Man wil 200km draf teen renosterstropery

Jy kan help om die projek 'n sukses te maak. Foto: Verskaf

Jy kan help om die projek ʼn sukses te maak. Foto: Verskaf

Die Tafelronde van Witbank het pas ʼn projek van stapel gestuur wat sal help om by te dra tot pogings om renosterstropery te bekamp.

In 2015 is meer as 1 200 renosters in Suid-Afrika alleen gestroop.

Charl Venter, ʼn lid van die Witbank-tafelronde, gaan vir dié projek van Witbank na Nelspruit draf oor ʼn tydperk van vier dae.

“Ek is ʼn baie aktiewe mens en het besluit om die tog tussen die twee dorpe aan te durf. Dit beteken ook ek sal hard moet werk vir mense se ondersteuning van die projek, want dis nie bloot net iets wat mens ontvang nie,” het Venter gesê.

Hy sê mense moet betrokke raak by kwessies soos renosterstropery om dit te probeer bekamp. “Ons kan hierdie taak nie alleen verrig nie en vra die publiek om bystand te lewer met skenkings. Dit gaan vir ʼn belangrike doel gebruik word.”

Venter beoog om daagliks 52km tussen die twee dorpe af te lê en tuis te gaan by vriende. Hy gaan daagliks langs die N4-hoofweg draf en verbygaande motoriste kan ook die projek ondersteun.

Vir die laaste 21km van die tog wil die Tafelronde ʼn pretdraf aanbied. “Ons wil vir die laaste 21km die publiek uitdaag om aan ʼn pretdraf deel te neem. Ons dink dit kan opwindend wees en die publiek op ʼn prettige wyse betrokke kry.”

As jy by die projek betrokke wil raak, kan jy die woord “Rhino” SMS na 38720 om ʼn R10-skenking te maak. Besoek ook die Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.