My herinneringe aan die Tulbagh-aardbewing

Tulbagh se hoofstraat met die Winterhoek-berge in die agtergrond. As ‘n mens nou na die dorpie kyk kan ‘n mens amper nie glo dit was 50 jaar gelede deur een van SA se grootste aardbewings getref nie.  Foto: Andres de Wet/Wikimedia Commons.

Alhoewel ek die Tulbagh-aardbewing van vyftig jaar gelede beleef het, is my herinneringe oor die ritse naskokke wat tot by ons huis in Stellenbosch kom “spook” het, baie sterker.

Maar die verhaal het ’n ruk tevore begin, toe ’n laataand-aardbewing die Suid-Kaap geskud het. Aanvanklik is gesê die episentrum was by Swellendam. So ver ek weet is geen skade aangerig nie. Met daardie skudding was ek reeds in die katelkooi. Koors het gemaak dat dit gevoel het of die bed so effe met my tol, maar in die middel van so ’n “tolbeweging” het die bed skielik vorentoe en agtertoe geskud.

Soos blits is ek op en langs die bed. Ek sit af na my ouers se slaapkamer, en tref net my ma daar aan. Sy was op die vibreermasjien, en weet van niks. My pa was op die onderste verdieping in die studeerkamer aan sy tweede doktorsgraad aan die werk. Ek storm die trappe af, en gaan hoor. Maar Pa weet ook van niks.

Die volgende dag word ek by die skool gespot oor my “storie” van die aardbewing, maar ná skool kry ek Die Burger in die huis, met ’n voorbladopskrif oor die aardbewing die vorige aand.

Wat ek van die grote weet, het ek maar so by ander verneem, en elke storie in Die Burger opgeslurp.

Hoewel Stellenbosch en Tulbagh nie sommer om die draai van mekaar is nie, het ons talle raserige naskokke beleef. Ek was in st. 7 in ’n seunskool, en iemand moet heel van lotjie getik wees om te dink so ’n seun sal ewe soet in sy skoolbank bly sit as hy die aardbewing hoor kom – dié betrokke klas was in die detensiekamer (eintlik die demonstrasieklas, ʼn losstaande gebou met trappies wat hoër na agter loop, waar daar ’n hokkie was wat eens as projektorkamer gedien het). Boonop was die onderwyser ’n afgetrede inspekteur wat so lekker in die klas kon uiltjies knip dat sy “silhoeët” teen die swartbord agter hom afgeëts was soos die kinders hom met pea shooters geblaker het. Nie een van sy twee byname kan hier gebruik word nie.

Ja, ’n mens kon daai naskokke hoor aankom. Dit was ’n gedreun amper soos ’n groot vragmotor. Teen die tyd wat die skudding onder ons verbygaan, was ons al lankal buite. Dit het die onnie dan taamlik moeite gekos om ons weer binne te kry. Om te wat?

Dus, as daar net ’n vragmotor in die regte rigting gedreun het, was almal so te sê klaar buite.

Tuis was dit bietjie van ’n ander storie. Al die slaapkamers was op die boonste verdieping. My kamer het ’n balkon gehad, en was deel van my ontsnaproete. Hoor ek die “vragmotor” aankom, is ek uit op die balkon, en dan oor op die dak wat die huis en die garage verbind, en dan tot voor waar ’n mens dan op ’n grasperkie afspring. Dit sou eintlik ver genoeg wees, maar dan word oor die groot grasperk tot oorkant die straat genael, en daar by die snelgroeiende skare aangesluit.

Die rede vir dié samekoms was nie om saam te kyk hoe die huise instort nie, maar oor buurman wat vir hom ’n mooi jong vroutjie in Duitsland gaan haal het. En as die aardbewing kom, spring sy eenvoudig uit die bad en hardloop so druipnat straat toe. Manlief agterna met die handdoek.

Dus, oorkant die straat het daar ongelooflik vinnig ’n skare saamgetrek. Meestal jong seuns. Hulle het te (vinnige) voet, met fietse, met rolskaatse en wat nog daar aangekom.

Toe verhuis ons Bloemfontein toe. Daar het ons Sondae ná kerk gereeld by ouma in haar woonstel gaan tee drink. En hier “betrap” nog ’n aardbewing ons. Ouma se woonstel was op die vierde verdieping, en onder was ’n betonblad. Nie baie uitnodigend vir afspring nie. Dus bly sit die meeste mense, maar ek maak dit straat toe voor die skudding verby is. Later verneem ons ’n woonstelblok, Tempesthof, het inmekaar gestort. Gelukkig geen ongevalle nie.

Maar dit was nie heeltemal die einde nie. Bloemfontein is omtrent net mooi in die middel tussen twee aardbewinggebiede – die Goudveld by Welkom en dan ʼn gebied by Luckhoff. Vir laasgenoemde is spesiale versterkings aangebring toe die Vanderkloofdam (vroeër bekend as die PK le Roux-dam) gebou is, juis ter wille van die gereelde aardbewings daar, hoewel gelukkig nie veel meer as trillings nie.

Meestal voel mense in die suide van Bloemfontein die Luckhoff-aardbewing, en die mense in die noorde die Welkom-aardbewings.

Ja, ek was eendag in Bronville by Welkom in die middel van ’n toespraak toe daar ’n skudding was. My oë het net effe gerek, maar toe gaan ek gewoon aan met die toespraak. Maar die gehoor wis ek is van elders, en sien dadelik my gesig. En toe lag hulle.

Later is ook skuddings gevoel wat van ander plekke gekom het, soos die een van Trompsburg af, en natuurlik die grote van Stilfontein (ook die Orkney-skudding van 6 Augustus 2014 genoem) – die grootste naas die Tulbagh-een in ons land.

Met studie in geomorfologie en geologie het ek ʼn groot belangstelling in aardbewings ontwikkel en talle berigte en artikels daaroor geskryf. Hierdie artikel op Maroela Media, wat ná die Orkney-aardbewing in 2014 geskryf is, bevat ook meer inligting oor Suid-Afrikaanse aardbewings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carl ·

Tydens die aarbewing was ek in Durbanville in Sub A (Graad 1). Dit was my eerste aardbewing ervaring maar wat `n blywende indruk op ons as gesin gelaat het was ons huiskat ongeveer vyf minute voor die aanvoelbare aarbewing in Durbanville, beserk begin tekere gegaan het en die aardbewing uiteraard voor ons aangevoel het.
Die volgende dag het ons Tulbach gaan besoek. Die vernietiging en skade van geboue en huise, deur etlike groot rotse wat vanuit die berge los geraak het en letterlik deur die dorp gerol het soos `n albaster in `n speletjie, sal my ook altyd by bly.

Anna ·

Herman. Dankie vir hierdie artikel. Meeste mense vandag weet nie daarvan nie, maar ek onthou ook die aardbewing. Soos ek onthou was dit 8 op die Richterskaal. ‘n Grote.

Agie ·

Baie dankie Herman
Te midde van al die lekker lees inligting en alhoewel ek ver Noord is, die nuus so goed onthou oor die groot skudding.
Jou skryfstyl is heerlikste en daai pragtige waarheid oor die nuuskierigheid m.b.t. die wonder van ‘n vrou se liggaam.
Waarlik die kroon van God se skepping.

marieta ·

ons was met n KJV jnr toer van Saldanha na Port-Elizabeth …. met die aardbewing was ons in n houthuis….en dit het erg geskud…. die seuns het die dogters beskuldig en visa versa… en die toer toesighouers het eers later agtergekom ons was almal ontskuldig…maar ons toer was baie lekker gewees…. ons moes self fondse bymekaar maak… spanpoging was goed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.