ʼn Hans ding is ʼn ditsemse, watsemse ding

fairytale-1735352

Ná ʼn onderonsie tussen my en my spog-Sussexhaan raak ek nou aan die skryf. Hans-grootgemaakte goed het sekerlik al vir baie pret en konsternasie gesorg. Maak nie saak of dit ʼn meerkat, nagapie, blouaap, jakkals, skaap, bok of wat ook al is nie, maar die een of ander tyd laat hy jou tweede kom, stel jou in die verleentheid of sorg vir baie pret.

Dit was doerie jare op Leeupoort, net buite Delmas, waar die ding gebeur het. My twee swaers wat toe nog jonk en stuitig was, het ʼn hans-ramlam grootgemaak en hom vroeg-vroeg die fynere kunsies, om met die kop te stamp, aangeleer. Die res van die gesin was salig onbewus van die jong ram se besonderse stampvermoë. Tot een rampspoedige dag …

Hulle niksvermoedende pa, jare vorentoe my gawe skoonpa, het een oggend kraal se kant toe gestap om ʼn balklep by die krip te gaan vervang. Terwyl hy gebukkend die lastige takie verrig het, het die opgeskote hanshamel hom staan en bekyk. Dit wat hy gesien het, het so ʼn stukkie avontuurlustigheid in hom wakkergemaak.

Die teiken was hameltjie-uitnek se droom en hy het parmantig en doelgerig met sy aanloop begin. Die eerste kopstamp was ʼn kolskoot wat die niksvermoedende man binne die krip ingestamp het en met die tweede het hy hom weer uit die krip uitgehelp. Die prentjie van ʼn waternat, misbesmeerde, smoorkwaad slagoffer en ʼn parmantige hanshamel, wat selfvoldaan en tevrede sy slagoffer betrag, kan ʼn mens jou goed indink.

Synde ʼn landdros wat sy woorde tel en weldeurdagte besluite neem, het hy so ʼn bietjie afgewyk van die gewone, afgemete spreekwyse en versigtige woordkeuse. Die vurige stortvloed van woorde word ter wille van sensitiewe lesers verswyg. Wat wel vermeld kan word, is dat die doodsvonnis met nog goedgekose woorde oor die hanshamel uitgespreek is. Vroegaand het daar ʼn vet hamel in die koelkamer aan die haak gehang.

Ten slotte kan gesê word dat die afrigters van die kopstamper die hele episode oorleef het om die storie te kon oorvertel. Die arme slagoffer het nooit die behoefte gevoel om die storie oor te vertel nie. Die vonnis was gevel, die hamel het lekker gesmaak en die saak was afgehandel.

Dit was baie jare later op einste Leeupoort waar ʼn vrypostige hans-grootgemaakte hoenderhaan sy make gemaak het. Kiepie was ʼn meneer van ʼn haan met regte en die vryheid van die werf en die sonstoep. Om verstaanbare redes was toegang tot die res van die huis hom nie beskore nie, al is dit waar hy as kiepie kuikentjie liefdevol versorg was.

Kwaai dominee Rooi Koos en ek het swaarde gekruis toe hy op ʼn KJA-kamp gate in die wors op die kole kom steek het sodat die vet kan uitspuit. Ek het hom net daar by die rooster gelos en vir hom gesê hy kan maar verder self opneuk. Kort ná die kamp het hy ampshalwe by my besoek afgelê – gekam en gedas en duidelik met ʼn missie. Ons het ons sit op die sonstoep gekry en dominee het kenmerkend sy ken vorentoe gestoot soos wanneer hy ernstig raak. Oop Bybel op die skoot, en toe weet ek hy het nie kom sê hy’s jammer dat hy met my worsbraaiery ingemeng het nie.

Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe Kiepie met sy kop, skeef van nuuskierigheid, ingestap kom en langs dominee se stoel stelling ingeneem het – steeds nuuskierig, starende na die vreemdeling. Uit die hoek van dominee se oog, het hy ook die haan opgemerk en toe ek opstaan om die haan buitentoe te vat was sy driftige reaksie: “Broertjie, los die haan net hier! Dink jy ek ken nie hoenders nie?” Ek dag toe, nou maar goed, dan los ek die haan.

Kiepie het eers vir my gekyk en ek wou my verbeel hy knipoog vir my … Met ʼn sierlike wip was hy binne oomblikke daarna langs dominee op die armleuning van die stoel waarop hy gesit het. Omdat dominee Rooi Koos hoenders so goed geken het, het ek my rustig sit en verkneukel in die spulletjie. Toe hy keel skoonmaak om te begin lees of praat – ek weet nou nog nie wat nie – het Kiepie sy vlerke verwoed geklap en gekraai soos net hy kon kraai.

Arme dominee se rooi kuif het gewapper en die oop Bybel se bladsye is van Psalms tot Job verder geblaai en ek het die indruk gekry dat hy nie eintlik geamuseerd was nie. Hy het weer sy leesplek gekry, ʼn kort stukkie gelees, kort gebid en toe’s hy daar weg met ʼn “verskoon, maar ek het nog ʼn hele paar besoekpunte en die mense wag vir my”. Gelukkig het hy nie vir my voorgeskryf hoe ek my haan moes grootmaak nie – of dalk maniere moes leer nie.

Terug by my Sussexhaan. Onthou nou, dis ʼn haan wat hans grootgemaak is. Dis nou die een wie se lewe ek gered het toe die maergat baster-Leghornhaantjie hom baklei het totdat hy bebloed en hangvlerk probeer weghardloop het. As enigste oorblywende het hy homself verhef as, tot die dood toe, beskermhaan van sy vyf henne. Hy’s nou enige hen se ware jintelhaan wat weet hoe om ʼn hen se hoenderhart te laat bons.

Ek kom toe agter dat hy met tipiese hoendertaal die henne waarsku as ek naderkom – net soos wanneer ʼn valk of ʼn vreemde voël opgemerk word. Of hy nou die liegstorie dat ek op my dae ʼn haan onder die henne was, gehoor het, weet ek nie, maar hy was merkbaar veglustig en uitdagend as ek dit naby sy henne waag.

So gebeur dit toe dat hy my eendag stormloop, sy nekvere laat rys en met sy laaghangende kop dreigend voor my kom staan. Ewe speels skop ek toe na hom, maar vir hom was dit ʼn finale onmiskenbare oorlogsverklaring. Van my kant af was dit steeds ʼn speletjie, want dit is interessant om sy vegtegniek waar te neem. Gewoonlik het ek my uitasem geskop, sonder om hom raak te skop en heel dikwels het hy my met sy vyf-sentimeter-spore bygekom dat die bloed loop.

Ek hoor hom altyd as hy my potestampend van agter af bestorm, maar hy gee my darem altyd tyd om om te draai voordat ons mekaar aanvat. Eendag het hy my onkant betrap. Ek het met my ou opgekrokte knieë in die klein hekkie gekniel om eiers uit die neste te haal en het alreeds twee eiers in elke hand gehad, gereed om moeisaam agteruit op te staan, toe die vuilgoed (een van oorle pa se twee kragwoorde) my van agter af getakel het. Met dié dat ek keer om nie vooroor binne-in die neste te beland nie, druk ek al vier eiers stukkend. Man, maar ek retireer met ongekende flinkheid en toe ek omswaai, toe storm die vervloekte (pa se ander kragwoord) haan.

Ek was reg vir hom. Toe hy nog so dog ek gaan skop na hom, toe klap ek met die eierbesmeerde linkerhand hom teen die kop dat hy tol en toe hy weer storm, klap ek hom met die regter dat die rou eier teen sy nekvere afloop. Hy’t my net so ʼn kyk gegee en toe sê hy vir sy henne: “Kom ons loop liewer. Hierdie ou man gaan my nog doodslaan.”

In my geestesoog het ek die haan se nek al mooi netjies op die kapblok gesien, maar my ou sagte hartjie het gemaak dat ek van plan verander het. Deels omdat ek skuldig gevoel het omdat dit ek was wat hom aanvanklik vir die grap uitgelok het en gekyk het of ek hom kon uitoorlê om die eerste skop in te kry. Maar ek het ook aan die henne gedink. Wie sou nou die arme henne so getrou voer en leer om eiers te lê? Hulle kan mos nie sommer net so uit hulle koppe lê nie. Eintlik kan hulle, maar nou ja …

Net eergister het hy my onverhoeds betrap. Ek was kortbroek en kaalvoet en toe  staan hoender se kind met die kop laag en die nekvere gerys. Ek dag toe ek gaan hom met spoed troef, maar toe is dit andersom. Hy’s bo-oor toe ek laag skop en onderlangs deur toe ek hoog skop en toe ek in die middel skop, toe slaan hy sy spore diep, weerskante van my enkel in. Dit was nie skrape of gaatjies nie – dit was nogal lelike, gapende, jy kan maar sê wonde. Vernederd en die swernoot in het ek op die vlug geslaan.

Die nag het ek wakker geword van ʼn kloppende pyn en my ou privaat nagsustertjie wakkergemaak. Sy het geduldig, liefderik en ek vermoed tong in die kies, die wonde skoongemaak, verbind en vir my pynpille laat drink. Ek het lê en peins en uitgewerk dat, as ek al die gaatjies en skrape ná maande se gevegte sou kon terugkry, dit sou lyk of ek onder ʼn skoot donshael deurgeloop het. Ek moes ʼn besluit neem oor die verdomde haan en ek het.

Ek gaan vir my leerkamaste maak en dan gaan ek die haan uitlok tot op my eie tientreestippellyn. Dan gaan ek aanlê na die hoogste boom toe, vir die boom en dan vir die haan kyk. Dan gaan ek soos oorle lewende De Wet Ras in ’75 op die Vrystaat Stadion vorentoe tree, die haan tref en dan gaan ek soos oorle Gerhard Viviers kommentaar lewer: “Hy tref die haan en die haan trek mooi, hy trek suiwer, die hoogte is daar, die lengte is daar, pylreguit boom toe! Ja, hy’s bo in die toppie! Ja, hy’s bo! Wat ʼn manjifieke skop!

Hoe hy dan weer by sy henne gaan kom, is sy saak en as hy weer wil baklei, is dit ook sy saak. Ek is reg vir hom en sommer ook vir die DBV en anderlike hoenderaktiviste wat my vir mishandeling sou wou aanvat, soos destyds met die ystervarkslagtery.

Lank lewe ʼn ieder en ʼn elk en ʼn inkelte wat kans sien vir ʼn ditsemse, watsemse hansding!

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Jan ·

Ai, wat ‘n kosbare storie met ‘n storie! Ek kon dit in my verbeelding beleef! En lekker saamleef! Laat ons gerus maar nog sulkes kry! :)

Pietman ·

Oulike storie en skyfstyl . Maar mens skop nie ‘n hoender of enige dier nie. Vir een is ‘n hoender dom en die mens sy meerdere verstandelik. As intelligente wese kan ‘n mens konflik vermy. Tweedens is ‘n man baie groter as ‘n klein hoendertjie en mens bewys regtig niks deur die hoendertjie op sy plek te sit nie. Ek het self ‘n veglustige kapokkie gehad wat my alewig bestorm en probeer skop het. Ek het hom maar net teen by skoen laat skop en het sy mannewales geniet.

Magdalena ·

BAIE DANKIE vir ‘n pragtige storie. Ek het heerlik in my verbeelding saam gekuier!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.