My Maandag in Atlantis

Zahn-Hulme

Zahn Hulme van die Atterbury Trust (voor links) en die groep kinders waarmee sy onderhoude vir studiebeurse gevoer het. Foto: Atterbury Trust.

Zahn Hulme

Dit was vroegdag op Blouberg se strand. Ek moes seker geweet het dat ’n spesiale dag op my wag, toe ek vroegoggend onverwags die bloedrooi maan deur die gastehuis se venster oor die see sien hang het. Ek is donkeroggend, net voor ses, af strand toe. Die dag gaan groet langs die see. ’n Stappie gestap – op Blouberg se strand. ’n Koeëlronde grys klippie in die oseaan gegooi. En gevra vir insig en krag vir die dag.

Ek vat die R27, Weskuspad, Atlantis toe en dink hoe bevoorreg ek is dat dít vandag my pad werk toe is. Langs die pad sien ek lappies geel en pienk – die laaste van die lenteblomme. Dis my tweede besoek aan Atlantis, die eerste keer dat ek self ry. Ek verdwaal so bietjie tussen al die fabrieke aan die suidekant van die dorp. Met Rudi se hulp, vind ek die pad weer redelik vinnig, verby die Weskus Kollege, tot ek die Atlantis-kliniek se teken sien.

By die CPA se kantoortjie aangekom, sien ek al ’n klompie jong mense wag. Ek sien hartseer in die oë, maar voel tog die hoop in hulle harte aan. Party kyk my direk in die oë, ander meer skugter, en hier en daar bespeur ek ’n bietjie agterdog, is dit nou regtig? Ek sien ook vir Caroline, mooi getooi in pers en swart, wat my met ’n breë glimlag en ’n hartlike druk inwag. En aunty Hellen met ’n nuwe blikkie Ricoffy, spesiaal vir vandag gaan koop. Rudi, Gerald, Issie en oom Pieter – hulle voel al soos ou bekendes. Opgewondenheid hang in die lug, want vandag gaan ons die eerste beursonderhoude doen. Hulle wag al lank vir hierdie dag. ’n Volle 20 jaar al.

Die vorige dag is daar ’n dankdiens in Atlantis gehou. Vir wat nou by Richmond Park gaan gebeur. Selfoonvideo’s word gewys. Hulle spog met “ons eie” kinders wat die musiek gemaak het – gesing het, keyboard gespeel het. Onderaan die program staan: “As God vir Richmond is, wie kan teen ons wees?” Ek glo dit ook.

Dan begin die onderhoude – en soos die een ná die ander kind deur die deur stap, begin ek iets verstaan van hierdie mense se wêreld. Van ma’s wat hulle werk verloor het toe die klerefabrieke gesluit het, van pa’s wat net nog nooit daar was nie. ’n Hardwerkende oupa wat al meer as 30 jaar in Saldanha werk, ’n ouma wat ma of pa se rol oorgeneem het as hulle nie meer kon of wou nie. Ek hoor van skole waar geen sport aangebied word nie, van gangsters, kinders wat bang is om alleen in die strate te loop, dwelms, matriek wat gedop is en lewens wat omgedraai het.

Daar is ’n hele paar blinkoogkinders. Party het reeds begin studeer. As ek vra waar die geld vandaan gekom het, hoor ek van planne. Die kleuterskool waar Rozanne gewerk het, het ’n braai gereël om haar Unisa-registrasiegeld te betaal. Rasminah se ma betaal stuk-stuk soos sy kan. Melorey maak sakke uit ou denims en sy upcycle mense se ou grimering. Charney is bereid om verniet home-care te doen. Sy het ’n agt maande lange sertifikaatkursus gevolg, maar sy wil vreeslik graag ’n regte verpleegster word.

Rehano se storie raak my regtig aan. Hy werk al vir twee jaar sonder enige vergoeding by Hoërskool Robinvale in Atlantis. Administratiewe werk, help met afrigting. Hy wil graag verder by ETA in sportafrigting studeer. My oog vang sy ID-dokument en ek werk uit hy word vandag 21. Op sy 21ste verjaarsdag wag hy reeds geduldig vir meer as vyf uur vir sy onderhoud. Sy pa het onlangs gekwalifiseer as wiskunde-onderwyser. Hy wil ook êrens kom.

Ons vergeet skoon om te eet. Laatmiddag bring hulle snoek en skyfies. My plekmatjie is ’n oorbly-stukkie dondergrys matteël – dié word netjies reggeskuif onder my bord. Ek geniet hierdie eenvoudige maal saam met die mense van die CPA en voel nederig, dankbaar, bevoorreg en vreeslik opgewonde om deel te kan hê aan hierdie nuwe stukkie geskiedenis wat geskryf word in ons land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hanlie Botes ·

Dit is wat ek nie kan verstaan nie. Die kinders wat nie beurse nodig het nie kry dit – hulle ouers verdien letterlik miljoene en hulle kry beurse.
Die staat het (volgens vorige koerant berigte) voorsiening gemaak vir kinders wat graag wil studeer maar dit nie kan bekostig nie…..en niemand weet wat van die geld geraak het nie.
Ek wens ons land (die regering) wil ernstig begin werk met ons swaar verdiende belastinggeld. Ek is seker dat indien hulle na ons land se skole, universiteite en al die bedrog regmaak hulle belastinggeld kan gebruik vir kinders wat wil studeer.
My hart gaan uit na elkeen jy kan sien hulle wil. Ek wens ek kon vir almal van hulle geld gee om te gaan leer……..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.