’n Koffer vol kosbaarhede

tasse-vintage

Foto: @erwanhesry/Unsplash.com

Op ‘n dag moet jy jou lewe in ‘n boks pak, en jy moet besluit wat vir jou waardevol is. Jy bekyk die drie eierspane, die 27 koffiekoppies wat nie heeltemal ‘n stel is nie en die badkamermatjies waarvan jy nog nooit eintlik gehou het nie. Jy ondersoek elke ding wat jy met die jare versamel het en evalueer of hierdie ding werklik waarde aan jou lewe toevoeg. Want jy kan nie alles saamvat nie.

Geld en goeters word relatief. Die bejaarde wat na ‘n klein kamertjie in ‘n ouetehuis moet gaan, moet besluit watter goed die reis gaan meemaak. Die man wat wil aftree in ‘n huisie by die see, moet die leeftyd se besittings wat hy versamel het, genadeloos snoei. Die emigrant wat een kans het om ‘n skeepsvraghouer vol te maak, kyk met ander oë na die Coricraft-banke en die Le Creuset-potte. Is dit die dinge wat van ‘n huis ‘n tuiste maak?

Die onpaar handdoeke, die ongemaklike skoene, die gekraakte koppies maak dit nie in die boks nie. Daar is emosies vervleg in die dinge van ons jeug: hierdie klippie is opgetel by Kaap Agulhas, daardie is ‘n kaartjie wat ‘n kind gemaak het, dié is gedroogte blomme van daardie een verjaarsdag. Pak jy dit? Of los jy dit?

Dis dan wanneer jy agterkom wat van waarde is. Die gemak van die dinge wat jy besit, kan vervang word. Jy kan ‘n nuwe gemakstoel koop, en nog koppies, en ander badkamermatjies. Die emosies en herinneringe van jou waardevolste goed het eintlik niks te make met die waarde van die goed nie. Dit gaan oor die mense waarmee jy hierdie goed vereenselwig.

Hierdie klippie wat jy opgetel het by die see, was gedurende daardie laaste vakansie saam met jou ouers. Daardie kaartjie is die eerste een wat jou stiefdogter ooit vir jou gemaak het. Die gedroogte blomme is die skoonsussie wat jou verjaarsdag onthou het. Die proses van uitpluis wat moet saamgaan en wat moet bly is ‘n delwe in jare se emosies en liefde en saamwees. Dis die dinge wat jou huis joune maak. Dis die dinge wat jou laat voel of jy behoort. Dis die dinge wat jy wil saamneem na jou nuwe tuiste, waar ook al dit mag wees.  Die dinge wat jy ten duurste aangekoop het een dag, word vir jou relatief onbenullig en waardeloos die volgende dag. Wanneer jy moet kies. Wanneer jy nie eintlik keuses het nie.

Die hartseer van ‘n proses om jou van jou goed los te maak, het niks met materialisme te doen nie. Dit is die stories wat die goed vertel wat net jy ken. Die seer kom van die laat gaan van die herinneringe wat binne elke dingetjie lê. Die goed wat jou stories bevat, maak die eensaamheid en vreemdheid draaglik. Dit omvou jou met bekendheid. Party goed laat gaan jy maklik, want die ding is net ‘n ding. Maar party goed is meer. Dit is ‘n deeltjie van die mense wat spore kom trap het in jou lewe – spore wat hul agtergelaat het.

Dis ‘n nalatenskap van jou hartseertye. Dis ‘n viering van die hoogtepunte. Dit is alles deel van jou eie storie wat jou gemaak het wie jy vandag is. Dis ‘n stukkie van jouself.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boer-in-die-wind ·

Jy het verwoord wat ons moes verwerk. Puik stuk!
Twee 23kg tasse is al wat die lugdiens toelaag. Die bietjie van die res gestoor vir dalk,miskien, eendag ….

Boerenooi ·

En hier in die verte vee ek ‘n traan af …. ek het gegroet sonder woorde want hartseer is stom…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.