Moenie liggaamlike oefening geringskat nie

oefen-oefening-hardloop-tekkies-trappe-klim

Foto: Bruno Nascimento/Unsplash.com

“Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker.” – 1 Tim. 4:8

Wanneer Paulus hier na oefening verwys – beide  liggaamlik en geestelik – gebruik hy die woord “gumnaze” in die grondtaal (Grieks). Jy kan dadelik dink watter woorde hiervan afgelei is – “gimnasium” en “gimnastiek”.

Kom ons praat ‘n wyle oor Paulus se verwysing na liggaamlike oefeninge. Dis baie duidelik dat Paulus nie negatief daaroor praat of dink nie. Trouens, die Bybel praat nooit negatief oor ons liggame nie.

Sommige gelowiges heg tradisioneel ‘n onderliggende, negatiewe konnotasie aan hul liggaam. Die rede daarvoor is dat die begrip “vleeslik” in die Bybel summier met “liggaamlik” gelykgestel word.

Wanneer die Bybel die woord “vleeslik” gebruik, verwys dit gewoonlik na ons sondige, menslike natuur. Daardie natuurlike, sondige geneigdheid wat weens die sondeval by ons almal aanwesig is. Hierop maak die Bybel, en veral Paulus, ons gedurig attent. Hierdie ingebore sondige natuur/geneigdheid is in teenstelling met ons geestelike mens wat deur die Here wederbaarlik en nuut gemaak is.

In hierdie sin is die vleeslike dan ons vyand, is dit sleg en moet ons voortdurend daarop let dat die vleeslike (ons sondige natuur) nie die oorhand in ons lewens kry nie. Die leiding van die Gees staan teenoor hierdie geneigdheid van die vlees en die vrug van die Gees staan teenoor die werke van die vlees. (Gal. 5:19-22)

Aan die ander kant sê Paulus egter dat liggaamlike oefening wél waarde het. In vergelyking met die waarde van geestelike oefening is dit egter beperk, aangesien dit net voordeel inhou vir hierdie lewe terwyl geestelike oefeninge verder as net hierdie lewe strek.

‘n Mens kan egter nie hierdie Skrifteks van Paulus gebruik as verskoning om ons liggame te verwaarloos en nie te oefen nie. Elke faset van die mens het oefening nodig – fisiek, verstandelik en geestelik. God het ons so gemaak. ‘n Mens kan in geen opsig jou volle potensiaal bereik as jy nie elke aspek van jou menswees oefen nie.

Reeds vóór geboorte sal die fetus kort-kort in die moeder beweeg sodat die liggaampie begin oefening kry as deel van sy ontwikkeling. ‘n Babatjie in die wiegie sal gedurig met die armpies en beentjies beweeg as hy/sy wakker is.

Van kleins af stimuleer ons spontaan ons kindertjies se brein- en liggaamsfunksies. Daar is geen twyfel dat die mate van korrekte liggaamlike- en breinstimulasie ons kinders se potensiaal, intelligensie en uiteindelike prestasies in die lewe grootliks bepaal nie.

In ons tyd kry die meeste van ons weinig natuurlike oefening. Tot ‘n geslag of twee gelede is mense se liggame noodwendig aan natuurlike oefening blootgestel. Hulle moes meestal te voet loop waarheen hulle wou gaan. Daar is aanduidings in die Skrif dat Jesus soms tussen 25 en 30 kilometer per dag geloop het. Daarby het die meeste mense heeldag liggaamlike arbeid verrig.

Enige persoon wat in ‘n gesondheidsberoep staan, sal jou kan vertel hoe belangrik dit is om jou liggaam die nodige oefening te gee. En dit is nie “ongeestelik” nie, die Bybel is duidelik genoeg daaroor.

Gebed:

“U het ook my liggaam geskape. Ek is ook geroep om daarvan ‘n goeie rentmeester te wees. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Hierdie stuk is MYNE ….dit waar …dit waar het nie eers te depressie pille nodig nie en voel jong soos gees. Wannner tyd maak met Here draf tussen skoonheid lug,natuur,mooi hoe sien seisoene wat verander …. met stilte met Here
Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.