Mej. SA wil jonges leer om werkskeppers te wees

Lalela Mswane, Mej. SA 2021, se #BeReady-veldtog is ‘n gratis maandelikse aanlyn opvoedingsreeks. (Foto: Verskaf)

Lalela Mswane, Mej. Suid-Afrika 2021, gaan op ʼn entrepreneursreis en wil veral jong mense nooi om hul potensiaal as werkgewers te ontsluit.

Die 24-jarige Mswane, wat haar regsgraad aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 2019 verwerf het, het jeugwerkloosheid ʼn groot fokuspunt van haar werk as Mej. Suid-Afrika gemaak en wil deur haar #BeReady-veldtog werksoekers inspireer en motiveer om eerder werkskeppers te word.

Die #BeReady-veldtog is ʼn gratis maandelikse aanlyn opvoedingsreeks waartydens Mswane met verskillende sakekenners, entrepreneurs en lede van die publiek gesels om ontluikende entrepreneurs meer oor die basiese beginsels van die sakewêreld te leer. Terselfdertyd gaan sy haar eie entrepreneursonderneming – ʼn aanlyn kleremaatskappy – aanpak en haarself as praktiese voorbeeld gebruik om die slaggate én suksesse van entrepreneurswese uit te wys.

Haar onderneming, “positiviTee’s”, is daarop gemik om T-hemde met positiewe boodskappe daarop te verkoop.

Maroela Media het vroeër berig dat 12,5 miljoen Suid-Afrikaners einde verlede jaar werkloos was, met slegs 7,6 miljoen wat in daardie stadium aktief na werk gesoek het.

“Werkloosheid is iets waaroor ek baie passievol is omdat ek self werkloos was kort voordat ek aan Mej. Suid-Afrika deelgeneem het. Daarom begin ek ook my eie sakeonderneming sodat ek en die publiek op ʼn praktiese manier saam kan leer,” sê Mswane.

Jeugwerkloosheid is ʼn groot fokuspunt van Mswane se werk as Mej. Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Die #BeReady-inisiatief gaan egter nie net fokus op sakegroei nie, maar ook op sakebehoud. “Die Buro vir Arbeidstatistiek sê dat 20% van nuwe ondernemings binne die eerste twee jaar misluk. ’n Verdere 45% sluit hul deure in die eerste vyf jaar en ʼn verstommende 65% in die eerste tien jaar,” sê Mswane.

Die program sal in sewe episodes opgedeel word en lig werp op belangrike onderwerpe soos die opstel van ʼn sakeplan, die registrasie van ʼn maatskappy, wat intellektuele eiendom behels, marknavorsing en bemarking.

Die aanbiedings sal op die laaste Vrydag van elke maand op Mswane se sosialemediaplatform sowel as dié van Mej. SA gedeel word:

Kyk hier om meer oor die #BeReady-veldtog te leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Sterkte, jong mens luister nie. Veral nie jou jong mense nie.

Pieter9 ·

Soos al die Mej SA’s nou beplan om werk te skep behoort daar ‘n waarneembare daling in werkloosheid oor die volgende 12mnd te wees. Die fondsinsamelaars moet net nie vergeet om die oorbetalings te doen nie.

Kokerboom ·

Edele gedagte maar droom voort. U regering blokkeer werkskepping en mense wil nie meer werk want alles kry hul verniet..as jou konneksie reg is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.