Mentors in skole onontbeerlik

Nico Grobler en sy mentor Rudi de Beer van die Laerskool Du Preez van Wyk in Bronkhorstspruit het die Skoleondersteuningsentrum se mentorskapkompetisie of Facebook gewen. Foto: Verskaf.

Navorsing deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Vooruitgang (CDE) wys dat Suid-Afrika teen 2025 ’n heelwat ouer onderwyserskorps sal hê, met die grootste persentasie onderwysers wat tussen 50 en 59 jaar oud is.

Dit is ongelukkig ook weens ouderdom dat meeste onderwysers aftree. Hierteenoor sal die kleinste persentasie onderwysers tussen 40 en 49 jaar oud wees, die ouderdom wat onderwysers gewoonlik senior- en leierskapposte beklee, wat beteken dat min ervare onderwysers teen 2025 beskikbaar sal wees om hierdie poste te vul. Gevolglik sal jonger en minder ervare onderwysers noodgedwonge in senior poste aangestel moet word.

Daarom, sê Melanie Buys, onderwyskenner van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), moet skole ’n behoorlike mentorskapprogram gereed hê waar meer ervare onderwysers die jonger onderwysers onder hul vlerk kan neem en die nodige leiding en advies bied.

“Effektiewe mentorskap en onderlinge ondersteuning van kollegas versterk nie net samewerking nie, dit het ʼn gunstige impak op die gehalte van onderrig en skep ʼn positiewe leerkultuur in ʼn skool,” sê Buys.

Om onderwysers te herinner aan die waarde van ʼn goeie mentor, het die SOS onlangs ʼn Facebook-kompetisie van stapel gestuur, waartydens onderwysers hul mentors moes identifiseer en vertel watter verskil dit in sy of haar loopbaan gemaak het.

Twee rugbykaartjies na die wedstryd tussen die Springbokke en All Blacks op Loftus was op die spel. Inskrywings van oor die land heen is ontvang.

“Ongeag die feit dat Laerskool Hendrik Louw se personeel almal as mentors gesien kan word, is ek in die bevoorregte posisie om vir juffrou Loraine Diesel as my mentor te hê. Sy is ‘n ongelooflike kunstige, passievolle mens wat nooit huiwer om iemand te help as hulle iets nodig het nie,” skryf Joane Groenewald op Facebook.

Nico Grobler en sy mentor Rudi de Beer van die Laerskool Du Preez van Wyk in Bronkhorstspruit het egter die kaartjies gewen. Grobler sê dis danksy De Beer se leiding dat hy binne die eerste jaar as onderwyser sukses kon behaal en steeds sy werk geniet.

De Beer gee al 23 jaar by dieselfde skool klas en Grobler was selfs destyds een van sy leerders.

“Dit maak ’n reuseverskil om te weet ek kan enige tyd by meneer Rudi aanklop vir raad en leiding. Hy is altyd beskikbaar en nie suinig met sy kennis nie,” sê Grobler.

De Beer meen goeie mentorskap vanaf skoolbestuur het ʼn positiewe invloed op onderwysers en sypel deur na die leerlinge.

“As ’n skool ’n behoorlike mentorskapprogram opgestel het, kan jong onderwysers groei en sukses behaal, ten spyte van uitdagings binne die onderwys,” sê De Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.