wildtuin asook veeartse wat rekonstruktiewe chirurgie toepas om die renosters te red wanneer hulle wel van hul horings gestroop is.”

Kykers onderneem ʼn emosionele reis wat tot skokfeite lei. De Bod, wat ook al bekroon is vir haar werk as joernalis, sê kykers sien presies hoe die renosters gestroop word, hoe dokters rekonstruktiewe chirurgie toepas om hulle te probeer red, en selfs wat met die horing gemaak word.

Die span moes verskeie kere met versteekte kameras werk, veral in Asië waar hulle regstreeks die horing en die poeier daarvan tydens ʼn onderhoud met ʼn aankoper kon sien. “Hoe kan ons verwag dat ons veldwagters, vlieëniers, veeartse, forensiese deskundiges en aanklaers toegewyd moet wees en daagliks hierdie stryd veg, maar ons is moeg vir die renosterstorie? Dit mag mos nie so wees nie!”

Kykers begryp ook baie duidelik waarvoor die horing eindelik gebruik word. “Baie ander ondernemings probeer die gestroopte horing opspoor. In dié fliek gaan kyk ons presies na die storie agter die storie, een wat vertel móét word.”

Die fliek is tans in die redigeringsfase en die publiek word genader om harte en beursies vir die projek oop te maak.

Besoek STROOP se Facebook-blad of webwerf vir inligting hoe om finansieel betrokke te raak by die projek.

Lees al die vorige berigte oor STROOP – die film op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Justa ·

Suid-Afrika moet wakker skrik. Agv stroping, jag, menslike oorbevolking, vergiftiging ens ens gaan daar oor n paar jaar niks van SA en Afrika se wild oor wees nie. Die publiek moet begin om hulle stemme dik te maak teenoor al die vergrype. Die regering stel nie belang in bewaring nie. As dit nie was vir die publiek se teenkanting nie was Sylvester nou dood. So elkeen kan n verskil maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.