ʼn Nag in Augustus: Lize Beekman verwerk verlies deur sketse

Foto: lizebeekman.com

Foto: lizebeekman.com

Die woord “mandala” is afkomstig van ʼn literariese taal, genaamd Sanskrit – ʼn versameling van literatuur wat uit ‘n ryk tradisie van poësie en drama sowel as wetenskaplike, tegniese, filosofiese en religieuse tekste bestaan. As jy mandala losweg gaan vertaal, beteken dit eintlik “sirkel”. Die mandala kan ook die heelal verteenwoordig, en in dié geval – dood en genesing.

Vir Lize Beekman was die teken van mandalas haar redding.

Elkeen verwerk verlies op sy eie manier; die dood van ʼn geliefde raak elkeen anders. Vir Lize, wat skryf as ʼn uitlaatklep gebruik, was woorde net nie genoeg om háár verlies te verwerk nie. “Ek kon dit nie omsit in woorde nie. Die gevolg wat dit gehad het, is dat ek nie nuwe liedjies geskryf het nie.”

Lize sê as kunstenaar is sy nie lief daarvoor om liedjies tydens vertonings te herhaal nie. “Uit respek vir my gehore wat geld betaal vir ʼn kaartjie, is dit vir my belangrik om nuwe musiek en lirieke te sing.” Sy het dus al hoe minder vertonings gedoen.

Vir ʼn persoon wat haar lewe lank musiek gebruik om uiting te gee aan haar emosies, het Lize besef sy is in ʼn krisis. “Dit het bygedra tot ʼn oorweldigende gevoel, dat ek verlore is.” Sy meen ook sy was nie op soek na ʼn ander uitlaatklep nie, maar dat die “opdaag” van die mandala, dié gaping gevul het. Maar die “opdaag”, sukkel sy om te verduidelik.

“Hoe verduidelik jy iets wat jy nie uitgedink het nie, wat jy nie gaan soek het nie?

“Daai nag was pertinent, dit was Augustus en Annake is weg in April – dit was vier maande later. Ek was daai nag nie op ʼn goeie plek nie. Ek was lewensmoeg – emosioneel en fisies. Ek het ʼn punt bereik waar die moegheid my gestroop het tot niks. Daar was ʼn mate van oorgee, ek was nie meer vir iets bang nie. As my lewe die volgende dag tot ʼn einde sou kom, was ek ook nie daarvoor bang nie. Op daardie oomblik het ek ʼn lawaai gehoor by my agterdeur, dit was so eenuur die oggend. My agterdeur het glas bo en hout onder.

“Ek het opgestaan om te gaan kyk, en ʼn duif gesien wat aanhoudend teen die glas van die deur vlieg – oor en oor, so asof hy wil in. Dit het my ontstel, want dit het gelyk of die duif seerkry. Ek het voor die glas gaan staan en gesê: ‘Asseblief, hou op, moenie seerkry nie.’ Maar die duif het aangehou. Ek sê toe: ‘Ek belowe ek sal oukei wees.’ En die oomblik toe ek dít sê, toe stop die duif, en gaan sit in die boom by my agterdeur. Dit was ʼn vreemde ervaring. Ek het weer gaan sit, pen en papier uitgehaal om te probeer skryf, maar ek kon myself net nie kry om te begin nie. Ek het my hand afgeskuif na die middel van die blad en begin teken.”

Die mandalas het haar by antwoorde laat uitkom, sê Lize. “Wanneer jy in daai tyd met God praat, voel dit of jy skop en slaan teen ʼn deur wat toe gebolt is. En niks maak daai deur oop nie, en die enigste reaksie wat jy kry, is absolute stilte.”

Soos wat sy aanhou teken het, kon sy ook weer dieper asem haal – iets wat in dié moeilike tyd ʼn probleem was. “My vriende en familie moes my soms herinner om net diep asem te haal.” Dit het vir haar kalmte gebring, en só het sy die dae en nagte om geteken. “Ek het aanhou teken sodat ek net kon asem haal.”

Dié nuwe uitlaatklep het ook haar chaotiese gedagtes georden en gehelp om na een ding op ʼn slag te kyk, en sodoende te verwerk.

“Die mandalas het my lewe gered.”

Volgens dr. Brenda Hattingh, ʼn sielkundige, werk die onderbewuste nie met woorde nie, maar met simbole. Hierdie simbole het die vermoë om sekere potensiaal diep in die psige van die mens te aktiveer.

“Wanneer ons baie besig is, gebruik ons nie die breingolwe wat ons toegang gee tot rustigheid en kalmte nie,” sê Hattingh. “Die mandalas is simbole wat antwoorde kan stimuleer, maar dit vra dan van die persoon om stil te word. Wanneer ʼn persoon besig is met ʼn aktiwiteit soos teken of inkleur, (eintlik enige aktiwiteit waar jy moet fokus), beteken dit dat jy hierdie besige brein moet afskakel en dan gaan jy in die stiller, dieper dele van die brein. Dan begin jy outomaties inkleur, en bring dit ʼn groot mate van stilte binne jou.”

Volgens Lize het sy self nie geweet wat die mandala is nie, tot Coenie de Villiers die dag by haar kom kuier en haar sketse gesien het, dat hy dié konsep aan haar verduidelik het. “Hy wou weet of ek al gehoor het van dié woord, en ek het ‘nee’ gesê.”

Coenie het haar later weer gekontak en gesê dié goed bly draai in sy kop. Hy wou weet of sy bereid is om haar werk te “laat gaan”, en of hy ʼn uitstalling kan reël. “Ek het gesê dis reg, want ek WAS reg om dit te laat gaan.”

Mense het haar ook begin kontak en hul eie stories van seer en verlies met haar gedeel. Baie wou ook weet of afdrukke van haar werk beskikbaar is, want hulle sukkel met die teken. So het die idee van ʼn inkleurboek vir volwassenes ontstaan. “Dis hoe ek ander kon help, want dit kom uit ʼn plek van liefde.”

Sy sê totale vrede is nog op haar pad. “Ek dink ek het meer vrede oor baie dinge, maar dit sal oneerlik wees om te sê dat ek totale vrede het dat sy weg is, of aanvaarding dat sy siek geraak het. Maar die wonderlike uitkoms daarvan is dat my geloof in God, groter en sterker is as ooit.”

Vir meer besonderhede oor Lize se inkleurboek of uitstallingsdatums, besoek gerus haar webblad – Lize Beekman Art. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Ag nee Ben, wie is jy om haar geloof in God te bevraagteken? Is dit jou of enige ander mens se plig om te oordeel? Ek dink jy is gevoelloos!!!!!!!!!!!!!!!! Sies man!!!!!!!!!!!!

Eliza-beth ·

Lize, jy het meer as een talent gekry – en daaroor is ons, die publiek baie bly! Jou mandalas is SO mooi! Vrede vir jou en mag jy blydskap ervaar vorentoe

Elsabe ·

Bly weg van MANDALAS…dit is baie af en afgods-goeters!
Mandala (Sanskrit: मण्डल Maṇḍala, ‘circle’) is a spiritual and ritual symbol in Hinduism and Buddhism, representing the Universe. The basic form of most mandalas is a square with four gates containing a circle with a center point.

Elsabe ·

“Maroela Media se Christelike karakter is die kern van ons redaksionele beleid. ”

Soos onderaan hierdie bladsy…moet Maroela miskien meer selektief wees tov wat hulle publiseer. Dit rym nie met die “goeie goed” waaronder hierdie insetsel verskyn nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.