Maak dit saak as jy ʼn plastiekbottel op straat weggooi?

plastiekbottels-pixabay

Foto: Pixabay.com

Plastiek is baie nuttig en veeldoelig. Dink maar net aan plastiek-voedselverpakking. Maar wat gebeur as ons die houer jogurt klaar verslind of die bottel koeldrank of melk klaar gedrink het? Wat doen ons met die plastiek waarin dit verpak was? Meeste van die plastiekverpakkings word net een keer gebruik en sodra die kos geëet is, wil ons gewoonlik die verpakking nie meer hê nie.

Vier moontlike dinge kan dan gebeur: Die houer kan in ʼn vullisdrom gegooi word; dit kan gehersirkuleer of veras word; of dit kan in die omgewing beland. Slegs 14% van plastiekverpakking word tans wêreldwyd versamel vir hersirkulering. Ongeveer 28% word verbrand, 40% gaan na stortingsterreine en ʼn enorme 32% beland in die omgewing[1].

As ʼn plastiekitem op die grond gegooi word sal dit uiteindelik deur wind of ʼn reënstorm in ʼn stormwaterpyp beland en afspoel na ʼn spruit of ʼn rivier, waar dit in takke of struike op die walle van die rivier sal vashaak, in die sediment van die rivier begrawe raak, of afgevoer sal word na die see. Ons het al so gewoond geraak om te sien hoe plastiekbottels en ander rommel op die draai van ʼn stroom of rivier versamel, tesame met vuil repe van plastieksakke wat aan takke hang. Dit is nie net lelik om na te kyk nie, maar hou ook ʼn gesondheidsgevaar in.  Afvalkos in ʼn plastieksak sal verrot. Toksiene wat uit die afval in die plastiek vorm kan visse en voëls vergiftig. Diere kan in die plastiek verstrengel of vasgevang word en versmoor, of hulle kan siek word of doodgaan as hulle van die plastiek eet[2].

Verwydering van plastiek en ander afval uit die wateromgewing is tydrowend, moeilik en duur. Vrywilliger-groepe in Pretoria ondersteun op ʼn gereelde basis die Stadsraad van Tshwane om dele van ons stad se riviere skoon te maak. Hulle het gevind dat daar veral ná reënstorms ʼn wye verskeidenheid rommel in die riviere beland wat verwyder moet word, veral plastieksakke, maar ook goed soos rekenaars en selfs matrasse. Dit is veral moeilik om plastieksakke wat vasgewoel is om ʼn doringtak of ʼn bottel wat met modderwater gevul is en vasgevang is in die sand, te verwyder[3].

As plastiekafval nie verwyder word nie, kan dit vir honderde jare in die omgewing bly. Dit breek baie stadig af in kleiner deeltjies. Visse en voëls kan van die klein deeltjies eet, en wanneer ons dan van die vis eet kan ons ook van die plastiekbesoedeling inkry.

besoedeling-in-riviere-flickr

Besoedeling van riviere is ‘n groeiende bekommernis wêreldwyd. Foto: Flickr.com.

Hierdie probleem word ongelukkig nie kleiner nie. Die gebruik van plastiek is besig om toe te neem. Mense gebruik vandag 20 keer meer plastiek as 50 jaar gelede en ʼn onlangse studie dui daarop dat ons teen 2050 vier keer meer plastiek sal gebruik as tans. Dieselfde studie voorspel dat ons teen 2050 elke minuut net soveel plastiek in die see sal stort as die ekwivalent van vier afvaltrokvragte. As al hierdie plastiek in die see ophoop sonder dat dit verwyder word, sal die massa van die plastiek in die see teen 2050 groter wees as dié van die vis in die see[4]. Wie gaan betaal om al hierdie plastiek te verwyder? Hoe gaan ons verhoed dat meer plastiek in die omgewing gestort word?

Die goeie nuus is dat ons as verbruikers, wat elke dag plastiek koop, wel iets kan doen om die ophoping van afvalplastiek te verminder. Daar bestaan hersirkuleringskemas in Pretoria waarby jy kan aansluit[5]. Sommige vra wel ʼn klein bedrag per jaar vir die sakke wat hulle verskaf. Dit is omdat nie genoeg mense hersirkulering ondersteun om te verseker dat die betrokke firmas voordeel kan trek uit ekonomie van skaal nie. Die uitvoerende direkteur van Plastics SA het in Mei 2016 gesê: “Die afwesigheid van ʼn konstante inkomende stroom van hersirkuleerbare materiaal was die enkele grootste uitdaging wat plastiekhersirkuleerders in 2015 in die gesig gestaar het. Suid Afrika het ʼn bloeiende hersirkuleer-bedryf wat werksgeleenthede skep vir duisende mense. Dit is egter frustrerend om te sien dat daar nog nie ʼn hersirkuleringskultuur in ons land ontwikkel en gevestig het nie”[6]. Jy kan ʼn bydrae maak deur vir die burgermeester van die Tshwane-metro te skryf en te versoek dat die stadsraad die implementering van ʼn wye munisipale hersirkuleringskema versnel.

Sodra jy begin hersirkuleer, is die volgende stap om voedselproduseerders meer bewus te maak van die verpakking wat hulle gebruik. Baie verpakkings is nie duidelik gemerk of dit hersirkuleerbaar is of nie. As dit iets is wat jy gereeld koop, stuur ʼn e-pos of skakel die firma wat dit vervaardig en vra of dit hersirkuleerbaar is. Indien wel, vra hulle om in die toekoms seker te maak dat dit duidelik op die verpakkingsmateriaal aangedui is. As dit nie-hersikuleerbaar is nie, vra dan wanneer hulle die verpakking sodanig sal verander. Jy mag miskien dink dat hulle nie geïnteresseerd sal wees in jou oproep nie, maar jy mag verras wees hoe ernstig hulle jou navraag sal bejeën.

Derdens, sluit aan by ʼn plaaslike rivier-omgeegroep en help om na ʼn klein deel van die rivier in jou omgewing om te sien. ʼn Aantal van ons het die idee om ʼn plaaslike stroom aan te neem aangegryp en ons elkeen se klein aksies maak gesamentlik ʼn verskil. Ons werk saam met die departement water en sanitasie[7] en die Tshwane-metro, en saam kan ons ʼn groot bydrae lewer om die omgewing te bewaar.

Kontak die Adopt Moreletaspruit Forum vir meer inligting[8].

  • Hierdie artikel is die eerste in ʼn reeks om Wêreld Waterweek 2017 bekend te stel. Die artikels vorm deel van die aktiwiteite van die Moreleta-Pienaars Waterweek-komitee wat die volgende organisasies verteenwoordig:
    • JNF Walter Sisulu Environmental Centre
    • Adopt Moreletaspruit Forum
    • Umkariso Women in Water Cooperative
    • Department of Water and Sanitation
    • City of Tshwane
    • Community Colours
    • Capital City Business Chamber

Bronnelys:

[1] World Economic Forum 2016. The New Plastics Economy

[2] Armitage, N., Rooseboom, A., Nel, C. and Townshend, P. 1998 The Removal of Urban Litter from Stormwater Conduits and Streams, WRC Report No TT 95/98 p.16

[3] Adopt Moreletaspruit Forum coordinates river care groups along the Moreleta River, Umkariso Women in Water is one of a number of river care groups in Mamelodi.

[4] World Economic Forum 2016 The New Plastics Economy

[5] Contact The Waste Group, Tel: 0861 2927. E-mail: [email protected]

[6] Plastics SA Press Release , 30 May 2016 Plastics|SA releases 2015 plastics recycling figures

[7] The Department of Water and Sanitation runs an ‘Adopt-a-River’ scheme.

[8] Adopt Moreletaspruit Forum: www.riv.co.za/ms/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Caroline ·

Kaapstad Metro gee herwinningsdrommetjies vir huisbewoners en dit blyk suksesvol te wees behalwe die “odd one” wat wegraak en vir ‘n bergie ‘n mobiele huis word.

katryn ·

Ek is baie trots om die Kaap te woon waar my groen herwinningsdrom weekliks leeggemaak word deur ‘n maatskappy wat aangestel is deur die munisipaliteit.

SARIE VAN HEERDEN ·

Toe babaweggooidoeke baie jare gelede in die VSA op die mark gekom het het dit uiteraard op die vullisterreine beland. ‘n Paar jaar gelede is opgrawings in Los Angeles gedoen en is afgekom op daardie weggooidoeke. Alles het vergaan BEHALWE die plastiekgedeelte wat gekeer het dat die doeke “lek”. Vergaan plasties? Nee!
Wanneer ons Margate toe gaan loop ons soggens met plastiese (?) sakke en tel al die gemors op die strand op. Vissermanne los hul vislyne net daar en dit beland om die pote van die voels. Moenie praat van kondome, bottels, ens. wat ons ook moet verwyder nie omdat niemand blykbaar omgee nie.

Griet ·

Nee, moenie plastiek bottels op straat weggooi nie, gooi dit in ‘n asblik. Soos ‘n ORDENTLIK OPGEVOEDE mens. PERIOD.

Hoekom nie hersirkuleer nie? Want dit is mors van tyd!! In die sekuriteitsdorp waar ek bly, probeer ons (die raad) al 12 – 15 jaar ‘n herwinningsmaatskappy kry om op ‘n gereelde basis, kosteloos, die inwoners se herwinde materiaal te kollekteer. Na ongeveer die vierde herwinningsmaatskappy het ons opgegee – dit was ±5 jaar gelede. Hoofsaaklike weens 2 faktore: die herwinnings materiaal is nie gereeld opgelaai nie en sodra die deelname in die sekuriteitsdorp (± 800 huishoudings) aanvaarbare vlakke bereik vir die diens om gratis aan die inwoners verskaf te word, onttrek die herwinnings maatskappy. REALITEIT: NIEMAND gaan NOG iemand betaal om hulle rommel (herwinbare material) te verwyder nie. Almal betaal reeds fooie aan ‘n munisipaliteit om dit te doen. op die huidge stadium herwin ons papier, glas en blikkies in ons huis en gaan laai dit een maal ‘n week /maand by die naaste Spar af wat binne die winkel dromme daarvoor het. Die plastiek gaan munisipale asblik toe, want dit is bloot te veel om in die drom daarvoor, binne die Spar te gaan los. Ek het eenkeer probeer om dit by hulle asblikke aan die agterkant van die winkel te gaan los, en is uitgetrap omadat ek “rommel” daar los! Genoeg! Die mense wat plastiek wil herwin, gaan ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit aan om die plastiek van hulle stortingstereine te herwin. Ons is klaar daarmee.

Kobus Hattingh ·

Maak kuns en standbeelde hiervan want dit is sterk en hou baie lank! :)

Jeannie du Plessis ·

Kobus dis n baie goeie idee en hulle maak juis planne om baie standbeelde oral op te sit. Ons maak te min gebruik van die herwinde plasties.

Heinrich ·

Ek bly op die Wesrand in Jhb, en daar is reeds mense wat hierdie werk doen. Elke dag wat die asblikke gehaal word, is hierdie ouens dou-voor-dag in die asblikke en sleep hulle massiewe sakke deur die hitte van die dag om plastiek te herwin sodat hulle in die aand kan eet. Baie mense skel hierdie ouens omdat die ouens in hulle asblikke krap en met groot sakke op lamlendige trollies spasie in die strate opneem. Hierdie ouens is egter ‘n goeie voorbeeld van selfdissipline en hardwerkendheid vir die ander slapgatte wat nie wil werk nie; hoekom nie hierdie ouens bemagting met ‘n salaris en ‘n trok nie?

pieterdp ·

My eerlike opienie is dat daar meer van omgewings vriendelik hours gebryk moet word. Iets wat natuurlik kan vergaan sonder om die omgewing te besoedel.

Plastiek kan op baie ander permanente plekke gebruik word wat skadeloos is vir die omgawing.

Jeannie du Plessis ·

Ons het al miljarde rande aan die staat betaal vir plastiese sakkies, juis om te help met hersirkulerings pogings. Ongelukkig land al die geld in die staatskoffers en word nie gebruik waarvoor dit aanwend moes geword het. Ons kon al reg deur die land by munisipaliteite baie suksesvolle maniere gevind het om die plasties uit die vuilgoedhope, en uit ons strate en riviere te hou. n Werkbare, goedbeplande manier waarby almal kan baat is SO nodig!
WAAR IS DIE GELD, WAAROM IS DIE PROBLEEM NIE AL LANKAL AANGESPREEK?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.