MIV/vigs: Die een wat deur die nag ons pret beloer

Foto: rondeboschunited.org.za

Foto: rondeboschunited.org.za

Uittreksel:

Ek wonder oor die sterftes. Oor die grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye gebied geëis en geweldige mediadekking ontvang. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners aan vigs dood. Suid-Afrikaners. Dit beteken 250 000 grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnisbedryf is nie verniet so ’n winsgewende onderneming nie …

Ek gooi diesel in. Bid dat die prys vinnig weer sal afkom om my sak beter te pas. Bekyk die wêreld om die tyd langs die petrolpomp te verwyl – dankbaar dat die joggie die laaste week se goggas van die ruit afseep.

My oog vang ’n man. Hy pomp die werksbakkie se bande terwyl die werkgewer toekyk. Hy is brandmaer. Selfs onder die oorgrote overall kan ek sien dat hy niks meer as 50 kg weeg nie. Sy gelaatskleur is dof, sy gesig is vol knoppe en sy wangbene en spierwit tande staan prominent uit.

Hy is duidelik niks meer as ’n skadu van die man wat hy eens was nie. Die Engel van die Verderf het hom skelm kom besoek. Soos Eugene Marais met wysheid gedig het: “Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag is Skoppensboer.”

Ek het ’n klompie jare gelede besluit om in te skryf vir ’n LLD-graad. Drie jaar later sou ek tevergeefs op moedverloor se vlakte sit en huil terwyl ek wonder wat my besiel het. Maar dít is ’n storie vir ’n ander dag …

Die titel van my proefskrif was “Die Impak van die MIV/vigs-Pandemie op Sekere Aspekte van die Suid-Afrikaanse Kinderreg”. As deel van die navorsing moes ek álles rondom MIV/vigs nalees – die oorsake, simptome, impak en verloop van die siekte sowel as statistieke rondom die verspreiding, sterftesyfers, sosiale impak, ensovoorts.

Toe die proefskrif in 2008 verskyn het, was die MIV/vigs-statistieke reeds duiselingwekkend hoog.

Ek lees hierdie week op News24 dat een uit tien Suid-Afrikaners volgens Stats SA met MIV/vigs saamlewe. Dit is 6,19 miljoen geïnfekteerdes – 2,17 miljoen meer as in 2002.

(Dit is nie ’n lesing in MIV/vigs hierdie nie. Die man by die petrolstasie het my bloot laat wonder.)

Ek wonder wat die MIV-syfers werklik is. Ek vermoed dat dit baie hoër as die amptelike statistieke is. Stats SA en die departement van gesondheid se statistieke is veel laer as dié van UNAIDS en ander beskikbare statistiekbronne. Verder is MIV/vigs, sover ek kan vasstel, stééds nie ’n oordraagbare siekte nie. Dit beteken dat dit bykans onmoontlik is om agter te kom of iemand wel aan vigs oorlede is. Indien ’n MIV-positiewe persoon aan ’n sekondêre infeksie, byvoorbeeld TB, sterf, word die oorsaak van dood op die doodsertifikaat as “TB” aangedui en nie as “MIV/vigs” nie.

Ek wonder oor die regering se inisiatief om MIV-positiewe persone gratis met teen-retrovirale middels te behandel. Altesaam 2,4 miljoen Suid-Afrikaners het reeds hierdie terapie ontvang. My probleem lê nie by die behandeling nie. Ek dink dit is ’n edele inisiatief. My probleem lê by die feit dat die RGN in 2012, in ’n verslag getiteld “National HIV Prevalence, Incidence and Behaviour Survey”, bevind het dat kennis van hoe MIV oorgedra en voorkom word, afgeneem het van 30,3% in 2008 tot 26,8% in 2012. Kan jy jou indink dat daar in 2015 steeds Suid-Afrikaners bo die ouderdom van tien jaar is wat nie weet hoe MIV oorgedra en voorkom word nie?

Ek wonder hoe op aarde die miljoene kinders van MIV-positiewe, sterwende en reeds oorlede ouers cope. Die gedagte laat my maag omkeer en ’n benoude gevoel in my keel opstoot. Volgens UNAIDS was 2,4 miljoen Suid-Afrikaanse kinders reeds in 2013 wees gelaat as gevolg van MIV/vigs. Dit sluit nie kinders in wat saam met ’n MIV-positiewe persoon in ’n huis woon nie. Die simptome waaraan die kinders blootgestel word voordat die ouer sterf, is dikwels traumaties. Hoe kan enige kind, wat nog te sê ’n skoolgaande kind, opgewasse wees hiervoor? Dan is daar nog die sosio-ekonomiese impak op die huishouding: armoede, voedseltekorte, ’n tekort aan geld vir gesondheidsorg, die verlies aan verblyf, voortydige skoolverlating en dies meer.

Ek wonder ook oor die gedesensitiseerde samelewing waarin ons lewe. Verby hoeveel mense ry ek elke dag wat MIV-positief is? Sien ek nog die grys ou gogo met die baba op die rug? Haar dogter is verlede week aan vigs dood en sy moet nou na die vier weeskinders onder tien jaar omsien. Wonder ek ooit oor die slagoffers? Die onskuldige slagoffers?

Ek wonder oor die sterftes. Oor die massas grafte. Oor die treurendes. Ebola het in 2014 in die omgewing van 8 000 slagoffers oor ’n wye gebied geëis en geweldige mediadekking ontvang. Maar net in 2013 is daar na raming meer as 250 000 Suid-Afrikaners aan vigs dood. Suid-Afrikaners. Dit is 250 000 grafte. Miljoene geliefdes in rou smart en armoede gedompel. Die begrafnisbedryf is nie verniet so ’n winsgewende onderneming nie …

Ek wonder. Ek wonder. Ek wonder. Ek bid.

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Gesondheid, Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Breed ·

Ek het die proefskrif van dr Jan Bothma gelees met die titel “Patorale terapie met die MIV/VIGS geaffekteerde kleuter – ‘n Narratiewe benadering”(Universiteit v Vrystaat) Baie insiggewend. Dit kan jou help met baie van die vrae wat jy opper.

Pendoring ·

Openbaring 2:20
Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet.
21
Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie.
22
Kyk, Ek gee haar aan ‘n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.
23
Haar volgelinge sal Ek deur ‘n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.
-Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.