Mitah, ons vergeet nie…

herman-toerien-02

Herman Toerien. Foto: Verskaf

Saterdag sal dit presies ʼn jaar wees dat ons huishulp, Mitah Mphinya, tydens ʼn huisroof by ons aan huis noodlottig beseer is terwyl sy my en ons gestremde seun, Jandré, probeer beskerm het.

Ek was destyds baie siek van my kanker, brandmaer en moes dikwels van ʼn rolstoel gebruik maak om oor die weg te kom.

Dié oggend was my vrou, Joan, vroeg (en net vir ʼn heen-en-weertjie) winkels toe om die nodigste aan te skaf. Ons groot hek het, soos gebruiklik, oopgestaan met die veiligheidshek by die voordeur gesluit.

Ek het op die einste rolstoel gesit en ʼn nuuskommentaar vir Pretoria FM geskryf. Skielik het ek Mitah, wat in die voorportaal skoongemaak het, hoor gil. Dit het geblyk dat sy die veiligheidshek oopgesluit het om die paadjie buite te vee, en is toe deur twee mans oorval.

“Dis ons beurt” was my gedagte dadelik.

Toe ek opstaan om vas te stel wat aangaan, loop ek my in ʼn jongman vas wat met ʼn lang, selfgemaakte mes na my toe aankom. Ek was in daardie stadium so swak ek kon dikwels nie eens ʼn sleutel in ʼn sleutelgat gedraai kry nie.

Ek is oorval en vasgebind. In die proses is my voet so erg beseer dat ek vir ongeveer drie weke kwalik daarop kon trap. Intussen het Mitah haar steeds verset, en is sewe keer met ʼn mes gesteek voordat haar voorkop teen ʼn muur verbrysel is.

Die mans het skielik weggehardloop, blykbaar toe Jandré uit sy kamer kom. Dit was ʼn Vrydagoggend en Mitah is die Sondagoggend vroeg in die hospitaal oorlede.

Die publikasies wat hieroor berig het, veral die Afrikaanse publikasies, is oorval met boodskappe wat Mitah vir haar groot daad geloof het. Die reaksies het inderdaad getoon dat die gesindheid onder mense op voetsoolvlak baie beter is as die reaksies wat veral sekere politici ontlok. Trouens, ons kon en het ʼn bundeltjie saamstel van sommige van hierdie reaksies en by die begrafnis, wat Joan bygewoon het en die mense in Suid-Sotho toegespreek het, is ʼn klompie van hierdie bundeltjies aan familie uitgedeel.

Elkeen het die trauma op sy of haar eie manier ervaar en verwerk. Ekself was ʼn dag of wat later vir my twee dae chemosessie in die hospitaal toe ek vanuit my hospitaalbed my eerste en enigste TV-onderhoud gevoer het.

Jandré het aanvanklik geglo dit was sy skuld, maar ons het mooi verduidelik dis niemand se skuld nie. Joan het dit wat haar gesin getref het, erg op haar gemoed geneem. Ons oudste, ʼn plaasbestuurder naby die Paarl, het verlof gekry en ons kom bystaan.

Van die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes en ons leraar, dr. Johan Nel, was daar groot ondersteuning, en in die hospitaal (toe my tweede tuiste) was daar van ʼn ieder en ʼn elk ondersteuning.

Wanneer ek my daaglikse nuuskommentare skryf, wat gereeld oor die geweldsmisdaad om ons handel, was my gedagtes gereeld by Mitah, wat in haar eenvoud bewys het daar is nog ʼn gesonde onderlinge gesindheid in ons diverse samelewing teenwoordig.

Mitah se voorbeeld het baie bygedra dat my TV-onderhoud op versoening eerder as woede ingestem was. Ons eer haar nalatenskap.

Vir my, as die laaste hoof van die Verhoudingsaksie in die Vrystaat, was dit veral goed om te ervaar dat daar wel nog sulke verhoudinge teenwoordig is.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GRIET ·

Saluut en Respek, vir julle beide se dapperheid…. Mitah en Herman

Arak ·

Ek is baie jammer oor wat gebeur het, maar ek verskil van jou; dit was beslis iemand se skuld. Dit was die jong [swart] man wat haar vermoor het se skuld. Hy het gekies om jou huis onregmatig met ‘n mes te betree en hy het gekies om haar te vermoor. Hoe lank gaan ons nog regverdigings in hierdie polities korrekte skyn wêreld uitdink waar van ons vereis word om halwe waarhede te verkondig? Daar is geen rede hoekom sy moes sterf nie, en daar is ook geen rede dat die skuldige nie ook moet sterf nie. Hierdie aanvaarding mag jou dalk help om dinge te verwerk, maar dit is in stryd die beginsel van geregtigheid.

Feite ·

Op voetsoolvlak is die mense dankbaar om te kan werk en kos op die tafel te sit. By die politici wie deur die belastingbetalers onderhou en bederf word is daar absoluut geen dankbaarheid te bespeur nie, net blatante arrogansie met geen besef dat politici in diens gestel word tot diens van die kiesers. Deesdae se politici jaag net hulle eie ideologiee en belange na en basta met die res!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.