Maak dit saak wat jy in die toilet afspoel?

toilet

Foto: Homestage/Pixabay.com

ʼn Kollega het onlangs ʼn koerantartikel per e-pos aan my gestuur van ʼn vrou wat dringend ʼn loodgieter na haar huis laat kom het omdat rioolwater oral op haar erf uitgeborrel het. Die loodgieter het gou vasgestel dat die rioolpyp verstop was met weggooibare skoonmaakdoekies wat algemeen bekend staan as “wet wipes”. Die loodgieter het sy kop afkeurend vir die vrou geskud  omdat hy seker was dat sy haar grimeerdoekies in die toilet afgespoel het. Dit blyk toe dat die skuldige eintlik haar man was, wat besluit het dat “wet wipes” ʼn 21ste eeuse-opgradering vir toiletpapier is.

Wanneer jy die toilet spoel, gaan die afvalwater na ʼn drein buite die huis en vloei dan verder in rioolpype meestal deur middel van gravitasie, maar soms ook met behulp van pompstasies langs die pad. As dit uiteindelik by ʼn afvalbehandelingsaanleg aankom, gaan dit deur verskeie filtrasie- en skoonmaakprosesse. Die soliede afval sak as slik uit en die vloeistoffraksie word tot ʼn voorgeskrewe standaard gesuiwer en dan in ʼn nabygeleë rivier gestort.

Rioolnetwerke is ontwerp om slegs water, menslike afval en toiletpapier te vervoer, en niks anders nie! Toiletpapier het kort vesels en disintegreer vinnig. As jy ʼn stukkie toiletpapier natmaak en dan probeer om jou gesig daarmee af te vee, sal jy sien dat dit nie moontlik is nie, omdat die toiletpapier reeds in jou hand disintegreer. Alle soorte materiale disintegreer nie op hierdie wyse nie. Baie ander ongewenste goed verdwyn op ʼn magiese en gerieflike wyse in die toilet as jy die spoelmeganisme aktiveer. Dit is dus ʼn groot versoeking om op hierdie manier daarvan ontslae te raak. Dit het my jare geneem om te besef dat ʼn mens nie veronderstel is om watte of tandvlos in die toilet af te spoel nie. Ek het regtig geglo dat watte uiteindelik afbreek – maar dit is nie die geval nie. Watte versamel in die draaie van die pype en tandvlos ontbind nie in water nie. Tandvlos se lintagtige struktuur veroorsaak dat watte en “wet wipes” daarin verstrik raak.

Voeg nou vet hierby (dink net hoe daardie heerlike vet uit jou boereworsrol drup) en jy het ʼn resep vir moeilikheid. Jy het seker ook al waargeneem dat vet, wat koud word, stol en klonte vorm en as dit in die drein afspoel, bind dit met die watte en tandvlos sowel as ander afval wat in die toilet afgespoel is – wat die risiko vir verstopping regdeur die rioolstelsel verhoog.

“Wet wipes” word op toenemende wyse deur mense gebruik. ʼn Vinnige opname van die verskillende handelsmerke wat deur plaaslike apteke verkoop word, toon dat sommige handelsmerke wel op die verpakking aandui dat dit nie in die toilet afgespoel kan word nie; sommige handelsmerke dui aan dat dit wel moontlik is terwyl ander geen instruksies vir die wegdoen van die doekies bevat nie. Maar soos bostaande storie aandui, is die sogenaamde wegspoelbare soort nie werklik so wegspoelbaar nie.

In 2015 het die stadsraad van Minnesota in die VSA ʼn hofsaak aanhangig gemaak teen ses maatskappye wat “wet wipes” vervaardig, omdat die maatskappye daarop aanspraak gemaak het dat die doekies wegspoelbaar is. Die doekies het verwoesting in die rioolstelsel veroorsaak wat die munisipaliteit miljoene dollars gekos het. Die munisipaliteit wys daarop dat die “wet wipes” om die pompe vaswoel, in die skerms vashaak en baie dikwels massiewe klonte vorm wat verwyder moet word[1].

Die lys van goed wat in rioolnetwerke gevind word, is lank en grusaam. Dit strek van luggevulde kondome wat ronddryf soos visse, tot menslike liggaamsdele[2]. Ons besing die lof van helde wat die berg Everest uitklim, maar ons behoort eerder die arme helde te vereer wat induik om die blokkasies in rioolnetwerke te verwyder. So, kom ons maak hulle werk ligter en spaar ons munisipaliteit baie geld deur niks wat nie in die toilet hoort nie, daarin af te spoel nie.

Ander items wat ook nie in die toilet gegooi behoort te word nie, sluit in:

  • Papierhanddoeke – dit is baie dikker as toiletpapier en breek nie so maklik af nie.
  • Broekiebelyners (“panty liners”) – hulle mag dun wees, maar is ontwerp om absorberend te wees en sal dus opswel in die water.
  • Sigaretstompies – is vol toksiese chemikalieë wat ons nie in ons waterstelsels wil hê nie.
  • Pleisters – is van plastiekmateriaal gemaak wat nie biodegradeerbaar is nie.
  • Voorskrifmedisyne – ons wil nie hê dat wilde diere en mense dit moet inneem as dit in ons rivierstelsels beland nie.
  • Hare – jy kan in jou stort sien hoe dit balle vorm wat die drein verstop.
  • Kondome – dit kom voor asof niemand weet hoe lank dit gaan neem voordat hulle bio-degradeer nie en dit neem gewoonlik baie water om hulle weg te spoel – ʼn vermorsing van water.

Ons moet dankbaar wees dat toiletpapier wel in ons land beskikbaar is om te gebruik. Nie alle lande het ʼn rioolstelsel wat dit kan hanteer nie. Dit herinner my aan die vermaaklike opdrag wat ek agter op ʼn toiletdeur in Indonesië gelees het, naamlik: “Please do not put toilet paper in our toilet or you will stuck it.”

  • Hierdie artikel is die tweede in ʼn reeks artikels om Wêreldwaterweek 2017 te bevorder.

 Die artikels vorm deel van die aktiwiteite van die Moreleta-Pienaars Waterweek-komitee wat die volgende organisasies verteenwoordig:

  • JNF Walter Sisulu Environmental Centre
  • Adopt Moreletaspruit Forum
  • Umkariso Women in Water Cooperative
  • Department of Water and Sanitation
  • City of Tshwane
  • Community Colours
  • Water Research Commission
  • Capital City Business Chamber

Bronnelys:

[1] http://www.startribune.com/minnesota-city-sues-makers-of-flushable-wipes-over-clogged-sewers/301228331/. By Jenna Ross Star Tribune April 25, 2015 — 2:16pm

[2] https://www.theguardian.com/environment/shortcuts/2012/oct/26/10-things-you-should-never-flush

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aaklige Attie ·

Baie waardevolle inligting. Dit blyk egter SA is nie heeltemaal gerat om die nie-wegspoelbare “onnoembares” te hanteer nie. Moet die onnoembares dan saam met die gewone vullis uitgesit word of is daar ‘n diens (soos bv vir kantoorblokke) wat dit by onse huise kan afhaal?

John ·

Moet dit tog asb nie voorstel nie! Ons rommel eindig al klaar net ‘n paar strate verder op nadat dit weggery is of self voete gekry het. As sulke onnoembares ook gebere moet word ingeval dit eendag benut kan word of dalk in ‘n moderne Afrika-kunswerk staangemaak word en later in ‘n New Yorkse kunsmuseum beland en uiteindelik in ‘n rykmanshuis… ‘Mind you,’ Attie… noudat jy dit noem, mens kan dalk self…

Piet Pompies ·

Daar work niks genoem van skoonma…..gaan vanmiddag probeer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.