Maak van jou skaaphond ʼn slaaphond

skaaphond

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Nicoline de Wet

Navorsers het bevind dat die aanwesigheid van ʼn hond in jou slaapkamer nie ontwrigtend is vir ʼn goeie nagrus nie. Die posisie wat die hond in die slaapkamer of op die bed inneem, het wel ʼn invloed.

Troeteldiere, veral katte en honde, vorm ʼn integrale deel van huishoudings oor die hele wêreld en baie mense beskou hulle as deel van die gesin. Sommiges glo daar is in elk geval net twee soorte mense in die wêreld: kat-mense en hond-mense. En volgens marknavorsingsmaatskappye reik hierdie verskil verby individuele voorkeure tot op geopolitiese vlak: daar is kat-lande en hond-lande. Suid-Afrikaners is baie lief vir hulle honde, met 9,1 miljoen honde teen 2,4 miljoen katte as troeteldiere in die land.

In baie gevalle deel die “mens se beste vriend” nie net lekker happies en stappies met hul eienaar nie, maar slaapplek ook. Die vraag is, hoe bevorderlik is dit vir ʼn goeie en welverdiende nagrus?

Die meeste mense glo dat jy slaapgehalte inboet wanneer jy ʼn slaapkamer met ʼn troeteldier deel. Die waarheid is egter dat dit vir baie mense vertroostend is en ʼn gevoel van sekuriteit gee wanneer hul troeteldiere by hulle slaap.

Tydens ʼn studie is 40 gesonde volwassenes, by wie geen slaapversteurings gediagnoseer is nie, en hul hond-vriende, van wie nie een jonger as ses maande oud was nie, oor ʼn tydperk van vyf maande gemonitor. Elke deelnemer en elke hond het sewe nagte lank ʼn slaapmonitor gedra wat hul slaapgewoontes nagespeur het.

Die navorsers het bevind dat sommige mense beter geslaap het wanneer hul hond by hulle geslaap het, ongeag of dit ʼn yslike Deense hond of ʼn kleine schnauzertjie was. Daar was egter een uitsondering: wanneer die hond saam met hul eienaar onder die komberse ingekruip het, is slaapgehalte ingeboet.

Mense se verhouding met hul troeteldiere het met verloop van tyd baie verander. Troeteldiere vervul in baie gevalle in die hedendaagse mens se lewe ʼn ondersteuningsrol, waar die onvoorwaardelike aanvaarding en vriendskap van die troeteldier op emosionele vlak baie vir hulle beteken. Derhalwe word troeteldiere ook in die slaapkamer toegelaat, en mense kan nou verseker wees dat dit nie hul slaapgehalte negatief sal beïnvloed nie.

So, maak gerus van jou skaaphond ʼn slaaphond. Maar, dis dalk ʼn goeie idee om hom in sy eie bed, eerder as jou bed, te laat slaap.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.