Ma wil kanker-eenheid kindervriendelik maak

Neil-Oosthuizen

Foto: Facebook/ Luani Oosthuizen

Toe Luani Oosthuizen se seun, Neil (11), in Julie 2014 met kanker gediagnoseer is, was dit ʼn groot skok omdat Neil nog altyd ʼn gesonde kind was wat uitgeblink het in landloop en stoei.

Nadat hulle ʼn kwaadaardige massa so groot soos ʼn sokkerbal in sy bekken gekry het, moes Neil behandeling by Tygerberg Hospitaal, ʼn staatshospitaal in die Kaap, ontvang. Hoewel dié gesin ʼn mediese fonds het, is Neil na Tygerberg verwys omdat hy die beste behandeling daar sou ontvang.

Luani meen niks kon hulle voorberei op die toestand van Tygerberg se pediatriese onkologie-eenheid nie. Hoewel Neil die beste behandeling sou kry, het die omstandighede in die hospitaal haar geskok.

Nadat Neil oorgeplaas is na ʼn privaat hospitaal, het die omstandighede by Tygerberg Luani bygebly. Sy het besluit om ʼn projek, Touching the heart, te begin om dié eenheid reg te ruk en meer kindervriendelik te maak. “Hulle kyk goed na die kinders, maar dis nie net die kanker wat behandel moet word nie – jou kind moet ook behandel word.”

Hoewel sy eers gesukkel het, het Luani uiteindelik toestemming by die hospitaal ontvang om die pediatriese onkologie-eenheid heeltemal op te knap. “Die hospitaal het dit baie duidelik gestel dat daar geen geld beskikbaar is om my te help nie omdat dit vir die nodige toerusting gebruik word, wat eintlik sin maak.”

hospitaa

Foto: Verskaf

Luani het alle moontlike kontakpersone genader om te help en sy meen die Here sal moet voorsien om dié projek te voltooi. “Ek wil die vloere oordoen, die saal uitverf, gordyne ophang en ordentlike televisiestelle insit.” Die hele projek gaan ongeveer R2 miljoen kos, en sy het reeds R60 000 ingesamel. Sy werk tans aan verskeie projekte om dié geld in te samel, waaronder ’n gala-aand op 16 Junie in die Paarl waar verskeie items opgeveil sal word.

Hierdie ma is baie gemotiveerd en niks sal haar keer om dié projek te voltooi nie. “Dit gaan gedoen word, dis net ʼn kwessie van tyd.”

Mense wat belangstel om dié geleentheid by te woon of die projek te ondersteun, kan gerus vir Luani nader by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eliza-beth ·

Ek bewonder mense soos jy se ontbaatsugtige hulp. Sal jou mettertyd kontak met ietsie. Sjoe…wens ek kon Lotto wen en almal help wat ek so graag WIL help!

Marieta ·

Ons kleinseun is hier by Joburg Gen en ons het met klein skenkings al n paar komberse gehekel kussingslope gemaak slaap slippers gekry ketel n kassie koppies ons vra nou nog n micro golf vir die saal ons is tans besig om serpies te brei en ons het ook n skenking gehad vir ligte bo die beddens ek noem dit my De Wet projek

Hendrik ·

Tans ontvang my seuntjie Chemoterapie by Tygerberg Pediatriese Onkologie. Ek deel die artikel se sentiment. Die mediese sorg is uitstekend maar die saal is net nie kindervriendelik nie…

Eliza-beth ·

AI Marieta en Hendrik ek wens so ek kan elkeen help. Dalk kan ek met iets kleins..vra Maroela asb om my epos adres aan julle te stuur, ek gee toestemming hiermee en net dalk is daar ietsie kleins wat ek mee kan help. Ek WIL so graag, ek help so baie net waar ek kan en die fondse is ook nie altyd daar nie, maar ja, laat ek hoor van julle!

Freja ·

Skep ‘n “Go Fund me” rekening aanlyn. Dan kan ons wat in die verre is, en ander mense internasionaal maklik bydra tot jou fonds. Ek het hier in Amerika gesien watter verskil ‘n vriendelike, verwelkomende atmosfeer kan maak vir herstel. Dis so nodig. Voorspoed met jou projek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.