’n Knapsekêrel oor warmhartigheid

kakiebos-knapsekerel-onkruid

Foto: Pinterest.com

Deur David Muller

Ek sit onlangs langs iemand (ek noem hom sommer boertjie) in die veld op die rand van ’n sement krip. Die volgende oomblik voel ek hoe hy aan my kous, net onder my enkel peuter. Dié genadige boertjie het ’n knapsekêrel[1] van my kous afgetrek – een waarvan ek nog nie eers bewus was nie. Later die dag besef ek hoe ’n wonderlike metafoor hierdie daad oor barmhartigheid, of “warmhartigheid”, soos ek verkies om dit te noem, is.

Dit wys my veral op 5 bestanddele van ware warmhartigheid:

  1. Sensitiwiteit vir geleenthede

Hierdie boertjie kon op baie ander plekke sy aandag fokus, en hy hét tien teen een. Tog het sy oë op die knapsekêrel op my kous geval – iets kleins in vergelyking met die klomp doringbome, berge en beeste rondom ons.

Warmhartigheid vra ’n besondere ingesteldheid om die nood en behoeftes van ander raak te sien.

  1. Gehoorsaamheid om te reageer

Die boertjie kon maklik die knapsekêrel in my kous gewaar het, en dit net daar gelos het. Tog het hy nie. Hy het geweet hoe so ʼn klein duiweltjie die groot duiwels in mens kan uitbring as hy jou die heeltyd gaffel terwyl jy loop.

Warmhartigheid vra dat ek nie net sensitief sal wees en nood of behoeftes sal raaksien nie. Dit vra dat ek daarop sal reageer. Sensitiwiteit sonder gehoorsaamheid is soos iemand wat voor ’n spieël staan, sien sy hare is deurmekaar, en tog niks daaraan doen nie.

  1. ’n Besef van die grootheid van die klein dingetjies

’n Knapsekêrel is ’n klein dingetjie, maar die irritasie wat hy veroorsaak is veel groter. Dit is soos ’n klein klippie in die skoen.

Warmhartigheid vra nie altyd vir groot dinge nie. Soms tel die kleiner dinge veel meer as wat ons dink. Klein dingetjies wat iemand se menswaardigheid erken, is (onder meer) van die warmhartigheidsdade wat ons die meeste nodig het.

  1. Dink vooruit

Die boertjie het besef dat ek op daardie oomblik heel onbewus was van dié potensiële irritasie in my kous. Hy het tog geweet dat dié dingetjie my later vreeslik sou irriteer, en daarom het hy hom sommer onmiddellik verwyder.

Warmhartigheid is nie altyd net in reaksie tot iets wat reeds is nie. Soms vra warmhartigheid dat ons vooruit sal dink en nóú al warmhartig sal optree, al besef die persoon teenoor wie ons so optree, nog nie dat hul ons warmhartigheid gaan nodig kry nie.

  1. Warmhartigheid skop nie stof op nie

david-muller

David Muller. Foto: Verskaf.

Sonder aankondiging of verduideliking het die boertjie net opgetree en gehelp. Hy het nie daaroor ’n bohaai gemaak nie. Hy het ook nie vir erkenning gevra nie.

Warmhartigheid is nie grootpraterig nie. Dit propageer niks in die openbaar nie. Dit soek geen erkenning nie en wil nie raakgesien word nie.

Ons is arm aan warmhartigheid. Hoe sou jou wêreld, en die wêreld van dié rondom jou, anders lyk indien jy hierdie vyf bestanddele kon deel maak van jou alledaagse omgang met die lewe en met ander mense?

Voetnota:

[1] Swart, stekerige onkruid wat aan alles vassit.

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens ·

Die berig is so waar, mooi geskryf.
Die knapsekêrel ken ek as ‘n klits.
As jy kortbroek aan het, en jy hurk om iets te doen, dan steek hul ook aan die binnekant van jou broekspyp vas, sjoe, wat ‘n gesukkel om alles uit te kry sonder om jou broek uit te trek.

Wilma ·

En ignoreer ons hom, word die klits n doring in die vlees, maar vir die meeste is dit mos makliker om die skouer op te haal oor ‘n ander se irritasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.