Ly jy aan sekondêre stres?

stress-venster-hand

Te veel gesien en gehoor. Ander mense se traumas het jou siekte geword. Foto: Unsplash/Pixabay.com

Deur Juliana Coetzer

In ʼn artikel wat ek onlangs oor byeboerdery gelees het sê die skrywer: “Al is jy hoe versigtig, is die kans goed dat jy gereeld ʼn bysteek sal opdoen.”

Dit geld seker vir alle beroepe. ʼn Mediese dokter kan hoeveel keer sy hande was en voorsorg tref, maar griep sal hy nie vryspring nie. Die motorwerktuigkundige weet sy motor se enjin kan ook breek, al word hy hóé goed in stand gehou.

Al is ons versigtig, al kyk ons besorg uit vir die tekens, beteken dit nie ons word gevrywaar teen die werklikheid nie. Gepantser, gefokus, geleerd, gekondisioneer, en veral gehard en steeds steek die bye.

Ons lees: As jy in een van die beroepe is wat met ander mense se intriges te doen het, soos joernaliste, sielkundiges, maatskaplike werkers, onderwysers, predikante, polisie, nooddienste, regsmense en medici, is dit belangrik om gereeld te ontgif van die beelde en emosies waarmee jy daagliks in aanraking kom. Neem ʼn langnaweek, ry in die veld, bly in die bed vir ʼn dag, mediteer en kuier met vriende. Maar ten spyte van alle voorsorg, is jy steeds nie gevrywaar teen die bysteke nie.

Dit is eers die laaste paar jaar dat die besef begin deurdring dat sekere professies en hulpwerkers in die spervuur staan van die werk wat hulle doen en persoonlik geaffekteer word.

Soos nooddienspersoneel en medici wat deur direkte blootstelling by ʼn traumatiese insident betrokke is en veg om die dood af te weer. Of sekondêre blootstelling wanneer joernaliste na slagoffers se stories luister om oor misdadige en traumatiese insidente verslag te doen. Prokureurs en advokate wat by die detail van mense se lewens betrokke raak. Sielkundiges. Jan Publiek wat hulp aan slagoffers bied. Insidente waarby kinders betrokke is wat geharde polisielede jare daarna nog in sweet laat uitslaan. Maatskaplike werkers wat dikwels hulpeloos staan en toekyk na mense wat in armoede en emosionele lyding probeer oorleef, chronies in wanhoop is en ʼn onvermoë het om hulle omstandighede te verbeter.

Ook diegene wat in talle beroepe veg vir ʼn saak, vir voortbestaan, téén onreg. Nie vir hulself nie, maar ter wille van diegene wat onder vreemde wette en die siekte van ons tyd, ʼn gebrek aan omgee, ly.

Om mense te help, vra ʼn oop hart. Om in te zoem op die detail van iemand se storie, versoek ʼn oop gemoed. Om empaties te luister, vra dat jy jou eie idees en waardes opsysit en jou in iemand anders se situasie indink. Jy moet kan saam voel. Kortom, jy moet omgee.

Ironies genoeg is dit juis omgee en die betoning van empatie wat op die langduur ʼn probleem vir die helper veroorsaak.

There is a cost to caring,” sê Charles Figley.

Dit gebeur ongesiens: Op ʼn dag kan jy nie na een woord meer luister nie en die vermoë om in te zoem op iemand se vertelling, verdwyn. Die woorde vlieg oor jou kop. Snags droom jy van mense wat mekaar aanval en iemand wat met ʼn byl op jou afstorm. Jou brein protesteer teen harde geluide en jy is ʼn gevaar op die pad. Jou dokter sê nee, jou hart is nie die probleem nie, eerder ʼn angsaanval wanneer dit voel of iemand op jou bors sit. Die konstante moegheid is uitmergelend. Die geringste voorval laat jou in trane uitbars en alles irriteer jou. Mense wil jy nie sien nie en van kuiers is daar nie sprake nie. Eintlik wil jy net in ʼn hoek sit en vergaan.

Die simptome kry ʼn naam: Sekondêre stres-sindroom. Te veel gesien en gehoor. Ander mense se traumas het jou siekte geword. Jy wat as getuie voor ander se lewens staan, ly saam. Indirek, maar nogtans. Die gevolg van betrokke wees. Van omgee.

Om betrokke te wees in iemand se lewe is om op sy episodiese geheue te fokus. Vir daardie oomblik, diep hy die groot ervarings in sy lewe op; hartseer tye, gelukkige dae, traumatiese oomblikke. Ons leer iemand ken. Nee, kén. Ons laat hom toe om homself emosioneel te ontbloot en stel die ruimte tot sy beskikking. Ter wille van sy verligting en op ʼn dag, ten koste van jouself.

ʼn Verandering in lewensbeskouing van helpers en mense wat voortdurend aan trauma en intriges blootgestel word, is nie vreemd nie. Hulle siening van die lewe verander, ʼn sinisme tree in en ʼn agterdog kom na vore. Die vertroue in die lewe en sy inwoners, het ʼn knou gekry. Dié tendens word ook tweedehandse trauma genoem.

Empatie-uitbranding kom al hoe meer voor, nie net onder helpers nie, maar ook die publiek wat onder ʼn oormaat slegte nuus toegegooi word. Dit raak al hoe moeiliker om empaties te reageer en nie as gevolg van ʼn onvermoë nie. Deesdae is dit net ʼn erge krisis of ʼn buitengewone situasie wat emosies wakkermaak. Die mens het aan trauma en slegte nuus gewoond geraak.

Dit raak ʼn al hoe groter verantwoordelik dat die werker, aanhoorder, getuie en toeskouer, dieselfde aandag aan homself verleen waarmee hy die persoon oorkant hom benader. Met dieselfde bewustheid luister en die tekens en simptome raaksien van ʼn moeë liggaam en ʼn uitgeputte gees. Homself leer kén en nie met ʼn ongeërgdheid en apatie oor sy eie menswees omgaan nie. Om te vra vir hulp en met mense wat verstaan gesels. Om gereeld te gaan vir ontlonting van beelde en ervarings wat in sy brein ingegraveer is en later soos sy eie voel.

Miskien moet ons aandag daaraan gee om ook die genot van die lewe te ervaar, die oorvloed raak te sien en op ons knieë staan om die klein insekte en vetplante van nader te bekyk. Om ons fokus gebalanseerd te hou tussen die nyd van die lewe en die skoonheid daarvan.  En om na die woud te gaan om bewustelik te leef, soos Henry David Thoreau gesê het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Matthys ·

Juliana se beskrywing is soo akkuraat. Die verdere probleem is, is dat meeste mense vuis-voos vasgevang bly in hierdie groef

Maria ·

Maak my kwaad. Het jy depressie probleem word daar gediskrimineer teen jou met versekering. Het jy HIV dan is alles reg. Jy mag versekering uit neem sonder belading. Psgiatriese probleem word jy sommer 50% belaai. Is dit regverdig. NEE dit is NIE !!!

Tania ·

Moenie vergeet van Menslike Hulpbronpraktisyns nie. Ons het soms met die lelikste eienskappe van die mens te doen: selfsug, rugstekery, gierigheid, jaloesie, ego’s…..Tussen werknemers en vanaf bestuurders . Ek noem dit die “corporate beast” wat sy kop uitsteek wanneer die druk meer raak. En aan die einde van die dag tel ons, die menslike hulpbron mense, die stukke op. Dis belangrik om jou grense te ken en met die jare leer jy om in die aande af te skakel. Want jy weet dis vir jou eie oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.