Ma, jy verdien élke dag die beste

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die aanlyngesprekreeks 4Minutes #CoffeeandConvo’s met bekendes soos Karien Basson, Tanya van Graan, Leigh-Anne Williams en Rouchelle Liedeman, is ʼn YouTube-versameling video’s van vier minute elk wat daarna streef om alle aspekte van die lewe aan te raak.

Die groep se geselsvideo’s, wat in Maart vanjaar begin is, ontvou rondom die idee dat ʼn enkele situasie ʼn onuitwisbare indruk op iemand kan laat. Hulle poog om elke maand aandag te gee aan ʼn nuwe tema.

Basson, joernalis en radio-aanbieder by Tygerberg 104FM, sê die reeks “is bedoel om ʼn aangesig-tot-aangesig-ontmoeting te wees met geloof, aktualiteit en daaglikse vrae”. Dié vier vroue kry dan die geleentheid om hul opvattings en lewenservaring te deel.

In die groep se jongste video gesels hulle oor Moedersdag. Die vroue sê dit is belangrik dat ma’s onthou hoe kosbaar hulle is en dat hulle dit op dié dag mag vier deur op hulself te fokus. “Jy verdien ʼn steunpilaar. ʼn Goeie vriendin is kosbaarder as al die skatte van die wêreld. Jy werk hard, gryp geleenthede aan met albei hande, skroom nie om te werk nie. Jy droom. Jy gee om, jy het lief en jy verstaan,” voer hulle aan.

“Jou opregtheid en vriendelikheid maak dit maklik om jou vriend te wees. ʼn Vrou wat die Here dien, sal vir ewig gelukkig bly. Jy het prioriteite, maar neem beheer van jou tyd. Jy skuld dit aan jouself. Jy verdien die beste,” sê hulle.

Die vier vroue beplan om in die toekoms ook temas te bespreek soos om vrede te maak met onvolmaaktheid, om bewus te wees van die stoomroller-effek van jou denke, om in die oomblik te leef, dankbaarheid en om te dink voor jy praat. Video’s word geredigeer en vervaardig deur Etienne Janse van Rensburg.

Kyk hier na die nuutste video van 4Minutes #CoffeeandConvo’s. Besoek die groep se Facebook-blad of YouTube-kanaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.