Maak jou eie kompos

groente-van-tuin-tot-tafel_cover-high-resDaar is twee maniere om komposhope te bedryf: aërobies en anaërobies. ʼn Aërobiese komposhoop word gedurig omgewerk om te verseker dat dit goed deurlug is. Mikrobes wat van suurstof afhanklik is, doen die afbreekwerk.

Anaërobiese kompos

ʼn Anaërobiese komposhoop word vasgetrap om suurstof uit te hou. Mikrobes wat nie suurstof nodig het nie, of selfs nie in suurstof kan oorleef nie, doen die afbreekwerk. Dit is ʼn warm proses, omdat die afbreekproses hitte vrystel, wat nêrens heen kan ontsnap nie. Dit wysig die moedermateriaal heeltemal en kan selfs sade of skadelike mikrobes doodmaak.

Maak ʼn gat in die grond of gebruik ʼn drom om organiese materiaal, soos takkies of onkruid, in te gooi. Gooi die moedermateriaal eers op ʼn oop stuk grond, maak dit goed nat en meng deeglik. Druk ʼn handvol van die mengsel in jou vuis toe en maak jou vuis oop. As dit vanself uitmekaar val, is dit te droog. As water daaruit drup, is dit te nat. As ʼn mens dit liggies met jou vinger kan stukkend druk, is dit net reg.

Gooi grawe vol van die mengsel in die gat of drom, maar nie dieper as 20-30 cm nie. Trap die lagie vas en gooi die volgende lagie in. Hou so aan totdat die gat vol of die mengsel gedaan is en bedek dit met plastiek of klamp die drom se deksel terug. Die doel is om die lugtoevoer af te sny en te keer dat die water verdamp en daarom moet die bedekking deeglik toegemaak en met gewig vasgelê word.

Hoe growwer die materiaal waarvan die kompos gemaak word, hoe langer sal dit neem voordat dit bruikbaar is. In die somer kan ʼn mengsel van fyn materiaal binne twee of drie weke gereed wees, maar dit moet verkieslik ses weke tot drie maande lê. Dit kan niks oorkom as dit nog maande lê en wag om gebruik te word nie.

Dit is die ideale manier vir iemand wat wil kompos maak soos die materiaal beskikbaar raak en daarvan wil vergeet totdat dit nodig is. Gooi elke dag kombuisafval in ʼn drom of gat en vul dit byvoorbeeld Saterdae aan met ʼn bietjie tuinafval. Dit sal lyk asof die gat of drom nooit vol word nie, want soos die materiaal ontbind, verloor dit volume. Wanneer die houer regtig vol is, is dit tyd om dit te seël en ʼn nuwe een te vul. Die dag as mens kompos nodig het, word die houer leeggemaak en die kompos versprei.

grown-up-1637302_1920

Foto: Pixabay

Aërobiese kompos

Om aërobiese kompos te maak mag dalk vinniger wees, maar dit is ook meer moeite. Kompos wat in sakke by die kwekery of hardewarewinkel gekoop word, word op dié manier gemaak.

Maak ʼn hoop organiese materiaal (verkieslik in lae van verskillende oorsprong) met ʼn basis van twee meter breed en ʼn hoogte van ʼn meter of hoër. Die lengte word net deur ruimte en beskikbare materiaal beperk. As alles deeglik natgemaak is, word dit vir vyf dae tot ʼn week gelos.

Wanneer die binnekant begin warm word, word die hele hoop omgewerk. Dit kan na ʼn week weer nodig wees om die proses te herhaal en ʼn mens moet seker maak die hoop bly vogtig. Na drie weke is die kompos gereed vir gebruik.

Volgende week: Natuurlike plaagbeheer, insekte, virusse, swamme

 

Teks uit Groente van tuin tot tafel, Wynand Boshoff (LAPA Uitgewers, 2016)

Bestel dié boek aanlyn by www.lapa.co.za of skakel LAPA Uitgewers direk by 012-401-0700.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

evsbest ·

Baie dankie vir die artikel. In plaas van asblik toe kan jy geld spaar en dit in jou potplante gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.