Luister: ‘Talentwerf’ skep werksgeleenthede vir vryskutters

Solidariteit Helpende Hand het die nood raakgesien van vele bekwame mense wat geen opsie gegun word om te werk nie, al wil hulle.

Terwyl die Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfer daagliks styg, loop klein dorpe leeg en groot maatskappye skaal hul besighede of takke af om met minder mense oor die weg te kom.

Volgens René du Preez, projekorganiseerder by Helpende Hand se Loopbaansentrum, is die Talentwerf-webblad van stapel gestuur in ʼn poging om ʼn platform te skep om vryskutters die geleentheid te gee om met werkgewers te skakel, ongeag die afstand of omstandighede.

“Dit skep onder andere vir die tuisbly-ma, gestremde volwassene en dié wat ver van werksplekke op die platteland woon ʼn nuwe inkomstestroom deur middel van tegnologie,” het Du Preez gesê.

“Die webblad gaan ook poog om met buitelandse entrepreneurs en maatskappye te skakel om die groeiende voorwaardelike werkersmark verder aan te wakker. Wêreldwye navorsing toon dat 40% werkers nou vryskutwerk doen. Daar is ook menige internasionale webblaaie of platforms waarop vryskutters kan werk, waar miljoene vryskutters reeds werk.”

Volgens Du Preez is die groot voordeel van Talentwerf dat gratis bemarking gedoen word vir die vryskutters wat besigheid in hul eie taal wil doen. Vryskutters se mark verbreed ook deur die gratis bemarking wat Talentwerf bied, en dit kan lei tot meer besigheid vir die vryskutters wat op Talentwerf geregistreer is.

“Kundiges uit  beroepsrigtings wat op ʼn vryskutgrondslag werk, is onder andere grafiese ontwerpers, skrywers, vertalers, SEO-skrywers, webblad-ontwerpers en toep-ontwikkelaars. Daar is tans ʼn vraag na tolke, vertalers en taalversorgers vir hofstukke wat Talentwerf hoop om te bevredig. Boonop is die sisteem so opgestel dat kliënte jou diens kan evalueer sodat ander kliënte kan sien dat jy gehaltewerk lewer.”

Du Preez het benadruk dat die webwerf se betaalsisteem die vryskutter asook die werkgewer beskerm en dat dit dieselfde sisteem is wat deur baie plaaslike verkoopwebblaaie gebruik word. “Die sisteem neem 10% vir bankkoste en administrasiekoste. Die diens wat die webblad lewer, is dat besighede bewus gemaak en netwerke gebou word wat dan verseker dat vryskutters werk en dus volhoubare inkomste kan kry.”

Hier is die perfekte geleentheid vir ʼn entrepreneur om nuwe geleenthede aan te gryp. ʼn Eenmansaak wat byvoorbeeld tuindienste bied, kan ʼn boekhouer op ʼn voorwaardelike kontrak aanstel en hul jaarlikse belastingopgawe laat opstel. Dit spaar die entrepreneur tyd, geld en kopsere.

Vryskutters kan registreer op www.talentwerf.co.za. Vir navrae stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

elsa engelbrecht ·

Ek stel belang in vryskutwerk, maar nêrens sien ek ‘n aanduiding waar ek kan aansoek doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.