ʼn Boom se bas is soos ʼn baadjie

Dr Benedict Odhiambo tydens veldwerk in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch. Foto: Mhlengi Gumede

Dr Benedict Odhiambo tydens veldwerk in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch. Foto: Mhlengi Gumede

Dr. Benedict Odhiambo, ʼn Keniaan wat ʼn studie gemaak het van die skade wat brande kan aanrig aan die groei en oorlewing van inheemse én kommersieël aangeplante bome in die Wes-Kaap as deel van sy PhD studies in Boskunde aan die Universiteit van Stellenbosch, het bevind ʼn boom se bas is soos ʼn hittewerende baadjie. Hoe dikker die bas en hoe smaller die krake of gleuwe daarin, hoe beter word die hout aan die binnekant beskerm teen die skade wat ʼn veldbrand kan aanrig.

Sy studieleiers was prof. Martina Meincken en prof. Thomas Seifert van die Universiteit van Stellenbosch se departement bos- en houtkunde.

“Bome met dik bas is geneig om meer bestand teen brandskade te wees as bome met dunner bas,” som dr. Odhiambo sy bevindings op. “Dis eintlik geen verrassing nie, as mens in ag neem hoe ʼn belangrike rol basdikte speel in die isolering van ʼn boom.”

Basdikte is die grootste bepalende faktor oor hoe bestand ʼn boom teen hitte sal wees. “Voginhoud het nie ʼn beduidende verskil gemaak nie, behalwe in die geval van radiatadenne waar dit ʼn geringe, maar tog belangrike, isolerende funksie gehad het,” verduidelik dr. Odhiambo. Sy bevindinge in dié verband is in die vaktydskrif Trees gepubliseer.

Dr. Odhiambo het ʼn reeks eksperimente gedoen om te toets hoe hittebestand verskillende bome se bas is. In dié studie is daar gefokus op bome wat algemeen in Wes-Kaapse plantasies voorkom, naamlik suikerbloekom (Eucalyptus cladocalyx), swartwattel (Acacia mearnsii), die trosden (Pinus pinaster), die radiataden (Pinus radiata) en die basden (Pinus elliotii). Toetse is ook gedoen op drie inheemse boomspesies, naamlik essenhout (Ekebergia capensis), witkaree (Rhus viminalis) en olienhout (Olea europea subsp africana).

Deur die verskillende spesies te vergelyk, het dr. Odhiambo ʼn aantal interessante ontdekkings gemaak. Van al die soorte dennebome het die radiataden die dunste bas gehad en verleen dit dus die minste beskerming. Die kambium van die basden met sy dik bas het heelwat meer beskerming teen die hitte gebied. Die essenhout se dik bas het op sy beurt die beste beskerming gebied onder die inheemse boomspesies wat getoets is.

In ʼn opvolgstudie het dr. Odhiambo bevind dat die gleuwe of krake in bas ook ʼn belangrike beskermingsrol speel. Dit is beter vir ʼn boom met ʼn gestruktureerde baspatroon as die gapings daarin nouer is en minder volop voorkom. Wye gapings laat hitte deur en stel die dun kambiumlaag (tussen die bas en die hout) in gevaar. Nouer gapings help weer om ʼn lagie lug vas te vang en sodoende isolering te bied.

Die eksperimente is uitgevoer teen ʼn temperatuur van ongeveer 400° Celsius en met vlamme wat tussen 50 en 60 cm hoog van die grond gebrand het. Dit verteenwoordig die tipiese toestande tydens ʼn kleinerige somerveldbrand wat gewoonlik struike, tak- en blaarafval brand en sodoende die onderste gedeeltes van boomstamme beskadig.

Dr. Odhiambo het verdere toetse gedoen op die radiataden, wat algemeen in plaaslike plantasies voorkom. Hy wou bepaal hoe brande die bome se groei beïnvloed. Hy het bevind dat oppervlakbrande van ʼn intense hitte die bome se groeitempo aansienlik vertraag vir tot twee jaar daarna.

Dr. Odhiambo is tans besig om verdere artikels vir publikasie in vaktydskrifte gereed te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Paul ·

Swartwattel kom geensins in Wes-Kaapse plantasies voor nie. Dis ‘n verpesting wat versprei en sommer “plantasies” van sy eie vestig op enige plek waar daar water is.

Albertus van der Westhuyzen ·

Kan u my kontakbesonderhede van dr
Odhiambo stuur asb?
Dankie.
Albertus

Louise Croeser ·

Pragtige werk Dr Odhiambo! Jou werk sal beslis hier in Wes-Australie met sy baie fynbos en groot veldbrande ook aftrek kry.

Louise Croeser ·

Pragtige werk Dr Odhiambo! Jou werk sal beslis hier in Wes-Australie met sy baie fynbos en groot veldbrande ook aftrek kry.

Peet Schabort ·

Ek voel so aan my bas dat my kommentaar nie geplaas is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.