Man stap 1 200 km ‘vir Jesus’

Hy is nou slegs 30km van Britstown. Foto: Facebook via Uitsig gemeente

Hy is nou slegs 30km van Britstown. Foto: Facebook via Uitsig gemeente

Adriaan Entres, ʼn gemeentelid van die Uitsig-NG kerk in Bloemfontein in die Vrystaat, het onlangs drastiese stappe geneem om sy kerk van finansiële ondergang te red.

Entres is tans besig met “ʼn staptog vir Jesus” van meer as 1 200 km om te probeer geld insamel sodat dié kerk sy deure kan oophou.

“Ek doen dit nie vir mense, die gebou of selfs vir die dominee nie. Hierdie doen ek vir Jesus. Mense kry finansieel swaar en ek kan nie dat die kerk daaronder ly nie,” sê hy.

Die staptog strek van Bloemfontein tot Saldanhabaai in die Wes-Kaap. Entres het vroeër vandeesweek uit Bloemfontein vertrek en was ten tye van sy gesprek met Maroela Media 30 km buite Britstown.

“Ek het reeds meer as 300 km gestap. Ek het die ongelooflikste mense ontmoet. In die Karoo het ʼn boer langs my afgetrek en met my begin gesels oor die inisiatief. Hy het toe gereël dat ek by vriende van hom se gastehuis in Britstown oorbly sodra ek daar kom.”

Entres stap met donasievorms in sy rugsak met die hoop dat verbygangers skenkings vir die kerk sal maak. “Ons het ook die gemeentelede gevra om vir elke kilometer wat ek stap iets by te dra. Ek glo en vertrou die Here sal vir ons die paaie gelyk maak.”

Hy beplan om die volgende paar dae deur plekke soos Victoria-Wes, Melton Wold, Loxton en Carnarvon te loop. “Ek stap sonder enige geld of planne. Al wat ek het, is my geloof en dat die Here ʼn uitweg sal gee. Tot dusver was my paaie net gelyk en het ek net wonderlike mense ontmoet.”

ʼn Staptog na Saldanhabaai sal Entres ten minste tot die einde van Maart op die pad hou. Hiervoor sien hy egter kans. “Ek voel geroepe om dit te doen. Ek glo en vertrou in mense se goedheid.”

Mense wat in die omgewing vir Entres wil slaapplek bied, kan hom skakel op 071 467 6713. Bydraes aan die kerk kan gemaak word deur vir Etricia te skakel by 051 522 2780 of 051 522 2763 vir verdere besonderhede. Besoek ook Uitsig gemeente se Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Eileen ·

Ek sak my kop in skaampte. Alle voorspoed Adriaan, mag die Here jou en jou gemeente seen.

Cheryl ·

Wow, wow, wow dis hoendervleis mooi..

Mag die Here jou ryklik seen..

Willie ·

Is hierdie man nie net maar ń avontuurlistige man wat ń eenmalige bedraggie gaan insamel nie? Die Here verwag nie dat hy sy liggaam moet verniel nie. Jesus het dit reeds aan die kruis gedoen. Weet die man se bure dat hy ń kind van die Here is? “Charity begins at home”. Gaan werk in die dorp, bid vir siele, leer hulle en doop hulle. Dit is die opdrag. Eileen, jy het niks om oor skaam te wees nie, behalwe as jou vriende nie weet dat jy Jesus ken nie. Is die man se misie dalk nie net geld, en nie siele nie.?

Esmarie Pretorius ·

Hi Willie, het jy al ooit van die woord oordeel gelees in die Bybel, want dit lyk nie vir my so nie. Jy wil nou sommer ‘n hele opsomming van die situasie maak deur ‘n kort berig te lees. As jy so slim is hoekom samel jy nie namens hom geld in vir sy gemeente nie, of kom jy net met ‘n klomp verskonings sodat jy nie sleg voel as jy nie ‘n bydrae maak nie.

Willie ·

Esmarie, lees Johan se skrywe. (Laaste twee paragrawe). Dit is jou antwoord. Ek sien nêrens in die Woord van fondsinsamelings nie..

rudi ·

Die eerste gemeentes in die bybel was reeds om die swakes(siel en vlees) te help met geld. Hoe stel jy voor help ons?

Fransie ·

Ai maar die ou mensdom is sinies. Sterkte Adriaan en ek hoop jy behaal groot mylpale. Let wel, hy ontvang geen geld nie, hy dra slegs vorms by hom vir donasies en kerk se besonderhede word gegee- nie sy persoonlike bank rekening nommer nie.

Willie ·

rudi nie geld nie. Jesus het gesê: Toe ek naak was het julle my geklee (nie geld nie)
Toe ek honger was het julle my gevoed (nie geld nie) Toe ek Dors was…….ens.

Johan ·

Hi Adriaan die ng kerk se deure word toe gemaak omdat die ng kerk die Bybel verdraai en misken soos bv hulle besprinkle babas in plaas van doop bekeerdes. Hulle hang Luther , Calvyn se leerstellings aan en hulle leraars verdraai die Bybel soos dit hulle pas. Adriaan al loop jy nog 2000km gaan jou dade niks kan doen om God te beindruk. Gaan praat eerder met jou dominee om die Bybelse boodskap oor te dra dan sal jy sien God sal in genade in gryp.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.