Majuba: Skitterende oorwinning vir die Boer

‘n Voorstelling van die Slag van Majuba (Argieffoto: Chrizelle Coleman.)

Die Slag van Majuba, toe die skote op 27 Februarie 1881 tussen Boer en Brit geklap het, bly ʼn pluim in die Afrikaner se historiese hoed. Hierdie oorwinning word sedert die 1980’s elke jaar naby Volksrust in Mpumalanga gevier, waar Majubaberg as monument van dié geskiedkundige dag pryk, met die bloed en sweet van vegters wat deur sy grond gesypel het.

Maar dié veldslag het ʼn lang aanloop gehad, en ook groot gevolge vir volk en vaderland.

Gedurende die 1870’s het groeiende nasionalisme en toenemende selfvertroue en trots onder die Boere ʼn bedreiging vir die Britte ingehou. Teen 1880 het Paul Kruger, Piet Joubert en dr E.P.J. Jorissen verskeie dorpe oor die land besoek om die Afrikaners in die Vrystaat en Kaapkolonie se steun te werf in die Transvaal se soeke na onafhanklikheid.

Maar Brittanje sou nie sonder slag of stoot bes gee nie en die Boere sou nie meer die knie buig nie. Dit was ʼn resep vir oorlog.

Foto: Chrizelle Coleman

Die vonk wat die oorlogskruit laat ontplof het

Wat deurslaggewend was, was dat die nuwe liberale regering in Engeland van W.E. Gladstone op 8 Junie 1880 geweier het om die onafhanklikheid te herstel. Intussen het die Transvalers al hoe meer wapens en ammunisie gekoop. ʼn Nietige insident was die vonk wat die kruit laat ontplof het.

Op 7 Oktober 1880 het 130 burgers van Skoonspruit naby Potchefstroom onder kommandant P.A. Cronjé die landdros meegedeel dat hulle net bereid was om aan hul wettige regering belasting te betaal. Een van die manne wat geweier het, was Pieter Bezuidenhout. Die balju het toe sy wa gekonfiskeer om op ʼn veiling te verkoop. Die opbrengs sou gebruik word om sy belastingskuld te delg.

Op die dag van die veiling, 11 November 1880, het Cronjé en sy burgers wéér opgedaag, die afslaer van die wa afgesmyt en dit vir Bezuidenhout teruggegee. Kol. Owen Lanyon – vir die Boere sommer Lang Jan – was bly oor hierdie openlike verset. Hy het reeds lank gesoek na ʼn geleentheid om kragdadig teen die Boere op te tree. Hy het troepe gestuur om Cronjé en Bezuidenhout te laat vang.

Ook die leiers van die Transvalers, Paul Kruger en Piet Joubert, het besef dat die tyd van protes verby is. Hulle het ʼn nuwe volksvergadering belê, wat van 12 tot 16 Desember op die plaas Paardekraal by Krugersdorp gehou is. Aan Lang Jan se proklamasie wat die vergadering verbied het, het die Boere hulle nie gesteur nie. Tussen 4 000 en 5 000 het opgedaag, elkeen goed bewapen.

Op 13 Desember het die vergadering die wettige gesag van die Volksraad herstel. ʼn Driemanskap het die landsbestuur oorgeneem. ʼn Lang proklamasie is deur dr. Jorissen opgestel waarin die Transvalers uiteensit waarom die republiek herstel word.

ʼn Dag later het Paul Kruger gevra dat die burgers wat bereid is om ʼn verbond te sluit (dat hulle sal veg tot die vryheid herstel is) elkeen ʼn klip op ʼn stapel moet pak. Daarop is die Vierkleur gehys. Cronjé is dié dag met ʼn gewapende mag na Potchefstroom om die proklamasie te laat druk en versprei.

Foto: Chrizelle Coleman

Die eerste skote van die Vryheidsoorlog klap

Terwyl die burgers op 16 Desember deur Potchefstroom se strate ry, het die Britte op hulle geskiet. Dít was die eerste skote in die Transvaalse Vryheidsoorlog. Die Transvalers het nou van Heidelberg (Transvaal) die setel van die voorlopige regering gemaak en die Britse soldate op die Transvaalse dorpe beleër.

Lanyon het ʼn afdeling soldate onder kol. Philip Anstruther gelas om van Lydenburg na Pretoria te gaan om die garnisoen daar te versterk. Die Transvalers het kmdt. Frans Joubert opdrag gegee om hom te keer. Anstruther kon nie glo dat die Transvalers hom sal aanval nie en het geen verkenners uitgestuur nie.

Sy blaasorkes het ʼn vrolike wysie gespeel en sy manskappe het loop en perskes eet toe Joubert en sy manne hulle op 20 Desember 1880 by Bronkhorstspruit verras. Joubert het Anstruther versoek om sy mars te staak, maar dié het geweier.

ʼn Kort, maar hewige geveg het losgebars. Binne ʼn paar minute was twee derdes van die Britte dood of gewond. Anstruther is swaar gewond en het kort daarna gesterf.

Nou moes die Transvalers verhoed dat Britse versterkings uit Natal aankom. ʼn Mag was reeds onder genl. George Pomeroy Colley saamgetrek. Hy het Newcastle op 24 Januarie 1881 verlaat, maar vier dae daarna ʼn ernstige nederlaag by Laingsnek gely. Op 8 Februarie het genl. Nicolaas Smit hom by Skuinshoogte verslaan.

Die vlagtentoonstelling tydens die Majuba-fees.

Moedig op pad na Majuba

In die Vrystaat en Kaapkolonie het Afrikaners hul steun aan Transvaal toegesê en party Vrystaters het gaan help. Onder hulle was Christiaan de Wet, die later beroemde generaal. Die Transvalers was bereid om die stryd te staak, maar voordat hulle kon antwoord op Colley se voorstelle, het hy sy troepe laat opruk na ʼn strategiese punt: Majuba.

Teen die einde van Februarie 1881 het ʼn groot groep Britse troepe by Colley se magte aangesluit. Hoewel daar reeds sprake was van vredesonderhandelinge, het Colley besluit om aan te val om sy reputasie te red.

Hy wou die verrassingselement gebruik en het sy aanval in groot geheimhouding beplan. Op Saterdagaand 26 Februarie (ná aandete) het hy ʼn leërmag van 570 man beveel om in doodse stilte in die donker aan te tree. Die soldate het op sy bevel die berg Majuba in die nag bestyg – ʼn moeilike taak in die donker op ʼn onbekende terrein. Die laaste uitgeputte soldate het eers kort voor dagbreek die volgende oggend die suidwestelike punt van die bergtop bereik. Hulle het om die kruin se rand, wat sowat 1 300 m in omtrek was, versprei.

Die Transvaalse mag onder genl. Piet Joubert was aan die voet van die berg. Met dagbreek op Sondag 27 Februarie het sy vrou, mev. Hendrina Joubert, opgestaan en ʼn ketel water gaan kook buite die tent.

“Ek het daar gestaan en na die môrelig gelyk, en bo-op die berg het ek mense gesien. Ek het nog ʼn slag gekyk, en toe die generaal toegeroep: ‘Kom gou hier, daar is mense op die kop.’ My man kom buitekant, en hy sê: ‘Dis die versterkings wat ek verwag het.’ ‘Maar my man,’ sê ek, ‘vat jou verkyker, het ons mense dan rooi baadjies?’ ”

Toe Joubert besef dis Engelse, het hy sy manne beveel: “Daar is die Engelse nou op die kop – julle moet hulle gaan afhaal!”. Honderde vrywilligers, onder wie Christiaan de Wet, het die kop bestorm. Terwyl die voorhoede teen die helling uitklouter, het die agterhoede na die Engelse op die kop geskiet. Colley en sy manne het geen aanval verwag nie en toe die eerste Boere sigbaar word, was hul kanonne verkeerd gestel.

Sarsie ná sarsie het die Britte getref. Die Britte het bo van die kruin af op hulle geskiet, maar dit het hulle nie gekeer nie. Die burgers het alle moontlike skuilplekke benut en dit so doeltreffend gedoen dat die Britte nie besef het dat hulle besig was om al hoe hoër te klim nie. Hulle is wreed ontnugter toe die voorste burgers die noordelike kruinrand teen eenuur die middag bereik het en op ʼn kort afstand op hulle begin skiet het.

Die verdediging het vinnig gedisintegreer. Colley, wat die vlugtendes probeer keer het, is noodlottig getref. Nog 92 offisiere en manskappe het omgekom en 134 is gewond. Aan Boerekant het een gesneuwel en is vyf gewond.

Die stryd om die kruin van Majuba het net tussen tien en twintig minute lank geduur, toe ʼn digte mis skielik toegesak het en die veldslag beëindig het. Dit was een van die skitterendste militêre oorwinnings van die Afrikaner.

1024px-Majuba_LondonNews

Die Slag van Majuba. Foto: Wikipedia.org/Richard Caton Woodville, Jr.

Wankelrige vrede

Vredesonderhandelings was reeds aan die gang, waarin veral pres. Jan Brand van die Vrystaat as bemiddelaar opgetree het. Op 23 Maart is ʼn verdrag onderteken waarin die Britse regering die driemanskap van Kruger, Joubert en Pretorius erken het. Dit het in O’Neill se kothuis aan die voet van Majubaberg plaasgevind. ʼn Paar van die gesneuwelde Britse soldate is in ʼn klein begraafplaas voor die huis begrawe.

Die Pretoria Konvensie van 3 Augustus 1881 het nie Transvaal se onafhanklikheid volkome herstel nie, maar dit onder Britse susereiniteit geplaas. Hierdie vae begrip het beteken dat Brittanje toesighoudende beheer behou het oor sowel die buitelandse beleid van Transvaal as sy wetgewing oor die swart gemeenskappe in sy gebied.

Die daaropvolgende Londense Konvensie van 1884 het volkome binnelandse onafhanklikheid (soewereiniteit) aan Transvaal toegestaan, maar die beperking op sy buitelandse beleid het bly staan.

Majuba het vir die Britte die simbool van nederlaag geword – ʼn nederlaag wat gewreek moes word. Hulle sou negentien jaar later daarin slaag toe lord Roberts in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog op Majubadag vir generaal Piet Cronje by Paardeberg tot oorgawe gedwing het en generaal sir Redvers Buller op dieselfde dag op die Natalse front deur die Boere se verdedigingslinie gebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Matrone ·

Vir iemand wat lief is vir die ou geskiedenis, was hierdie baie insiggewend. Lekker baie inligting.

koos10 ·

Dankie Pertonel, baie “nice” artikel.
Ek sit so in stilligheid en wonder waar SA vandag sou gewees het as dit nie vir die dapperheid van die boere en die res van die mense was nie?

Wielspore ·

Na my mening is Afrikaanse mense dapper mense, daarmee praat ek geen ander kultuur sleg. Die burgeroorlog tussen Boere en Britte is ‘n bewys daarvan. Daar is heelwat plekke waar daar veldslae plaasgevind het soos by Amajuba. Hier naby ons by Kaapsehoop was ook veldslae, ons gaan gereeld soontoe met metaal verklikkers en vind verskeie items wat die veldslag bevestig. Van die goedere wat ons al gevind het, perde skoene, perde stubeels, koper hemp en baadjie knope, onderbroek knope, gedeeltes van ‘n mondfluit, geroeste rewolwer, wapen rondtes (verskeie soorte), geld (pennies), tent penne, lood harde hoedens en nog ander items.
Afrikaanse mense was in die burger oorlog en het na die tyd ‘n reuse sukses van ons land gemaak, ek het nog nooit enige haat tussen Boer en Brit gesien agv die oorlog. Die vredes ooreenkomste van lank terug word tot vandag toe ge-eerbied. SA het ‘n ryke geskiedenis wat verdien om meer onder die jong mense vertel te word.
Baie mooi berig.

Wielspore ·

Terloopse opmerking – In my huis is ‘n lessenaar wat volgens my oorlede pa aan President Steyn behoort het, hierdie lessenaar was tydelik op ‘n ossewa vevoer na ‘n plek waar die die Vrede van Vereeniging geteken is.

Pieter ·

Gee aan God die eer van die oorwinning. Paardekraal Gelofte. Dit is vandag weer moontlik. Dit is wat die ryk geskiedenis my leer.

Niklaas ·

Ons land is nou wel jonk , maar het ‘n ryke geskiedenis. Hoop dit kan bewaar word en nooit uitgewis raak nie. Daar sal weldra nog baie pogings wees om al die feite te verdraai of vernietig. Goeie artikels soos hierdie dien as teenvoeter daarvoor en is lekker leesstof vir die geskiedenis liefhebber.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.