My troue: Kan ek my grimering self doen?

(Foto: Pixabay)

Dit gebeur baie keer dat ʼn bruid by die paadjie afstap en wanneer die sluier gelig word, kan jy amper nie glo dit is dieselfde mens saam met wie jy verlede week tee gedrink het nie.

Alle bruide wil op hul troudag op hul mooiste lyk, maar dit beteken nie dat jy soos iemand anders moet lyk nie. Omdat ʼn grimeerkunstenaar nie almal se smaak is nie, kan jy steeds jouself mooi laat lyk en voel deur jou grimering self te doen.

Die grimeerkunstenaar Nicole Birkenstock van Nici B Bridal and Beauty het gesê dit raak ál meer gewild vir bruide om hul eie grimering op hul troudag te doen.

“Dit is heeltemal aanvaarbaar, veral noudat daar so baie YouTube‑video’s is om jou te leer hoe om dit te doen. Ek stel wel nie voor dat jy jou eie grimering doen as jy nog nooit met grimering geëksperimenteer het, of as jy nie die produkte ken nie,” het sy gesê.

Sy het gesê alhoewel dit ʼn goedkoper alternatief is, kan die video’s en wenke op die internet die proses dalk baie makliker laat lyk as wat dit in die werklikheid is.

“Onthou daardie persoon in die video is opgelei in grimeerkuns, hoe om dit aan te sit en hoe om dit egalig te laat lyk. Hulle weet hoe om die kwas vas te hou en hoe om die grimering aan te wend om die gewenste uitkomste te kry.”

Nicolene Birkenstock (foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Birkenstock het gesê indien jy tyd het om te oefen, en die produkte reeds ken, dit ʼn goeie idee is om jou eie grimering te doen, maar nie as jy ʼn beginner is nie.

“Dit sal aan die einde eintlik duurder uitwerk as jy nie gewoond is aan grimering nie, omdat jy al die produkte soos ʼn basislaag, onderlaag, poeier, oogomlyner, oogskadu, maskara, lipstiffie, ligglans, blosser ensovoorts van nuut af moet gaan koop. En dit kan baie duur raak,” het sy gesê.

Indien jy onseker is oor of jy jou eie grimering wil doen, of jy nie seker is watter tipe grimering jy vir jou troue wil hê nie, is dit ook ʼn goeie idee om met ʼn grimeerkunstenaar te gaan praat. Jy kan altyd vir ʼn toetslopie gaan by die grimeerkunstenaar, wat hulle gewoonlik vir ʼn goedkoper prys aanbied, om te sien of jy van sy of haar styl hou.

“As jy nie weet hoe jy op jou troue wil lyk nie, bespreek eerder ʼn proeflopie. Jy en die grimeerkunstenaar kan lekker koffie drink en gesels, en dan kan jy vir jou grimeerkunstenaar vertel waarvan jy nie hou nie of waarvoor jy bang is. ʼn Goeie grimeerkunstenaar kan vinnig jou persoonlikheid en styl identifiseer en kleure voorstel wat vir jou sal werk,” het Birkenstock gesê.

Vrouens wat op trou staan moet wel nie skroom om vir die grimeerkunstenaar te sê as hulle nie hou van hoe hulle die grimering doen nie.

“As jy voorbereid en eerlik is met jou grimeerkunstenaar, sal jy waarskynlik nie sukkel met jou grimering nie. Baie grimeerkunstenaars het sterk persoonlikhede en bruide voel dan gedruk in ʼn sekere rigting, maar ons is ook professioneel, so jy mag vir ons nee sê!”

“Professionele grimeerkunstenaars weet wel wat die beste manier is om verskillende eienskappe op jou gesig beklemtoon, so dit is ook die moeite werd om na hulle te luister. Ons dink ook aan wat mooi op die kamera gaan vertoon. Luister na die grimeerkunstenaar, maar op die ou einde lê die besluit by jou,” het sy gesê.

As jy wel besluit om jou eie grimering vir jou troue te doen, volg hierdie wenke om jou grimering reg aan te wend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

Ja, party mans sien vir die eerste keer hoe hul vrouens werklik lyk die oggend na die troue.

Onthou net – dis baie belangrik om nie te skrik nie.

Sanet ·

Neee….regtig judge dredd…?
Hopenlik gaan hulle dárem, al lank genoeg uit, voor die troue,dat hy,haar al wel sonder grimering kon sien en regtigwaar dan al die hasepad kon kies,as hy wou…
Meeste bruide wie se trial make-up ek doen, is in die teenwoordigheid vani bruidegom…en hulle SÍT hoor!

Jane Palotasi ·

Natuurlik kan jy jou eie grimering doen. Wie het gesê jy mag nie. Google dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.