ʼn Ode aan oom Volla van Worcester

Foto: Pixabay, j_nnesk_sser

Foto: Pixabay, j_nnesk_sser

Die mense van die dorp het hom oom Volla genoem. Agtien jaar lank het hy in sy wit 1965-Volla langs die kerkplein in Worcester gebly. Vanjaar het hy 72 jaar oud geword – hy was nooit getroud nie en het ook nie kinders gehad nie. Praat jy egter oor twee dekades se “alleenjare”, keer die dorpsmense vinnig: Alleen was hy gewis nie.

Soggens sou oom Volla douvoordag na die Wimpy stap: dáár het op sý sitplek gaan sit en elke oggend dieselfde ontbyt geniet – eiers, roosterbrood, gebraaide spek en sterk koffie. Daarna sou hy na die munisipale kantoor loop om te gaan bad. Hy was skoon en netjies, só sê almal.

Later die dag, élke dag, het hy koffie by een van die dorp se prokureurs gaan drink. Hulle sou oor ditjies en datjies praat voor hy later weer in die pad geval het. Sondae was hy in die kerk – hy het nóóit ʼn diens misgeloop nie.

Nou is oom Volla dood. Skielik oorlede.

Onlangs het die burgemeester van die dorp nog haar toeter vir hom geblaas toe sy op pad kantoor toe was en mense in die verbygaan het ook ʼn vinnige geselsie aangeknoop. Hy was geliefd op die dorp, so deel van die dorp soos die paaie wat in en uit hom beweeg.

Daar was egter een kenmerkende verskil: Oom Volla het nooit uit die dorp beweeg nie. Hy was befaamd vir sy gewoontetjies, en jy sou hom op enige tydstip kon opspoor omdat hy byna daagliks ʼn roetine gevolg het.

Maar Donderdag het hy sy roetine verbreek – sonder enige waarskuwing aan die mense van die dorp – toe hy skielik onder narkose in die hospitaal oorlede is.

Stories was volop oor hom in die dorp. Elkeen het sy of haar stertjie bygelas – baie het gesê hy was van sy vrou en kinders vervreem; ʼn man wat waansinnig geraak het en nou ʼn kluisenaarsbestaan op die kerkplein gevoer het. Hy en sy Volla – een van sy enigste besittings.

Dis alles wolhaarstories, vertel Quinton Manuel van Worcester FM waar hy die stasiebestuurder is. Manuel was een van ʼn saai groepie mense wat ʼn eerlike blik op oom Volla se lewe kon kry terwyl hy in gesprek met sy boetie was.

Hy was glo baie geheg aan sy ma. Ná sy in 1998 oorlede is, het hy na Worcester verhuis. Vóór dit het hulle op Robertson gebly.

Oom Volla het twee sussies en ʼn boetie, maar omdat hulle hul eie gesinne het en ook al in daardie stadium op ʼn gevorderde ouderdom was, kon hulle nie vir hom sorg toe hy Worcester toe verhuis het ná sy ma se afsterwe nie. Hy wóú ook nie by hulle bly nie, hy was immers nooit ʼn man wat volgens ander se reëls kon leef nie.

Die familie het hom daarna in ʼn ouetehuis gesit, maar dáár kon hy nie aanpas nie. So gou as wat die son soggens opgekom het, het hy in sy Volla gaan sit. Dan sou hy die hele dag in sy motor verwyl voor hy weer na sy kamer teruggekeer het. Kort daarna het hy self van die ouetehuis weggery, en van daar het hy in sy motor op die kerkplein gewoon.

Daar was nooit kwade gevoelens tussen hom en sy familie nie.

Diegene wat hul eie stories opgemaak het, was oortuig daarvan dat hy ʼn armlastige sukkelbestaan gevoer het. Dít, meen Manuel, is ver van die waarheid verwyder.

Oom Volla was ʼn welaf man. Vroeër vanjaar het ʼn vrou na hom toe geloop om vir hom toebroodjies te vat. Hulle gesprek het haar so geboei dat sy hom vir ete na haar huis genooi het. ʼn Paar dae en nagte is verby toe hy op ʼn aand met sy wit Volla voor haar huis stop. Sy het vergeet om inkopies te doen, en het vir hom toebroodjies met grondboontjiebotter gegee. Hy is nie gepla oor wat hy eet nie, het hy gesê.

Toe hulle groet, het hy elkeen se hand gevat en vir hulle gebid. Daarna het hy R3 000 vir hulle gegee – dié geld was om “hulle te seën”. Dié wat weet, weet dat die oom nooit ʼn tekort aan geld gehad het nie; om in die motor te woon was bloot net wat hy wou hê.

Vandag staan die Volla by die prokureurs se kantoor in die dorp. Dié motor, veel meer as ʼn ryding, is in oom Volla se boedel – ʼn boedel wat hy onlangs, ná koffie saam met sy prokureursvriend, opgestel en afgehandel het. Dít, en alles andersins op sy naam.

Die dorpsmense sal nie weer vir oom Volla wuif wanneer hulle langs die kerkplein verbyry nie. Hy sal nie weer eiers, roosterbrood, gebraaide spek en sterk koffie in die Wimpy bestel nie en die burgemeester sal nie weer vir hom toeter blaas wanneer sy soggens verby hom ry nie.

Maar Manuel sê die dorpsmense moet dalk sy motor koop en as monument by die plein oprig. Só sal oom Volla vir altyd onthou word.

Oom Volla (gebore Gielie Kriel) word op Vrydag 25 November om 15:00 vanuit die Lede in Christus Brandwacht-gemeente in Worcester-Wes begrawe. Almal is welkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Gerhardus Delport ·

Wat ‘n voelgoed storie. ‘n Stukkie van ons dorp is weg.

Ekke ·

Pik ek nou sommer ‘n traantjie vir die oom en die dorpsmense……. So hartseer, maar tog so oulike storie vir so vroeg op ‘n Vrydag oggend.

Hannelie ·

Ons gaan definitief oom Volla mis, al het ons almal nie altyd ‘n praatjie met hom aangeknoop nie, het jy hom maar altyd gesien. Sy laaste staanplek was langs die Poskantoor by die Polisiestasie. Ek het gedink hy voel dalk meer veilig daar. Nie dat enige iemand in Worcester hom ooit sou kwaad aandoen nie. Rus in Vrede oom Volla.

Magda ·

Ek kom van Worcester af en gaan kuier nog gereeld vir my familie en het hom ook al baie daar gesien met sy Volla. Wat ‘n mooi storie. Rus in vrede om Volla.

oogies ·

Wat n aangrypende storie dit is so mooi en so hartseer daar is so min mense soos oom Volla. Altyd tevrede met die minste Rus sag in Jesus arms oom.

Dirk ligter ·

Oom Volla was een unieke sielmens van Worcesterdorp. Oom Volla was nooit n toehandmens vir niemand nie. Hy het die vermoee verstaan om ongerekend een blywende indruk op n hele gemeenskap te skep…hy het baie mense in die verbygaan laat wonder en peins…in sy hart was hy vry…..en skielik is jy vry…..Koos Doep se lied….laat my nou so aan hom laat dink…..rus in vrede oom Volla…..ons almal is ook maar net vir oomblikke hier geleen…… jou Volla moet n statue word iewers in Die tuin van Herrinnering op kerkplein van Worcesterdorp….daar is n les uit jou te leer…ryk of arm….

Marianne Gouws ·

So jammer dat ek nooit oom Volla geken het nie, want hy klink na ‘n baie besonderse mens….goud van die aarde, wat tevrede was met wie en wat hy was….niks voorgegee het nie,…maar tog vry en gelukkig met sy daaglikse bestaan…..en soos ek hier lees baie tyd en aandag vir sy medemens…..sulke mense kan ons baie van die lewe leer as ons net wil stil staan en besef….

Dirk ligter ·

As niemand van jou hoor nie
As niemand van jou weet nie
Kan jy tog niks verloor nie
Kan niemand jou vergeet nie
As niemand jou bemin nie
As niemand jou ooit raak nie
Kan niemand trou versin nie
Kan niemand jou versaak nie
Dis tog so eenvoudig, dis jy alleenlik jy
En die groter sorge, gaan vanself verby
Niks om te vehaal nie, net die vrede bly,
Niks om te betaal nie
En skielik is jy VRY
As jy op niemand leun nie
En niks van iemand vra nie
Hoef niemand joun te steun nie
Hoef niemand jou te dra nie
Dis tog so eenvoudig, dis jy alleenlik jy
En die groter sorge, gaan vanself verby
Niks om te verhaal nie
Net die vrede bly
Niks om te betaal nie
En skielik is jy VRY……..

*Maricia ·

My storie….my sustertji het altyd gevra waar was die oom….RIP Oom Volla

Karma1 ·

Ek het baie keer gevra wat is die storie agter die ou Oom en sy wit, uitmekaarval Vollatjie, maar niemand kon my die regte storie vertel nie. Hierdie een het gesê hy is van sy vrou geskei en het geen kontak het met sy kinders nie; ‘n ander het weer vertel dat hy in Huis Andries Hamman gewoon het (net twee weke lank) voor hy vortgegaan het; nog een het weer te vertelle gehad dat hy g’n kraai of kind gehad het nie. En so het ek elke dag omtrent by “Oom Volla” verbygery en gewonder: “Wíé is dié Oom? Wat is sy verhaal, dat hy verkies om in ‘n motor te bly?” En nou is Oom Volla weg, vir ewig na sy laaste Huis. Rus sag en in Vrede, Oom Volla, saam met Oom se Moeder daar by ons Here Jesus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.