Luister: Watter gevare hou droë oë in?

Foto: Pixabay

Ooggesondheid is iets wat in die meeste gevalle agterweë gelaat word omdat die simptome van oogsiektes waarskynlik nie so hard vir aandag jil soos ʼn seer keel of ʼn lam arm nie. Maar selfs ʼn toestand soos droë oë, iets wat die meeste mense as algemeen aanvaar, kan tot permanente skade lei.

Rudine Diedericks, ʼn oogkundige van die landwye oogkundige groep Mellins i-Style, sê die meeste mense dink dis ʼn algemene voorkoms dat oë soms jeukerig en branderig voel, maar dié simptome is as’t ware ʼn teken van droë oë.

Diedericks sê omdat die oog ʼn orgaan is wat moet nat bly, funksioneer die oog se metaboliese toestand nié na wese wanneer die oog nie nat is nie – en dít kan op sy beurt tot die beskadiging van selletjies in die oë lei wat weer tot permanente skade in die oog lei.

Wat is droë oë?

Droë oë is ʼn chroniese oogtoestand wat plaasvind wanneer die liggaam onvoldoende trane of vog produseer om die oë gevoed te hou. Trane voorsien die oë van suurstof en is nodig om die oë te reinig en die risiko van ooginfeksies te verminder. Droë oë moenie verwar word met ooginfeksie of allergieë nie.

Foto: Pixabay

 Wat is die simptome van droë oë?

  • Rooi oë is dikwels die gevolg van chroniese droogheid, maar kan ook ʼn simptoom van oogallergieë of konjunktivitis (pienkoog) wees.
  • Jeukerige of krapperige oë.
  • ʼn Brandende sensasie in die oë.
  • ʼn Gevoel dat daar iets in die oog is.
  • Tranerige oë – veral wanneer droë oë na lang periodes van tranerigheid terugkeer.
  • Visie wat dof is.

Wat veroorsaak droë oë?

Droë oë kan deur alledaagse gebruike veroorsaak word – soos wanneer jy kontaklense vir langer periodes dra as wat jou oogkundige voorgeskryf het. Om vir lang periodes na ʼn rekenaarskerm te kyk sonder om jou oë te knip, kan ook tot droë oë lei.

Ander nie-voorkombare faktore soos gifstowwe, rook en allergene in die lug veroorsaak ook droë oë. Ander sondebokke is ook blootstelling aan helder sonlig, wind en stof.

Hier is nog faktore wat tot droë oë lei:

  • Sekere voorskrifmedisyne en selfs antihistamien wat jy oor die toonbank kan koop.
  • Hormonale veranderinge by vroue as gevolg van swangerskap en menopouse of sekere mondelinge voorbehoedmiddels kan lei tot ʼn afname in die produsering van traanvloeistof.
  • Sommige mense ouer as 65 jaar ervaar ʼn sekere graad van droë oë as deel van die natuurlike verouderingsproses. Die traankliere funksioneer ook nie meer so goed hoe ouer mens word nie.
  • ʼn Dieet wat nie noodsaaklike vetsure insluit nie kan traanproduksie beï
  • Gesondheidskomplikasies soos diabetes en skildklierprobleme.
  • Ander oogtoestande soos sekere infeksies op die oogoppervlak.

Hier is wenke:

  1. Maak ʼn afspraak by jou oogkundige sodat hy of sy kan bepaal of jy ʼn droë oë- toestand het.
  2. Knip jou oë meer of gebruik oogdruppels. As jy lang ure voor ʼn rekenaar- of digitale skerm werk, sal jy geneig wees om jou oë minder te knip. Om jou oë gereeld te knip hou jou oë vogtig en verminder droogheid en irritasie.
  3. Onthou die 20/20/20-reël: Neem elke 20 minute ʼn 20 sekonde breuk van jou digitale skerm deur op ʼn voorwerp 20 meter ver te fokus.
  4. Verminder jou digitale skerms se helderheid.
  5. Kies sonbrille met UV-beskerming as jy in die buitelug is. Lense en rame wat om jou gesig vou sal die oë ook teen wind en stofdeeltjies beskerm. Selfs in die wintermaande kan sonlig net so skerp wees, veral as dit weerkaats word. Sonbrille en voorskriflense help ook teen die wind wat jou oë nog verder kan uitdroog.
  6. Sluit omega-3 by jou dieet in met voedselsoorte wat ryk is aan noodsaaklike vetsure soos vis, avokado en vlassaad. Hierdie voedingstowwe help om droë oë te verminder en die senustelsel te ondersteun.
  7. Verwarmers en vuurherde in die wintermaande kan die oë nog verder uitdroog, en die oplossing hiervoor is om genoeg water te drink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wiltrud ·

Ek sukkel baie met droeë oë. In 2016 het ek by my niggie in Oklahoma gaan kuier. Haar man is die dekaan van die Oogkunde Universiteit daar op Tahlequah en hulle het my oë getoets en bevind dat ek “meibomian gland dysfunction” het. Gaan Google dit gerus, dit is regtig interessant! Die kliere in my ooglede, bo en onder, is verstop omdat die ‘olie’ verhard en dit kom nie by die oog uit nie. Hulle het vir my `n oogmasker gegee wat ek in die mikrogolf warm maak en op my oë plaas en dit bring nogal verligting. Dit soort van smelt die olie.

Antjie ·

Ek het ook droe oe. My oe maak geen trane na chemo en n beenmurgoorplanting. Ek het gelukkig nou by Sport in Sight in Kimberley uitgekom. Hulle het vir my Scleral Lenses gegee. Dit is n harde lens wat jy met water in op jou oog plaas wat op die wit deel van jou oog pas. Dis HEMELS. Daardie geweldige irretasie en brandin my oe is weg. ek moet nog druppels insit sodat my ooglid kan beweeg. Beveel dit regtig aan as jy sukkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.