’n Graf in ʼn tuin

tuin-blomme-blom

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Isak Burger

En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, ’n tuin, en in die tuin ’n nuwe graf.” (Joh. 19:41)

Hierdie mededeling van Johannes het ’n veel dieper betekenis as wat dit op die oog af lyk. Johannes is lief om sulke oënskynlik terloopse gegewens te vermeld wat enersyds getuienis dra dat hy persoonlik teenwoordig was en waaraan daar andersyds tog duidelike simboliese betekenis kleef.

’n Graf in ʼn tuin. Dis nie maar net ’n terloopse opmerking nie. ’n Graf en ’n tuin het nogal heelwat met mekaar in gemeen, want die natuur is ook gebonde aan die wet van dood en verderwing. In enige tuin kom daar ook tye wanneer blare verwelk en verdroog en afval. Wanneer blomme vergaan en stingels verdroog. Die werklikheid van die dood en verganklikheid kan in ’n tuin duidelik gelees en verstaan word.

’n Tuin spreek egter ook van opstanding en nuwe lewe. Jesus is juis begrawe tydens lente (in die noordelike halfrond). Lente in ’n tuin is vol tekens van nuwe lewe – nuwe blare en blomme wat bot, nuwe uitloopsels, lote en plantjies wat deur die grond breek, saad en bolle onder die grond wat uitloop. Johannes doen moeite om te sê dat die graf van Jesus in ’n tuin was, ’n lentetuin, ’n tuin wat in die teken van nuwe lewe gestaan het.

Dit is waarom begraafplase in tradisioneel-Christelike kulture sedertdien dikwels versier word met tuine en blomme. Dink ook aan al die blomme by ’n begrafnis en hoe grafte dikwels versier word met blomme. Blomme verkondig ’n boodskap van hoop, nuwe lewe. Die simboliek is inderdaad treffend. Ja, ’n tuin spreek van lewe, selfs ná die dood en verderwing,

In ’n sekere sin is ’n graf self ’n bedding in ’n tuin. ’n Saad word gesaai, ’n bol word geplant. Die saad en die bol gaan oënskynlik tot niet, dit verderwe, maar ’n nuwe plantjie, ’n nuwe lewe kom voort. Só is die lyk in die graf ’n saad wat gesaai is, maar ’n verheerlikte liggaam sal eendag opgewek word. Want die kiem van hierdie saad is die ewige lewe, onsterflikheid. Tereg sê 1 Kor. 15:36: “Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.”

So was Jesus se graf ook ’n saadbedding in die tuin van Josef van Arimathea. Maar die Saad wat hulle daardie laat-middag daarin gesaai het, was die LEWE. Hy het immers gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.” (Joh.11: 25) In Jesus se geval is sy oorskot, die saad, op die derde dag opgewek – vir jou en my en elke ander gelowige, kom die opwekkingsdag met Sy wederkoms!

En in die tuin ’n nuwe graf.” Ja, Josef se lentetuin het byvoorbaat ’n boodskap vol belofte aangekondig: Maak Hom maar dood. Balsem Hom. Lê Hom maar weg in die graf. Verseël dit en ontplooi maar gewapende wagte. Hy sal nie daar gehou kan word nie. Soos die oënskynlik “dooie” saad oopbreek en nuwe lewe voortbring, sou die graf ook oopgaan en Hy sal opstaan – die verheerlikte, verrese Christus!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.