Kinders raak gou verdiep in verbeeldingspel, soos om huis-huis te speel en wegkruipplekke te bou. ’n Deuropening word ook ’n speelruimte – hang ʼn poppeteater daarvoor. Perfek vir die vakansie.
BENODIGDHEDE:
blou vilt, 90 cm breed en 1,4 m lank
ligblou vilt, 20 cm
geruite katoen, 1 m
kartelband, 2 m
2 groot knope
gordynstok of tappen
koord om te hang
GEREEDSKAP:
naaimasjien
kleremakerskêr
kleremakerskryt
- Knip die blou vilt uit. Vou die bokant om en stik ’n soom vir die gordynstok. Die soom se breedte sal afhang van die dikte van die gordynstok wat jy gebruik.
- Meet die verhoogopening, 30 cm van bo af, 20 cm aan weerskante en sowat 75 cm van onder af. Sny die opening uit en teken weerskante ’n hortjie.
- Stik die kartelband aan die hortjies se kante en maak ’n knoopsgat vir elke hortjie.
- Knip die ligblou vilt se rand driehoekig uit vir die verhoogfraiing. Maak die patroon eers op papier deur die papier te vou om die herhaling te skep, of meet elke driehoek om te verseker dat hulle identies is. Stik die vilt bo- en onderaan die opening.
- Knip die gordyne 60 cm ~ 20 cm uit. Jy het die ekstra lengte nodig vir wanneer die gordyne vasgebind is. Soom die gordyne en werk agter boaan die opening vas. Voeg die gordynkoorde aan die hortjies se binnekant by.
- Hang met behulp van ’n stok en koord boaan die deuropening. Gebruik ’n onopsigtelike spykertjie in die middel of heg met kleefband.
WENK:
Laat jou kinders hul eie poppe met vilt en tekstielgom maak en skep vir jou kinders ’n verhoog.
Bron: Kreatiewe kinderkamers