Musina se Kersgeskenk

lig_boekevat_bos…stemming.jpg

Die Bosveld. Foto: Reint Dykema

Dit is 9 Desember 2015 – 16 dae voor Kersfees.

Kort anderkant Louis Trichardt kruie ons die Soutpansberge uit op die N1 na Musina. Die pad kronkel deur die Hendrik Verwoerd Tonnels en ek is vir die soveelste maal verstom dat die naam steeds, ná meer as twintig jaar, nie verander het nie.

Die pad kreun onder massiewe vervoertrokke op pad na Zimbabwe en die res van Afrika. Beitbrug is die grootste grenspos in Afrika en verbind die massiewe kontinent met die goudmyn aan haar suidelike punt.

Tussen Louis Trichardt en Musina begin die kwik styg en 39°C is nie ’n grap nie – verál nie in die dor-droë Bosveld nie.

Op die plaas Beekzicht, 40 km op die pad tussen Musina en Alldays, is daar darem hier en daar nog ’n graspol vir die grasvreters en genoeg Mopanieblare vir die koedoes. Maar my pa, die boer, sug: “As die nie binnekort reën nie, sal ons al die diere moet voer.”

Hy voer reeds die Swartwitpense, maar dit is nie volhoubaar nie en sal op die lange duur letterlik ’n plaas se prys kos.

Die plaas lê plat onder die hitte – daar waai nie eens ’n ligte briesie nie en die kinders hang slap-lusteloos en met rooigeswete gesigte rond.

Ons beplan om tot ná Nuwejaar op Beekzicht vakansie te hou. Hier is byna geen selfoonopvangs nie en een van die min plekke waar ons kan afskakel en asem skep. Maar ons is nie seker of Witrivierders gebou is vir 41°C dag in en dag uit nie… As die hitte nie binnekort breek nie, gaan ons dalk saam met die groenigheid verdor.

Ons bid dringend vir reën saam met die res van die land, maar daar is nie eens ’n wolkie in die lug nie.

Een aand moet my Klara (6) voor ete die seën te vra. Met kinderlike onskuld vergeet sy skoon om vir die kos dankie te sê terwyl sy ernstig bid: “Jesus, baie dankie vir die reën wat U gaan stuur.”

Ek kry trane in my oë en dink aan Jesus Christus se woorde in Matteus 21:22: “As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” Ook aan sy houding teenoor kinders: Hy het by verskeie geleenthede kinders gebruik om volwassenes nederigheid te leer.

In die nag steek ’n donderstorm op en dit reën 15 mm. Die Bosveld juig. Tog weet ons dat 15 mm maar net ’n druppel in die emmer is. Dit sal nóg moet reën om die droogte om te breek.

Die volgende nag bars daar in die vroeë oggendure ’n massiewe storm los en dit reën 50 mm. Ons staan dankbaar-verstom op die stoep – die Here het die sluise van die hemel oopgemaak en weerligstrale verlig sonder ophou die veld om die huis.

Skielik staan daar oral poele water in die veld rond. Die gras neem sommer dadelik ’n groen skynsel aan. Paddas paar in die gronddam wat nou weer vol water is – ons tel ten minste 10 soorte en wonder waar hulle in droogtetyd wegkruip. Reusekremetarte steun onder nuwe blare en ’n vlytige rooikopwewer bou ’n nes op die stoep. Honderdpote skarrel rond en skielik kalf 13 blouwildebeeste op een dag. Oral in die veld kom vreemde reusesampioene op en wit lelies steek kop onder die rooi sand uit.

Die Here het die reën gestuur waarvoor Klaratjie twee dae vantevore reeds met kinderlike geloof dankie gesê het.

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henk ·

Die Here se as ons geloof so groot soos ‘n mostertsaadjie is…. Partykeer dink ek as ons maar net die kinderlike geloof openbaar wat by ons kinders is, sal ons wereld ‘n heeltemal ander plek wees

tessa ·

Die mooiste woorde van ‘n kind af. die Here voorsien altyd

M ·

Kan Klaratjie nie vir hier na Ellisras se kant toe ook bid nie asb. Ons gebede help niks, en ons kort daai reen baie.

Sarie ·

My vriend “M”… Klaratjie het niè gevrà nie, sy’t gewèèt die plaas is besig om te verdor & het oprèg geglò, God sàl voorsien!!! Dààrom het sý, sònder om te huiwer vir God dànkie gesê vir die reën… DIT is oprègte geloof… Dankie Ryk, dat jy dit met ons gedeel het. Klara het menige van ons, ons hoofde in skaamte laat sak. Kom òns begin God loof & dank vir die reën wat binnekort gaan val… God wèèt wat ons nodig het, nog voordat ons daarvoor vra… AMEN!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.