My gevleuelde vriende – swaeltjies en sonsoekers

swaeltjies-andre-stead-beeldhouwerk

Andre Stead-beeldhouwerk. Foto: Verskaf.

Hulle kies altyd dié tyd van die jaar koers. Die sonsoekers, oftewel swaeltjies wat hul vlerke sprei en jaarliks die lang reis na Europa vinnig en in eersteklas aflê. Dit is koud en nat oor die grootste deel van Suid-Afrika, maar mooiweer en [vrek] warm oor Europa en omstreke.

Party Suid-Afrikaners gaan gooi die swaar houtdeure van hul kothuise in die Franse platteland oop terwyl ander nie Bastilledagvierings in die hoofstad misloop nie. Baie bespreek lank vooruit hul peperduur kaartjies vir Wimbledon en party gaan ry fiets tussen Amsterdam se tulpe. Ek het selfs ’n vriendin wat op ’n seiljag die Ioniese see ingevaar het en ’n ander wat eersdaags weer haar jaarlikse kwota Ouzo[1] in Santorini, Griekeland gaan inkry. Dan is daar ’n handjievol wat Pamplona, Spanje op hulle reislys sit vir die (bloeddorstige) bulwedren. Dié wat aksie en oormatige opwinding wil beperk, gaan skop nes in ’n knus Gästehaus vir die duur van die Salzburg Festspiele of gaan steek ’n kers op in die kolossale katedraal in Keulen.

Vir my is dié tyd van die jaar kosbaar, ’n paar maande waarna ek regtig uitsien. Dis stiltyd – tyd om soos die eekhorings wat ek in die somermaande in die berg van boom tot boom sien bons, te hiberneer.

Ek ry in Jan Tuisbly se karretjie en is doodgelukkig in dié tjorretjie. Die koue Kaapse weer is vir my ʼn lafenis – na liggaam en siel. Dis vir my ’n “sagte” tyd, so asof daar ’n fluweelkussing oor die Moederstad se gedreun gaan lê.

Dis wanneer ek ’n skielike kooklus ontwikkel en met genoegdoening die pot groentesop vir twee uur lank hoor prut. Dis wanneer ek met hondekinders in gelid die berg se varsheid inasem en niks anders hoor nie as die druisende watermassas wat ná die reën uit die skadu’s van die berg hul kronkelpad afwaarts vind. Dis wanneer ek die selfoon afskakel en met ’n warmwatersak lank voor slaaptyd in die bed klim en deur my lys van “100 boeke wat jy moet lees”, werk.

Die groot lekkertes van winter – net hier, in en om my huis, is egter vir ander slegs kilometers verder af in die pad, ’n tyd van groot swaarkry. High season in Europa; low season on the Cape Flats… As daardie druppels so lekker hard op ons dakke plons en ons juig oor die damvlakke wat styg, skarrel baie mense en diere vir ’n bietjie skuiling. Dis die downside.

Om terug te keer na die Groot Uittog in Julie en Augustus… My tyd sal weer kom maar vir nou is ’n duik in die huisverband prioriteit. Ek sal my R25 cappucino intussen met oorgawe drink met die wete dat my gevleuelde maters in Europa hoes vir die oggendregmaker. (Tussen R40 en R70…)

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Wat wel lekker is is wanneer die swaeltjies huistoe kom; wanneer hulle dit regkry om vir ons die effens mosserige, klam reuk van die katedraal te laat rúík en die geel, pienk en pers van die tulpe te laat síén.

Om ’n swaeltjie te wees sal vir party van ons nooit beskore wees nie maar ek glo ons kan ’n bietjie troos vind in dié woorde deur Anna Quindlen, die Amerikaanse skrywer en joernalis: Boeke is die vliegtuig, en die trein, en die pad. Boeke is die bestemming en die reis. Boeke is huis.

Voetnota:

[1] Tradisionele anysgegeurde drankie

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agie ·

Heerlik
Ekke het die laaste 5 jaar nog nooit van my huis weg geslaap nie
Hier is nie ‘n reghoekige, eenoog monster nie.
Snoesige winter in die asemrowende bosveld met my Bybel, radio en handwerk deur die lang aande. Kinders is dankbaar vir al daai wollerige presentjies.
Indien ek kon sou ek ons matriek reunie van 50 jaar wou bywoon en verder by ‘n sussie gaan inloer.
Vanweë ons land se huidige ‘klimaat’ doen ek wat ek kan met vreugde en ry jan-tuisbly-se-karretjie
Jou toer deur die wêreld geniet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.