Matriekleerder kyk vorentoe nadat sy amper been verloor

Luca in die waakeenheid saam met haar suster, Micala en haar vriendin Megan (Foto: Verskaf)

Luca Smith (17) het ʼn jaar gelede gedink sy gaan nooit weer kan loop nie, dat sy haar been gaan verloor en dat haar lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie, maar vandag kan sy weer oefeninge doen, is sy besig met haar matriekeksamen en hou sy haar oog op die toekoms.

Smith, wat op daardie stadium ʼn gr. 11-leerder aan Hoërskool Vryburg was, was op 16 November verlede jaar op haar motorfiets op pad na ʼn vulstasie net buite Vryburg toe ʼn kar in haar vasgery het. Die slag het haar van haar motorfiets af in die lug ingeslinger en sy het met die terugval in die teerpad beland.

“Ek het geskree vir my vriendin om my uit die pad uit te sleep, want daar was ʼn vragmotor op pad wat oor my sou ry,” vertel sy aan Maroela Media.

Haar vriendin het haar uit die pad uit gesleep en ʼn barmhartige samaritaan, na wie Smith as “Oom Grant” verwys, het by haar langs die pad kom sit.

Luca by ‘n skooldans vroeër die jaar (Foto: Verskaf)

“Hy het my kop op sy bene gerus en hy het heeltyd vir my gesê alles gaan oukei wees. Hy het my kalm gehou langs die pad.”

Smith se regterbeen se patella het in die ongeluk gebars, haar patella-tendon was geskeur, ʼn stuk van haar achilles-tendon was uitgerek, sy het permanente senuweeskade aan haar pinkie opgedoen en haar regterhand se gewrig se tendon het ook seergekry. Sy vertel dat sy verskriklik baie bloed op die toneel verloor het.

Smith se ouers is gekontak en hulle het saam met haar in die ambulans na die hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Smith was vir ʼn maand lank in die hospitaal en vir ʼn week in die waakeenheid. Sy moes in dié tydperk sewe operasies ondergaan en kon vir die maand glad nie loop nie.

Luca saam met haar suster en vriendin in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Sy is net voor Kersfees uit die hospitaal ontslaan, maar moes toe steeds gebruik maak van ʼn rolstoel en krukke.

“Ek was te swak om te loop, so ek is so met my rolstoel aan die begin van vanjaar skool toe. Soos die jaar aangegaan het, en soos wat ek fisioterapie en rehabilitasie ontvang het, het my been beter en beter geword. Maar ek loop nou nog steeds af en toe met krukke of gebruik die rolstoel, my been is nog nie 100% reg nie,” sê sy.

Smith was besig met haar finale gr. 11-eksamen toe die ongeluk gebeur het, en sy kon daarom drie van haar vraestelle nie voltooi nie. Haar punte is wel verwerk en sy kon deurgaan na matriek.

Volgens Smith was dit een van die moeilikste goed vir haar om nie gewone matriek-goed saam met haar klasmaats te kon doen nie.

“Ek het gesukkel om gemotiveerd te bly, want al die ander matrieks geniet hulle en gaan uit, en ek kon glad nie saamgaan nie,” sê sy deur haar trane. “Dit was ook moeilik om te leer, omdat ek so baie pynpille moes drink, wat my vreeslik moeg gemaak het die heeltyd.”

Luca by haar mariekafskeid (Foto: Verskaf)

Smith sê sy het baie ondersteuning van haar ouers, haar suster, Micala, en haar twee goeie vriendinne, Megan en Carita, gekry, wat haar motiveer het om nie moed op te gee nie. Sy sal ook ewig dankbaar wees aan Oom Grant wat na haar gekyk het in haar kwesbaarste oomblikke.

Sy sê sy was ook verbaas oor hoe haar skool haar ondersteun het. “Van die onderwysers het selfs Potchefstroom toe gery om vir my in die hospitaal te kom kuier,” vertel sy.

Die skool het ook oral waar dit nodig was opritte vir haar rolstoel gemaak en voorsiening gemaak waar dit nog was. “Almal was so vriendelik en het my probeer help,” sê sy.

Ten spyte van al die struikelblokke wat Smith moes oorkom, het sy kop bo water gehou tydens haar matriekeksamen, waarmee sy binnekort klaar is.

“Daar was moeilike goed, maar ek dink dit het goed gegaan.” Smith sê sy verwag om so drie onderskeidings te kry. Sy het reeds voorlopige goedkeuring gekry om kliniese sielkunde aan Noordwes‑Universiteit se Potchefstroom‑ kampus te studeer.

Smith vertel dat sy nie genoeg buitemuurse aktiwiteite kon doen na haar ongeluk om punte op te maak om by ʼn universiteitskoshuis in te kom nie, maar dat sy nou by ʼn dorpskoshuis gaan inskakel.

Luca en haar ma by haar matriekafskeid (Foto: Verskaf)

Smith kyk vorentoe na die ongeluk, en sê sy is dankbaar dat sy al so ver gekom het in ʼn jaar se tyd. Sy gaan vir haar matriekvakansie saam met vriendinne en haar suster Hartenbos toe voordat hulle universiteit toe gaan.

“Ek het nooit gedink dat ek ooit weer sal kan loop nie, hulle het gedink hulle gaan my been moet amputeer. As ek vandag terugkyk, dan kan ek nie dink ek is vandag waar ek is nie. Ek sou dit nie sonder al die hulp kon doen nie.”

Smith sê dit was juis haar matriekafskeid en haar matriekvakansie wat haar deur die loop van die jaar gemotiveer het, want dit is dinge waarna sy kon uitsien.

Haar skool het ook aangebied om ʼn oprit te bou by die matriekafskeid, sodat sy met haar rolstoel kon inkom, maar Smith het besluit om haar rolstoel by die huis te los en was ʼn visioen in rooi toe sy by haar matriekafskeid instap op daardie selfde twee bene wat ʼn jaar gelede so kwesbaar was.

Onthou om nou reeds te registreer om seker te maak jy weet wanneer jou uitslae op Maroela Media beskikbaar is. Registreer hier: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/projekte/matrieks-2019-registreer-nou-om-jou-uitslae-te-kry/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Waarheid ·

Mooi mooi mooi!
Dankie vir almal se bystand met hierdie jonge dame!!!
Ook Oom Grant!!!!

Oumie ·

Maroela media – Behoort die opskrif nie ‘matriekleerder’ ipv ‘matriekleerders’ te wees nie?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Oumie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
Nms Maroela Media

Belangstel ·

Luca jy lyk fantasties. Sterkte vorentoe. Dankie vir die bystand Grant.

Michelle ·

Wat n ongelooflike mooi meisiekind, mag die Here jou nog seën vir baie jare!

ek stem saam ·

@waarheid
stem saam met die mooi, mooi, mooi, nooi
ek hou vir jou duim vas vir die matriek uitslae
mag jy en jou vriende ‘n woderlike Kersfees by die see geniet en kom veilig tuis
sterkte met die gesondheid en gemoed
ek bid saam met ander vir genesing

Maria ·

My trane loooop jy so mooi en n pragtig meisie. Ek so trots op jou en dankie aan al jou vriendinn dit so skaars om goeie vriendinne te he dankie. Sterkte voortoe en voorspoed.

LIEZL ·

Wat ‘n pragtige meisie! Alle geluk en voorspoed word jou toegewens. Mag ons Vader Sy hand oor jou hou met jou pad vorentoe!

speedguard ·

Hoop jy is in goeie hande met jou eis teen die padongelukke fonds!~

Ep ·

Wat n pragtige verhaal …. Luca ek wens jou n spoedige en volkome gestel toe Ons moet nie vergeet om ons hoede te lig vir haar skool se bydrae …. Ysters

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.