’n Oorvloed genade seën Boesmanland

Boesmanland-reën-01

Foto: Verskaf.

Deur Ludwig Visser

“Jong, wat maak jy?” Nou, as my vriend Paul Kaiing in sy haastige en tipies Namakwalandse  manier van praat jou so iets vra, moet jy weet dis nie al wat hy wil weet nie, die vraag het nog ’n stertjie. En dan sê ek maar veiligheidshalwe ek doen niks, hoe dan nou?

“Nou, dan moet jy môre Boesmanland toe kom. Jy móét kom, want jy sal in jóú leeftyd nie weer so iets sien nie. Nie sóveel water in die Boesmanland nie.”

Dit het nie veel oorreding van Paul se kant af gekos nie, want ek ken Boesmanland in sy hardheid, en hier was kans om hom in sy geseënde mooiheid te sien.

Vroeg die volgende oggend is ek hier op Vanrhynsdorp weg nadat die vrou vir ons twee klompe slaai gemaak het en vinnig ’n vars rogbrood gebak het. Ek is hiervandaan noordooswaarts oor  Kliprand weg, in die rigting van Pofadder na waar Paul Kaiing se plaas Leeukuil lê.

Gelukkig het hy my gewaarsku oor die pad wat deur die reën beskadig is, want ek was skaars anderkant Kliprand uit in die omgewing van Tafelkop, toe kom ek op die eerste plek waar die gruispad heeltemal weggespoel is en ’n mens ’n draai deur die veld moes ry om anderkant weer by die heel stuk pad uit te kom.

So het dit nog ’n paar keer gebeur voor ek by Leeukuil gekom het, maar dit was ook die moeite werd om daarlangs stadig en plek-plek deur die veld te ry, want dan kon ek sommer die panne water hier vlak teen die pad waardeer. Ek ken daardie wêreld, hy is gewoonlik droog en vaal, en die kaiingklippe lyk in die warm tyd amper of hulle gloei in die son. Oral het panne water gestaan, op baie plekke het die plase se lyndraadpale net so ’n entjie bokant die water uitgesteek.

Uiteindelik op Leeukuil. Net gou gegroet en afgepak en toe oorgesit na Paul se plaasbakkie en daar trek ons veld toe, en al wat ek sien, is kaal veld waar ons in die verlede altyd springbok gejag het. Maar later, toe ons so oor ’n effense knoppie kom, lyk dit skielik vir my die see het Boesmanland toe verskuif, want hier voor my lê ’n lap water. Ek het hom later so 4 kilometer lank en 2 kilometer breed geskat, en Paul verseker my daar in die middel langs waar die drie waterhoendertjies nou verbyswem, is hy maklik 5 meter diep.

En dit was nie die enigste pan nie. Elders op die plaas was nog sulke panne, en tussen die panne staan die Boesmangras amper heuphoog en dit wieg so in die namiddagwindjie, en tussen die Boesman-graspolle staan die kort weiding grasgroen waar daar sommer nou die ander dag nog net rooi sand was. Hierlangs wei die skaap nou al volbek, verseker Paul my, en ek glo hom, want hy is nou al die derde geslag wat daar boer, hy kén die Boesmanland en sy geaardheid.

Ek was sprakeloos, want, soos Paul aanvanklik gesê het, ek sal só iets waarskynlik nooit weer in my leeftyd sien nie.

Ons is terug plaashuis toe om alles te gaan regkry vir die aand se braaivuurtjie, toe is ons weer later af water toe, want toe het die son begin sak. Ons het ’n bottel KWV-wyn saamgeneem.

Langs die water het ons uitgeklim, en langbeen plat op die klam aarde gaan sit terwyl die son die water hier voor ons laat verkleur. Ons het die wyn geskink en ’n heildronk gedrink. Paul Kaiing het dit ingestel. “Ons drink dankbaar op die seëning,” was sy woorde. En dit was voorwaar wáár woorde, want daardie panne water was alles gebede wat beantwoord is. Toe het ons net stilgesit. Geen woord gesê nie. Dit was nie nodig nie, want ons het die oorvloedige genade hier om ons aangevoel en stil beleef.

Boesmanland het gebid toe daar maande lank geen reën kom nie. Daardie gebede is beantwoord, en die Boesmanland was dankbaar.

KWV se wyn was nog nooit so lekker soos daar langs die pan op Leeuvlei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris Moolman ·

Suiwer genot! Wie vir Ludwig ken, sal weet dat hy sy dae as gereelde skrywer van Van Alle Kante in Die Burger meermale sulke polfyntjies gelewer het. Jammer dat so ‘n fyn waarneming van reen in die Boesmanland nie ook in ons ou koerant verskyn het nie.

Piet Pompies ·

Boesmanland vat my hand…….
So uit ons skepper se hande, baie mooi.

Karin ·

Ek lees die berig met ‘n knop in my keel. Hoe wonderlik! En so mooi geskryf: ‘Hierlangs wei die skaap nou al volbek …’ Ek kry lekker om so ‘n mooi beskrywing te lees. Dankie.

HENDRIK VAN RENSBURG ·

Ai, ek hoop die panne op Bosmansdam en Lekkeroog is ook vol!!!
Ek verlang my siel treurig na die wereld.
Dankie Vader vir die seen…

elisabet ·

Bitterlik mooi beskrywende Afrikaans.
Ek ken glad nie die gebied nie maar voel my my siel hunker na dit.
Prys die Here vir sulke reen

Lana Nieuwoudt Southey ·

Wat ‘n wonderlike voorreg om dit te aanskou. Baie dankie vir die deel van die foto’s. Sou darem nie omgee om daar te kon wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.