Mooi, mooier, mooiste ma: Hier is die finaliste!

Ons paneel beoordeelaars het die mooiste stories gelees van ma’s wat ʼn steunpilaar is in moeilike omstandighede; ma’s wat hul eie gerief en voorkoms prysgee om seker te maak haar man en kinders ontvang net die beste; ma’s wat alles in hul vermoë doen om seker te maak haar kroos word eerste gestel.

Maroela Media bederf vanjaar een van dié ma’s vir Moedersdag met ons mooi, mooier, mooiste mamma-kompetisie!

Die ma wat uiteindelik dié kompetisie wen, wen ʼn mooimaaksessie (“makeover”). Dit sluit ʼn konsultasie en mooimaaksessie in deur Carina Nel, ʼn fotosessie om vir die wêreld te wys hoe sy nóú lyk, en boonop twee nagte se verblyf in ʼn Centurion-hotel vir twee persone – die ma en die persoon wat haar ondersteun.

Die persoonlike stylkonsultasie met Carina Nel sluit die volgende in:

  • Ontdek my persoonlike klerestyl
  • Leefstyl vs. klerekas
  • Kleurkonsultasie
  • Liggaamsvormkonsultasie
  • Wenke vir watter bykomstighede om te dra
  • Haarstyl- en grimeringswenke
  • Klere en skoene
  • Grimering
  • Stilering
  • Fotosessie

ʼn Paneel beoordelaars het al die inskrywings oorweeg en ʼn top-9 saamgestel. Nou kan die publiek bepaal wie die kompetisie wen! Lees deur al die inskrywings en stem vir jou gunstelingmamma wat ʼn mooimaaksessie verdien. Die ma met die meeste stemme wen.

As jy boonop vir jou gunstelingma stem, dan staan jy boonop die kans om ʼn mooi leersak te wen uit Maroela se aanlyn winkel, Die Koöperasie! As jy as die wenner uit die stemproses aangewys word, kan jy kies of jy prof. Hennie se boektas van egte leer of ʼn handsak van egte leer wil ontvang.

Die sluitingsdatum vir die stemme vir hierdie kompetisie is 31 Maart 2019 om 23:45 en die wenner sal op 2 April gekontak word.

Hier is die lys van ma’s wat in aanmerking kom vir die groot prys:

Sanet Nel is 45 jaar oud en het twee kinders op laerskool. Van die maats dink sy is hul kinders se ouma! Sy skryf: “Iemand wou by ʼn winkel al vir my pensioenarisafslag gee! Een van my man se kennisse, wat ons twee nog nie saam gesien het nie, het een keer gevra of ek my man se ma is… Ek voel nie so oud nie en dit maak seer. Ek wil graag hê dat my man en kinders trots moet wees op my. Dalk kan julle help?”


Marita Ludick se dogter sê haar ma probeer altyd ander help, voor sy haarself sal help. “Sy stel altyd haar familie eerste en ek dink dis nou die tyd wat sy haarself eerste moet stel. My ma is nou 41 en sy lyk ouer as wat sy is. Ek dink nie sy voel goed oor haarself nie. Ek het verlede jaar April haar hare vir haar ‘probeer’ mooi sny, maar dit het nie lekker uitgewerk nie en sy moes uiteindelik alles afskeer! Ek voel nog steeds sleg daaroor… Ek hoop regtig sy kry ʼn kans vir dié mooimaaksessie – ek dink sy verdien dit!”


Rene du Plessis en haar man het ʼn vyfjarige seun en het verlede jaar gehoor hulle verwag ʼn tweeling! Die seuntjie en dogtertjie is op 12 November 2018 gebore. “My man werk baie weg van die huis af en is tans vir ʼn maand lank in Mosambiek. Ek doen dus alles self by die huis en het nie enige hulp nie. Ek is ook al van 1 Maart terug by die werk en kom eers ná 17:00 in die aand by die huis. Dan is dit klere was, babas melk gee, badtyd vir al drie, regmaak vir die volgende dag, kosmaak, ouboet in die bed kry, kos vir hom en my pak vir die volgende dag, kos gee vir die visse en honde, skottelgoed was, weer melk gee vir die babas en dan weer 05:00 opstaan om almal reg te kry vir die dag wat voorlê!”


Amanda Visser se skoondogter, Louise, sê haar skoonma was nog altyd daar vir haar en haar kind. “Sy was al die jare die vrou wat jy deur ʼn ring kon trek, maar weens finansiële omstandighede kon sy al vir meer as vier jaar nie haarself wees nie. Dis vir haar baie moeilik en ek kan sien hoe sy hunker na daardie bederf vir haarself. Dit breek my hart in duisende stukke. Sy verdien net die beste, want haar deur staan altyd oop vir ander, al kan sy dit nie bekostig nie. Sy is ʼn baie spesiale persoon en die Here het my behoorlik geseën met haar op ons pad. Ek vra julle mooi om haar groot asseblief te oorweeg vir ʼn mooimaaksessie.”


Elmarie van Wyngaard se dogter sê haar ma is ʼn wonderlike voorbeeld. “Sy staan vir niks terug nie en is ons rots in die familie. My pa werk in die buiteland, so baie verantwoordelikhede rus op haar skouers. Ons het nooit tekort geskiet nie, maar ek glo daar was tye wat my ma haarself te na gekom het om ons te kon gee wat ons wou hê. Sy maak soveel opofferings en is altyd daar wanneer ons haar nodig het. Haar kleinkinders is haar alles en daar was al talle kere wat sy alles gelos het om ons by te staan, haar pa op sy sterfbed by te staan en te versorg en nou my pa ná ʼn operasie. Dit sal wonderlik wees om haar hierdie Moedersdag te kan bederf en haar te kan bedank en ons waardering te wys dat sy ʼn moeder duisend is.”


Maggie Swart se dogter meen haar ma verdien ʼn mooimaaksessie, omdat sy altyd ander se behoeftes bo haar eie plaas. “My ma het ʼn baie klein hartjie en geniet dit baie meer om vir ander te gee as om te ontvang. Ons worshond is verlede jaar raakgery en sy heup is vergruis en sy ingewande het losgeskeur. Sy operasie was ʼn reusesukses, maar vyf weke daarna kon hy nie meer self urineer nie. Milo’tjie het weer talle operasies ondergaan (oor R60 000), en hy het ʼn “voedings-mici” in sy blaas gekry sodat ons direk sy urine kon dreineer met ʼn inspuiting. Hierdie operasie was die eerste van sy soort en Milo het geskiedenis gemaak. Ongelukkig was Milo ‘n woelige worsie en is sy “mici” uitgeskeur twee dae ná sy operasie. Daarna moes ons hom met groot hartseer groet, omdat die skade te groot was. My ma was nog nooit weer dieselfde na sy dood nie. Sy het depressie gekry en het baie gewig verloor. Ek nomineer my Ma, want sy kort ʼn bederf en ʼn ruskans. Ek wil graag hê sy moet weer soos ʼn mens, en vrou, voel. Help haar asseblief om haar net so mooi buite te maak soos wat sy binne is!”


Aletta Hendrikz, Magda van Tonder skryf sy is vir twee weke op ʼn plaas in Hertzogville. “Ek het kom instaan vir my Tannie Aletta Hendrikz se sekretaresse wat op verlof is. “Om betyds by die werk te wees, moet ons elke oggend skuins ná sewe ry. Vanoggend staan ek sewe-uur reg. Ek wag, maar my tannie kom nie. Ek gaan soek haar, maar sy is nie in die huis nie. Sewentien minute oor sewe hoor ek haar by die agterdeur. Sy het bloed tot op haar elmboë, bloed oor haar bene en mis op haar mooi pienk tekkies. Terwyl sy na haar asem snak, sê sy: ‘Ek het net gou die een ooi help lam. Ai, nou is ek laat.’!” Hierdie episode het my glad nie verbaas nie. My tannie se hande staan vir niks verkeerd nie. Sy het vier seuns groot gemaak, sy werk voltyds, sy is op die VLU, sy bestuur ʼn wildsplaas, sy maak kos, sy was wasgoed, sy luister na jou probleme en lag vir jou grappe. Sy staan rotsvas agter haar man, ʼn boer, en sy hou die pot aan die kook as hy tot middernag toe ʼn koei keiser of ʼn perd red. As sy iemand kan help, sal sy. Sy dink altyd laaste aan haarself. Behalwe vir alles wat sy vir almal rondom haar doen, het sy vanoggend met haar kaal hande, in haar werksrokkie, twee lammers gevang. Kyk, as dít nie ʼn mooimaaksessie verdien nie, weet ek nie wat sal nie.”


Karen Joubert se dogter sê haar ma het nog altyd haar kinders en kleinkinders se behoeftes voor haar eie gesit. “Met genade en gebede het my ma ons groot gemaak; sy moes ma en pa wees. Sy moes moeilike keuses in die lewe maak om seker te maak dat ons kinders se menswees altyd op die regte pad gebly het. Maar deur al die jare van ons kinders eerste sit, het sy van haar gesondheid vergeet. Veertien jaar gelede het ons amper my ma verloor as gevolg van ʼn diabetiese koma. Ons het dit nie verwag nie, aangesien daar nie diabetes in ons familie is nie. Sy is met tipe een-diabetes gediagnoseer. My ma het boonop nie ʼn skildklier nie. Ons kinders was hartseer, want my ma se stryd het elke dag moeiliker geword. My ma het twee jaar gelede die gevoel in haar arms en hande begin verloor en sy is dokter toe. Nog ʼn skok het op ons gewag: my ma moet geopereer word aan haar nek. Twee van die werwels in haar nek het gesak en knyp die senuwee dood. Ná die operasie was my ma aan die linkerkant. Ek, my sussie en boetie het in skok gestaan! Ons ma wat so selfstandig is wat ons kinders geleer het om selfstandig te wees, lê verlam. Dokters het gesê dit sal maande wees voor sy weer kon loop. Die skade wat gedoen is, is permanent. My ma is swak en loop mank. Haar selfvertroue is gebreek en die lewe wat sy geken het, is weggeruk van haar. Sy het ook in Februarie vanjaar haar 10-jarige kleindogter aan die dood afgestaan. My ma is ʼn ystervrou!”


Elize Botha se dogter Joanie sê haar ma is die mees onselfsugtigste mens wat sy ken. “Sy is altyd reg om te help maak nie saak wat nie; sy het altyd ʼn woordjie van hoop in ons donkerste tye en altyd ʼn skouer om op te huil. Sy staan altyd sterk en sê gereeld mens moet jou omstandighede as ʼn verhoog gebruik vir jou toekoms. My pa is 27 jaar gelede oorlede en sy het vier kinders onder die ouderdom van 10 op haar eie grootgemaak! Sy het intussen ons jongste broer ook aan die dood afgestaan en deur dit alles het sy nooit opgegee nie. Sy bly by ons jonger suster in hierdie stadium om hulle te help oorleef, so sy dra ʼn huishouding van ses mense op ʼn skrale pensioen. Ek voel sy verdien ʼn mooimaaksessie sodat sy darem weer vir ‘n verandering kan goed voel oor haarself!”


Oops! We could not locate your form.

 

Borge

Grimering: Martie en Merie Kruger
Hare: Hair at the hub
Foto’s: Simoné Venter
Klere: House of Superior Clothing
Verblyf: Centurion-hotel
Spa: Gentle Touch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.