Mimi Coertse word 85: Elke noot ʼn hoogtepunt

Die FAK het Coertse Maandag met ‘n koek verras. Foto: FAK

Dit voel soos ʼn kort nagrus gelede toe haar hoë note so amper tot in die uithoeke van die aarde weerklink het: Suid-Afrika se eie primadonna – “onse Mimi” – die lieflingsopraan wat die wêreld kiertsregop laat sit het. ʼn Ware diva, met reg én in eie reg.

Nou gesels dié stem nog lekker, maar sing nie meer nie. Die Towerfluit – sekerlik haar enkele bekendste stuk toe sy as Koningin van die Nag dié opera deur Mozart sowat vyf honderd keer op die verhoog laat leef het – is maar ʼn plaat êrens in ʼn donkerhoutkas in haar koel musiekkamer gebêre.

Die enigste note wat nog vandag teen die mure van haar grasdakhuis in Pretoria weerklink, is dié van haar roomkleurige vleuelklavier teen die boogvenster – die enigste plek in dié vertrek waar die son ʼn gesellige en welkome skuilplek in die koue winterweer bied. Elke nou en dan word dié vertrek vir kuiers saam met vriende gebruik, dan bring elkeen ʼn album of ʼn plaat en die ander moet raai aan wie die stem behoort.

Dié stem is nooit meer hare nie.

“Daar is absoluut niks negatief of morbied daaraan nie,” keer sy my – geneig om te oordramatiseer – toe ons in die sitkamer gaan sit. Sy kies die orestoel. “Jislaaik, dis darem nie só erg nie. Ek glo nog altyd daar is ʼn tyd vir alles. Ek het ʼn wonderlike loopbaan gehad, ek het baie bereik en ek het alles gesing wat ek wou.

O, hel. Toe ek jonger was, was ek ongelooflik begeester. Heerlikheid, ek was begeester gewees. Nou is ek nóg entoesiasties, maar nie werklik meer begeester nie. Ek het in elk geval lank gesing, tot ná 2012 nog. Dit was bloot tyd om op te hou – dit voel reg. Ek het tot onlangs nog elke nou en dan gesing, net om te kyk of ek nog kan, maar deesdae nie meer nie.”

Mimi Coertse in die rolprent ‘Nooi van my hart’ (Foto: Wikipedia)

Die goue armbande aan haar regterarm klingel wanneer sy aan haar truitjie voel-voel. Sy mag dalk gʼn lus hê om op ʼn verhoog te klim nie, maar blyk slaggereed te wees geklee in ʼn swart uitrusting met haar opgetooide hare en blink juwele.

Onse Mimi, soos die volk liefdevol na haar verwys, is ʼn hupse 85 jaar oud. Maar dis nét ʼn nommer, want agter haar stoute giggel wanneer sy oënskynlik ingenome is, ʼn stewige tongklap as sy minder ernstig is en die duiweltjies wat in haar oë dans, is sy steeds dieselfde Mimi wat gehore in onder meer Europa, Italië en Portugal in operas soos Lucia di Lammermoor en The Magic Flute in vervoering gehad het.

Haar keuse om nié meer te sing nie het immers niks met haar 85 jaar te make nie. Ja, erken sy, sy hét voorheen vertel van ʼn geval waar konsertgangers op ʼn gemene wyse na ʼn ouer sangeres verwys het en in die onderhoud genoem dat sy liefs sulke aanmerkings wil vryspring, maar om die eerlike waarheid te sê, pla dié aanmerkings van konsertgangers nou nie eintlik ʼn wêreldberoemde sopraan nie. “Dit wás net tyd. En die een ding wat ʼn mens vir jouself moet doen, is om na jouself te luister.”

Haar linkerkantse mondhoek lig gereeld voor of ná ʼn vraag aan haar gestel is. Dis nie afkeur nie, sal jy later eers besef, maar amper ʼn manier waarop haar gesig saam dink en verwerk aan die vraag wat in die lug hang.

Mimi Coertse in konsert (Foto: YouTube)

“Daar is nie ʼn enkele ding waaroor ek spyt is nie. Nie een ding nie. Inteendeel, ek is gevul met dankbaarheid vir só ʼn wonderlike lewe en loopbaan. En om op 85 só sterk en gesond te voel, is ʼn wonderlike voorreg. Heerlikheid, dank die Here ek is gesond en gelukkig.”

Die spier in haar mondhoek spring weer, maar word dié keer onderbreek deur ʼn lag vir Roberto – ʼn ronde mini-pinscher-hondjie wat “net vandag” sukkel om tot bo-op die bank te spring. Sy voer hom en Schätzli – ʼn skattige Schnauzer – nie eens meer biltong nie, vertel sy, daarom kan sy nie verstaan hoekom die hondjies steeds sulke pokkeltjies is nie.

ʼn Bars kyk en halwe glimlag is die leidraad om die gesprek voort te sit.

Mimi was maar ʼn bloedjong dogtertjie van jonger as tien jaar oud toe sy die eerste keer begin sing het. Haar een broer, Willie, was ʼn “fantastiese pianis”, en hy het gereeld langspeelplate huis toe geneem en haar op die klavier begelei. Later jare het sy ook as solis in die kerk opgetree en dit is eers tóé dat sy besef het sy het moontlik ʼn talent – en daarby een wat nié gereeld uitgedeel word nie.

Mimi Coertse in konsert (Foto: YouTube)

Van haar musiekonderrig sluit onder meer opleiding deur Maria Hittorff en Josef Witt in. In 1950 was sy die eerste ontvanger van die FAK-musiekbeurs (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge). Dit was die begin van ʼn lang verbintenis met dié organisasie. Vandag bevorder sy in samewerking met dié organisasie Afrikaanse musiek vir sowat 67 jaar.

Op 21-jarige ouderdom het sy oorsee getrek om haar operaloopbaan na te streef en op 23-jarige ouderdom is sy die jongste persoon wat permanent in die Weense Staatsopera aangestel is. Die geliefde sanger het dié pos van 1956 tot 1973 beklee en wyd saam met hulle getoer.

Géén hoogtepunt kan uitgesonder word nie, sê sy. Daarvan was daar gans te veel in haar roemryke en bekroonde loopbaan.

“Italië was wel pragtig – dit was heerlik om daar te sing. En Spanje ook, die mense het jou altyd soos een van hul eie laat voel. Ons is ongelooflik goed behandel as ons daar gesing het. Selfs in Holland ook, hulle het ʼn merkwaardige kultuur.”

Sy gooi haar regterhand in die lug, kyk by die venster uit. “As daar iets is waaroor ek nié mal was nie, is dit om in Frans te sing. Ek het bloot nie daarvan gehou nie. Die taal het net nie vir my lekker gesing nie.”

Mimi Coertse (Foto: Atterbury Teater/Verskaf)

Na Wene (Oostenryk) – haar tuiste vir twee dekades – verlang sy baie terug. “Ek verlang baie na Wene. Dit was vir baie jare my huis gewees en ek het lief geraak vir die land. Ek is steeds nie spyt nie en ek sal steeds nie trek nie, maar in my hart verlang ek dikwels terug daarna.”

Eerder heimwee as verlange, sê sy ná ʼn kort stilte. Dieselfde heimwee as daardie een waarvan gepraat word in S Le Roux-Marais se gelyknamige lied. Dié lied wou sy nooit oorsee sing nie, want sy het gewéét die trane sal vloei. Dit is toe presies wat gebeur het tydens ʼn konsert in Wene toe sy dié lied vir die eerste keer sing.

“Ek het in die middel van die lied begin snik,” glimlag sy. Haar gesig is vol emosie. Die mondhoek spring. “Toe ek so onderdeur my trane na die gehoor loer, toe sien ek byna die hele gehoor het hulle sakdoeke uitgehaal en saam gehuil. Dit was ʼn wonderlike oomblik. Heerlikheid, dit was wonderlik.”

Om só ’n suksesvolle loopbaan te hê, is in wese eintlik ʼn groot verantwoordelikheid, sê-vra ek. Dit kan sekerlik ʼn las raak om só opgehef te word.

“Nooit nie,” sê sy ernstig. “Dit was vir my soos ʼn eretitel. Dit was ʼn vreeslike groot kompliment gewees dat mense my raaksien en waardeer, en dit is vandag steeds ʼn kompliment as mense ʼn ophef maak.”

Sy huiwer ʼn stonde, klap dan haar tong en rol haar oë. “Al wat my ondergekry het, en ook nie so baie nie, is dat ek in daardie tyd in Wene byvoorbeeld avontuurlustige goed soos skermsweef en motorwedrenne moes prysgee. Herbert von Karajan [die beroemde dirigent saam met wie sy nou gewerk het] het vir my gesê ek word in my kontrak verbied om aan sulke sport deel te neem, omdat ek nie iets mag oorkom nie. Hulle sou my keer, selfs al het ek na die bane gegaan. Vandag lag ek daaroor.”

Oor een ding voel sy baie sterk: Daar word nie naastenby genoeg gedoen vir klassieke musiek in Suid-Afrika nie. “’n Mens moet bekommerd wees daaroor – ons woon in ʼn groot stad en nêrens in die hele Pretoria word ʼn opera gehou nie. Dit is ʼn jammerte; daar is soveel talent wat ontgin kan word. Suid-Afrika het soveel om te bied.”

Mimi Coertse op die voorblad van Die Huisgenoot, 10 Januarie 1958 (Foto: Wikipedia)

Oor opleiding in klassieke musiek blaf sy nie sommer nie: Vandat sy nie self meer sing nie, gee sy op vryskutbasis opleiding vir ander. “Dis ʼn gewigtige saak,” kyk sy my stip in die oë. “Dit kan nie sommer net wegval nie.”

Mimi – drie keer getroud en geskei – vertel sy is vandag op haar gelukkigste. Sy lig haar wenkbroue en vou haar hande saam. “En nie ʼn enkele ding skort nie. Ek is lief vir my kinders [Werner (40) en Mia (42)], ek is gelukkig hier by my huis en ek het wonderlike vriende. Ek soek beslis nie weer na ʼn ernstige verbintenis nie,” sê sy. Sy bly ʼn oomblik stil. “Maar ek sal nie nee sê vir iemand om dinge mee saam te doen en te beleef nie. Maar dit is dit. Niks meer nie.”

Wat hou jaar 85 in?

Sy knyp haar oë styf toe, die mondhoek spring.

“Ek is elke jaar bang mense gaan my begin tannie noem. Jislaaik, solank mense my net nie tannie noem nie, is alles nog oukei,” terg sy. Sy skuiwe in haar stoel rond. “Ek hoop die toekoms bly so lekker soos dit nou in die hede is. Ek hoop ek bly gesond en sterk sodat ek nog lank my kinders, my hondekinders en my vriende kan geniet. En dis dit. Dit is wat nou vir my die wonderlikste is.”

Voor ons groet, draai ons in die musiekkamer. Haar oë beweeg na ʼn musiekblad op die vleuelklavier. 1721, lewer Google bystand vir die Romeinse “MDCCXXI”-getal voor in die boek. Haar vingers blaai deur die musiek.

“Ja,” sug sy ʼn laaste keer. “Dis darem pragtig.”

En met dié gebaar, groet “onse Mimi” met die volgende wete: In dié huis, ten minste in haar hart, sal die musiek nooit stil raak nie.

Die FAK het Maandag hul jongste sangbundel – 80 jaar ná die eerste van dié bundels gepubliseer is – aan die sangeres oorhandig. Dr. Danie Langner, Besturende direkteur van die FAK, sê dié organisasie sal altyd haar bydrae tot Afrikaans, die musiekindustrie, kunstenaars en Afrikaners koester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koorkind ·

Tannie Mimi. Ongeveer 30 jaar terug het ‘n kinderkoor van Pretoria saam met jou ‘n opname gedoen by die SAUK. Jy sal dit seker nie onthou nie, maar ek was in die koor. Ons was so opgewonde on saam met ‘n wêreld bekende te sing, en ons het baie foute gemaak. (Ons het net een keer per week vir 3 ure geoefen.) En daar, voor ons almal het tannie ons beledig, dit het seer gemaak (die persiese woorde sal ek nie herhaal nie, maar ja dit is in my kop in gebrand!), maar u het darem vergoed daarvoor om wel die opname te doen op ‘n later stadium. Daarna het ons koor saam met nog baie bekendes uit die musiek wêreld opgetree (Jannie du Toit, Carika ens), maar daar het ek besef dat die sing wêreld baie hard en ongenaakbaar is.
Maar oversetsyns, baie geluk met u 85 jare. Hoop dat u hierdie nuwe jaar ten volle gaan geniet!

Kollie ·

Wel wat verwag jy? Sy was ‘n wereldklas ster en haar reputasie was op die spel. Jy se self julle het slegs drie ure ‘n week geoefen en dan wil julle saamsing met ‘n persoon wat net aan die hoogste, professionele standaarde gewoond is. Ek sou ook vies gewees het.

SARIE VAN HEERDEN ·

Mimi Coertze het mooi gesing en ek het baie van haar destydse “plate” maar ek raak skoon lam as daar met ‘n onderhoud begin word en al waaroor sy praat is Die Koningin van die Nag.

Ai ·

Sarie, ek moet nou eerlik se ek weet niks van Mimi Coertse af nie… Maar ek weet wel van Queen of the Night en dis omdat nie baie mense dit kan sing nie en ek het al negatiewe kommentaar gelees oor een of twee sangeresse, maar moet se ekt nog nie iets negatiefs gelees oor haar weergawe nie. Gun haar maar haar prestasie.

Elisabet de Lange ·

As ek Koningin van die nag kon sing en daardie fantastiese hoe note, sou ek nooit opgehou het om daaroor te praat nie! So n stem word glo net een maal in 400 jaar gebore! Dankie Mimi vir dit wat jy aan ons gegee het, steeds gee en doen. En dankie dat jy nie net opera, maar ook die Kunslied so geliefd onder ons gemaak het. Ons eer jou, geseende nuwe lewensjaar.

Engela ·

Dis gelukkig/ongelukkig gewoonlik die ondervraer wat wegval met Koningin van die nag en nié sy self nie!

E.K. ·

Baie geluk onse eie DIVA! Daar is niemand anders soos jy en geseënd is jy, jy lyk nog ssteeds fantasties! Wens ek kon jou persoonlik ontmoet en ‘n stywe handdruk gee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.