ʼn Halfuur saam met adv. Thuli Madonsela

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

In haar termyn as openbare beskermer het adv. Thuli Madonsela op baie tone getrap omdat sy nie huiwer om op te staan vir wat reg is nie. Dis dié dapperheid wat haar die respek van die meerderheid van Suid-Afrikaners besorg het.

Die belangrikheid van die openbare beskermer (OB) kan nie genoeg beklemtoon word nie omdat sy onder meer die regering aanspreeklik moet hou vir sy dade. Die grondwet van Suid-Afrika maak voorsiening vir landsburgers om klagtes teen regeringsinstansies en -amptenare in te dien wanneer owerhede nie optree soos hulle behoort op te tree nie. Dié klagtes moet deur die OB ondersoek word sodat sy na albei kante van die saak (sonder vooroordeel) kan kyk en dan besluit of die saak verder geneem moet word. Die OB funksioneer onafhanklik van die regering of enige politieke party, maar is onderhewig aan die grondwet en landswette.

Madonsela is op 19 Oktober 2009 deur pres. Jacob Zuma aangestel vir ʼn nie-hernieubare termyn van sewe jaar. Maroela Media het Madonsela in haar kantoor in Pretoria gaan besoek om te hoor hoe sy dié moeilike taak verrig.

Die OB het die afgelope paar jaar verskeie uitdagings beleef, en het veral hewige kritiek op die lyf geloop met die Nkandkla-verslag. Sy meen haar kantoor het veral dié jaar deurgeloop, maar hulle is steeds gemotiveer om aan te hou want daar is ʼn positiewe verandering wat plaasvind. “My span hou daarvan om te sien hoe hulle mense se lewens ten goede verander. Elke persoon kan ʼn verskil maak met sy werk, maar ons het die voorreg om dit te sien, en dit is wat ons motiveer om aan te hou.” Madonsela meen hulle werk nie om gewaardeer te word nie, maar sodat geregtigheid kan geskiet.

Daar is menige Suid-Afrikaner wat sê Madonsela moet die politieke arena betree, maar sy meen dit is nie haar doel in die lewe nie. “Ek glo vas elkeen van ons het ʼn doel in die lewe – en dis iets wat jy jou lewe lank al doen, en dis iets wat jy steeds sal doen, al wen jy die lotery. My doelwit in die lewe was nog altyd om vir mense se regte te veg, en vir hulle te wys wat reg en verkeerd is.”

Die politiek is wonderlik, en ons kort goeie mense in die politiek, maar dis nie my plek nie. Ek dink nie dis my doel in die lewe nie.

Sy meen die grootste les wat sy in haar termyn as OB geleer het, was dat sy nie alles weet nie en dat ʼn mens elke dag iets kan leer. “Ek het ook geleer om te luister na die goed wat mense nié sê nie en wat hulle nie reg artikuleer nie. Deur die onsigbare te sien en die onhoorbare te hoor kan ʼn mens baie konflik oplos. Swak kommunikasie veroorsaak heelwat konflik.”

Dié hoë-spanning werk sal vir enigiemand ʼn uitdaging wees, en dit wil voorkom of Madonsela ʼn diep geloof in God het om haar te dra. Sy verwys gereeld na die Here se genade. Sy meen ook dat haar stiltetyd vir haar belangrik is want dit help haar om haar gedagtes te orden.

“Nog ʼn ding wat my rustig maak, is musiek. My musieksmaak is maar vervelig, ek hou baie van klassieke musiek. My seun is baie lief vir jazz, en ek geniet dit ook nogal. Madonsela sê daar is nie baie tyd vir lees nie, maar sy probeer tyd maak wanneer sy moet reis. “Wanneer ek oorsee reis, lees ek graag geestelike boeke wat my inspireer, maar as ek plaaslik reis, geniet ek tydskrifte.”

En haar mening oor die toekoms van Suid-Afrika? Madosela sê daar is baie mense (ongeag velkleur) wat seergemaak voel oor verskeie goed in Suid-Afrika, maar sy meen die toekoms van ons land lê by die jong mense. “Dit lyk vir my of jong mense meer hoop het, en mekaar meer vertrou. En meer as enigiets anders – hulle weet hulle het die vermoë om Suid-Afrika (en die wêreld) ʼn beter plek te maak. Ek dink hulle moet aanhou om hulself te vertrou en om innoverend te wees. Hulle moet ook aanhou om saam te werk en die land vorentoe te laat beweeg.”

Kyk gerus die video om te hoor hoe die OB se kantoor gemotiveerd bly wanneer dinge moeilik gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rietrot ·

Dit is n verlies vir ons land dat sy nie die politieke arena betree nie. Sy is ñ vrou met waardes en geloof. Haar soort is skaars. Het respek vir so ñ vrou.

Fdb ·

Ek het baie respek vir adv Thuli Madonsela. Ek bid al lankal vir haar en is verras dat sy in God glo. Ek bid ons Heer se ontelbare seëninge oor haar en dat Hy haar insig en wysheid sal gee. Baie dankie vir alles wat jy doen vir ons land.

BoereBikerBaby ·

THULI FOR PRESIDENT! Sy is die tipe persoon wat hierdie land nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.