Moeilike omstandighede kelder nie dié slimkop

Lebohang Mathukwi. (Foto: Verskaf)

Lebohang Mathukwi. (Foto: Verskaf)

Om al jou matriekvakke deur te kom, is uit die staanspoor geen maklike taak nie. Vir Lebohang Mathukwi (18) van die Hoërskool Florida in Johannesburg, is dit nóg meer van ʼn uitdaging, aangesien sy huislike omstandighede soveel verskil van dié van die res van sy klasmaats.

Ten spyte hiervan word hy deur sy skool as ʼn toppresteerder uitgesonder en word voorspel dat hy onderskeidings vir al agt sy matriekvakke sal kry.

Mathukwi vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy en sy 17-jarige suster, Tshepiso Hope, woon saam met sy ma, Dorah, ʼn huishulp, in een kamer in Delarey in Roodepoort. Sy pa is glad nie betrokke in sy lewe nie.

Hoewel Mathukwi elke oggend ʼn saamrygeleentheid skool toe het, stap hy elke middag huis toe. “Dit neem my sowat ʼn uur elke dag om by die huis te kom,” vertel hy.

Hy blink uit in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskap, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie, ten spyte van die feit dat hy nie ʼn rekenaar besit nie.

“Dit is maar moeilik om sonder ʼn rekenaar oor die weg te kom, veral wanneer ek take moet doen. My vriende help my dan met hulle rekenaars of ek bly laat agter by die skool om die skool se rekenaars te gebruik,” sê hy.

“Ek geniet dit vreeslik baie en stel baie belang in programmering. Ek het reeds geleer hoe om Delphi te gebruik en gaan nou ook leer hoe om Python te gebruik.”

Mathukwi vertel hy het pas teruggekom van sy matriekvakansie saam met vriende in die Magaliesberg. Hy het dié welverdiende blaaskans nodig gehad voordat sy studies in meganiese ingenieurswese in Januarie aan die Universiteit van Kaapstad afskop.

“Ek kan nie wag nie. Nuwe mense, nuwe lewe,” sê hy opgewonde.

“Ek het meganiese ingenieurswese gekies omdat dit ʼn wye veld is waarin ʼn mense verskillende goed kan doen, wat ook meer geleenthede bied om werk te kry in die buiteland. Ek wou eers medies studeer, maar het daarteen besluit.”

Onthou om nou reeds te registreer om seker te maak jy weet wanneer jou uitslae op Maroela Media beskikbaar is. Registreer hier: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/projekte/matrieks-2019-registreer-nou-om-jou-uitslae-te-kry/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Maria ·

Jong man ek is sooooo trots op jou. Deur jou moeilke tyd vir jou n voorspoed toekoms he en geseen wees. Baie baie geluk!

JOHAN ·

‘n Les vir baie ander.
Hoop ons hoor vorentoe weer van jou volgende prestasies

Mia ·

Lebohang baie sterkte seuna. Jy is pragtige jong man. Ons is trots op jou

Melanie ·

Enige ma sal trots wees op so ‘n kind. Baie baie geluk aan hierdie jong man. Vasbyt en deursettings vermoeë bring altyd goeie resultate.

sons ·

Baie geluk jongman, mag jy net van krag tot krag gaan in jou toekoms vorentoe.

Lalla ·

Sterkte Lebohang!! Ek hoop jou 8 onderskeidings wag vir jou! Mag jou toekoms blink en met sukses besaai wees!!

Agter die skerms ·

Baie goeie nuus Lebohang – defnitief ‘n persoon met uithouvermoe. Jy gaan dit nog ver bring veral met jou studies vorentoe.

En dankie Maroela Media vir al die nuus.

Niklaas ·

Mooi so , jongman. Mag dit duisende ander tydgenote van jou so inspireer dat hul ook so ‘n pad vir die toekoms wil beplan en natuurlik , uitvoer .

Lydia ·

Welgedaan Lebohang. So vervrissend on ‘n jong man te sien wat nie deur omstandighede onder gekry word nie. Sterkte vir volgende jaar. Maroela, hou ons asseblief op hoogte van wat Lebohang mag benodig.

Sandy ·

Baie voorspoed vorentoe. Jy het gewys mens kan bo jou omstandighede uitreis. Mag jy net vorentoe gaan met geluk en voorspoed in jou lewe.

LEBOHANG ·

Baie geluk Lebohang! Voorwaar ‘n leerder om op trots te wees – styg uit bo jou omstandighede; sprei jou vlerkies my kind en vlieg hoog!!!

Kwagga ·

Baie geluk Lebohang…..n voorbeeld vir ander en jy kan opreg trots wees vandag. Hoop ons sien jou punte en dat jy jou onderskeidings kry soos wat jy hoop. Harde werk word beloon en as dit jou uitgangspunt is gaan jy baie suksesvol wees. Sterkte vir jou toekoms!!!!!!

Madeleen ·

Dit is so lekker om sulke stories te lees en hoe swel my hart om te weet ek was in dieselfde skool. Baie trots op jou!

Boet se voet ·

harde werk, toewyding en deursettingsvermoë.. en dank aan ‘n eerstewereldsysteem.. dit skep kanse.

Dassie ·

Ag asb…. Ek weet van iemand se dogter wat 7 onderskeidings behaal en nie gekeur was om Medies te studeer nie… Ek glo julle kan raai hoekom

RP ·

Of, en moenie my kop af byt nie dis net n voorstel, wees bly vir die jong man?

Griet ·

Ja ek ook Dassie, maar die mense het positief gebly, die kind het iets anders studeer, is wel later gekeur en het so pas as dokter kwalifiseer. Dassie, baie van ons besef gelukkig dat ons HOUDING bepalend is tov hoe ons lewens verloop.

RP ·

Was dit nou nodig? Eks seker jyt baie meer as Lebohang bereik in jou lewe, en waarskynlik tydens erger omstandighede ook nog. Hoekom skryf jy nie jou storie in nie? Dalk word dit gepubliseer.

RP ·

Sterkte jongman, meganies is nie maklik nie. Komende van n siviele ingenieur (of BA. Brugbou soos die ander ingenieurs ons noem).

Jerry ·

Lebohang se “slimkop” is reg aangeskroef om in n rigting te studeer waarmee hy in die buiteland kan gaan werk. Ek glo sy ouers het hom met die goeie advies bedien en ek hoop ander ouers motiveer ook hulle kinders om in die buiteland te gaan werk. Die dollar, euro en pond is ongelooflik sterk teenoor die rand. Tussen die ANC en die eff is daar nie n toekoms vir die jeug in SA nie en dit is goed dat ouers en kinders van alle groepe dit begin besef!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.