’n Pad in iemand anders se skoene stap

pad

Foto: Vidar Nordli-Mathisen/Unsplash.com

In Spreuke staan daar ʼn mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Dis waar wat hulle sê van in iemand anders se skoene stap: jy kan nie die lewenspad en keuses van ʼn ander beoordeel nie.

Ons pad het ons gebring tot hier en nou is ons reeds ʼn jaar in Nieu-Seeland.

Dit was ʼn harde pad. Sommige mense wens jou die beste toe, en gaan dan met hul lewens aan sonder om eers weer een keer aan jou te dink. En dit is moeilik om te aanvaar, maar jy leer om dit te verwerk. Ander verlang so, dat hulle treur asof jy dood is. Dit is ook moeilik en bring twyfel, vrees en hartseer. En dan is daar ander wat jou verwyt. Dis hulle wat jou ʼn volksverraaier, hensopper of lafaard noem. Dis hulle wat wil hê jy moet skuldig voel oor jou keuse om die land te verlaat. Dan is daar dié wat hulself oortuig dat almal wat emigreer, heimlik wil teruggaan na Suid-Afrika.

Jy leer om ander mense se opinies en gevoelens te hoor, te verwerk en te hanteer, baie maal in stilte.

Dis moeilik om vir mense te sê hoe dit voel om te emigreer. Selfs voor jy die besluit neem om te gaan, wroeg en worstel jy met jouself oor wat die beste pad vir jou en jou mense is. Dan is dit die geweldige opdraande stryd van die visumproses – ure se staan in rye en rye, gans te veel papierwerk, die bewys van wie jy is en wat jy weet en wat jy kan doen. En dan die wag… vir sommiges langer as ander. En iemand in ʼn kantoortjie ver in ʼn ander land besluit oor jou hele toekoms en dalk nog die toekoms van jou nageslagte ook. Dis ʼn senutergende wag wat ek niemand toewens nie. Volgende moet jy vir almal in jou lewe vertel van jou planne en die mense vir wie jy lief is, se harte breek. Oumas en oupas ween oor kleinkinders, en jy dink aan familiegeleenthede wat jy nie sal kan bywoon nie. Siekbeddens en begrafnisse waar jy nie sal kan wees nie.

Hierna is jy op pad na ʼn nuwe land waar jy nie die basiese goed weet nie. Hoeveel is ek veronderstel om te betaal vir ʼn huis se huur? Wat is ʼn realistiese salaris? Dinge wat jy as vanselfsprekend aanvaar het, is skielik nie meer nie. Hier kan jy nie instap by enige dokterspreekkamer en gehelp word nie – jy moet registreer en mag slegs by daardie een dokter gehelp word. Jou regte as ʼn werknemer is nou iets wat jy moet uitvind, want jy kan nie aanvaar jy weet alles oor werkure of oortyd of siekteverlof nie. Jy het ook geen geloofwaardigheid as werknemer nie, want jy is ʼn immigrant. Jy het nie ʼn prestasielys in die land nie. Jy het geen kredietgeskiedenis nie. Jy het geen netwerk van kontakte nie, tensy jy baie moeite gedoen het voordat jy die land bereik het.

Dis moeilik om vir mense te sê hoe dit voel om te emigreer. Jy dink vooraf jy weet wat jou gaan onderkry, maar jy het geen idee nie. Vir party is dit eensaamheid en fondasieloosheid. Jou gevoel van behoort en gemeenskap neem tyd, en dit is vir party mense jare voordat hulle weer voel of hulle gewortel is. Vir ander is dit jou bande met Suid-Afrika wat jou nie wil los nie. Jy volg die nuus en die sosiale media wat vir jou wys hoe sleg dit gaan in Suid-Afrika (maar soos iemand tereg opmerk, hier gaan jy net ʼn droesel sien, dus kan jy nie ʼn regverdige beeld van die realiteite vorm nie).

Dit maak jou hartseer, maar op ʼn vreemde, onbetrokke manier wat jy nie self kan beskryf nie, want dit raak jou nie meer direk nie. Jy kan nie met die plaaslike mense rondom jou praat oor die lewe wat jy agtergelaat het nie, want hulle kan jou gevoelens nie verstaan nie. Hulle het nie dieselfde perspektief as jy nie en het ook nie ʼn raamwerk vir goed soos kapings, stakings en betogings nie.

Die ander sy van die saak is dat dit moeilik is om met jou geliefdes wat in Suid-Afrika is, te deel oor hoe dinge in jou nuwe land is. Jy kan deel wat jy beleef, en mense kan voel jy spog of jy is negatief oor Suid-Afrika. Jy kan op sosiale media jou lewe deel, soos almal maar doen. Maar daar braak mense gal oor hoe jy dit in hul gesig vryf. Of jy praat met jou familie en die verlange is te veel om te hanteer. Dan vermy jy eerder kontak met mense, of hulle vermy kontak met jou sodat die seer jou nie opvreet nie.

Vir party is dit te veel, en hulle gaan sak en pak terug. Ander veg met alles wat hulle het om hul geliefdes ook te help emigreer.

Jy maak nuwe vriende. Vriende wat jou ondersteuningsnetwerk word. Mense wat saam met jou braai en jou kinders oppas as jy ʼn noodgeval het. Mense wie se naam jy op die dokter se vorm skryf vir “naasbestaande”. Mense wat jou familie word. Jou kinders kry Kiwi-aksente, en Kiwi-maatjies. Jy braai met gas. Jy gebruik die Persil wat eintlik Omo in ʼn ander houer is. Jy stap elke dag net vandag se paar treetjies.

Jy leer om te vertrou dat die Here hierdie pad ook in Sy hande het, al is dit nie ʼn pad wat jy gedink het jy sou loop nie. Jy besef die Here het ʼn hele ander plan met jou en jou landsgenote gehad. ’n Plan wat dalk veel meer is. ’n Plan wat Skoene van bereidheid gaan neem na verre lande, soms ryk lande, waar die naam Jesus geneem moet word op paaie waar dit nog nie verkondig is nie.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kol ·

Ons is nou al 8 maande in NZ en voel presies dieselfde. Ek sit baie min op sosiale media en praat meeste net familie en my naaste vriende. Mense wat gese het hul sal nooit SA verlaat nie begin my nou vrae vra oor NZ, salarisse en skole. Ek help met graagte.

Kobus ·

Die MM peiling toon dat net 16% van die lesers SA nooit sal verlaat nie. Dit laat mens dink. Doen dit net voor ouderdom 35, want dan raak dit moeilik om te skuif, tensy jy ongetroud is en sonder kinders.

Jozi ·

Kosbare woorde.
Ek gaan dit verseker deel met my jongste twee kinders wat in daardie rigting begin praat.
Wie is ons om te oordeel as iemand besluit dis tyd om op te pak?
Dis ‘n groot, moeilike en persoonlike besluit.
Elke ou moet doen wat reg is vir hom/haar.
En as dit beteken jy moet jou land, jou mense, jou ALLES agterlaat, is die laaste ding wat jy nodig het onnodige en ongevraagde kritiek.
Jou pad is nie my pad nie……

Expat ·

Ons is al 15 jaar in Oz en help graag nuwe aankomelinge om in te skakel. So bou jy ‘n nuwe familie op, sommige van hierdie mense raak later beter en meer geliefd as jou eie familie. Hier geld net een reel, hoe harder jy werk, hoe beter sal dit gaan! En los tog net jou attitude in SA…….

Maryna ·

Dit is vandag presies ‘n jaar sedert ek geland het in NZ. Ek het die vorige dag my man en betraande kindertjies totsiens gesoen en oorgevlieg met my tas, my CV en die hoop om vir my kinders ‘n beter toekoms te kan vind.

My hart breek steeds in ‘n duisend stukkies as ek dink aan ‘n land wat lank terug die tuiste was van alles en almal waarvoor ek ooit lief was. Maar NZ het ons ingeneem en sy het ons hare gemaak. Ons is dalkbaar. Ons kyk nooit terug nie.

Jozi ·

Kosbare woorde.
Ek gaan dit verseker deel met my jongste twee kinders wat in daardie rigting begin praat.
Wie is ons om te oordeel as iemand besluit dis tyd om op te pak?
Dis ‘n groot, moeilike en persoonlike besluit.
Elke ou moet doen wat reg is vir hom/haar.
En as dit beteken jy moet jou land, jou mense, jou ALLES agterlaat, is die laaste ding wat jy nodig het onnodige en ongevraagde kritiek.
Jou pad is nie my pad nie……

Bosveld Boer ·

Beste Rene

Ons as Afrikaners treur oor elke mede Afrikaner wat die land verlaat. Ons gaan julle mis. Ek wil nie julle wat julle families en volk agterweë laat, veroordeel nie. Dit gaan niemand beter laat voel nie. Ja, julle offer baie op, maar ook nie werklik nie. Weet net dat Suid Afrika gaan nie tot niet gaan nie en nog minder die Boere Afrikaner. Die oorweldigende meerderheid kan nie weg nie en wil ook nie weg hier nie. As ek Afrika sien, sien ek n toekoms, omrede mense wat swaarkry opstaan en verander, hulle raak moeg vir swaarkry. Kyk mens na die Weste en watter waardes hulle aanhang sal die Weste binne n paar dekades wees waar Afrika was. Elke ryk in die geskiedenis het tot niet gegaan, gewoontlik in vlamme. Die vraag is: Gaan julle nou Kiwi’s word of Kiwi Afrikaners? Grieke in die verlede in SA kon grootliks hul kultuur en waardes behou. Gaan julle? Afrika is n “tough country”, nie n plek v Sussies nie! Ek pak hom met geloof. Ek en my kinders sal hier sterf soos julle daar. Verskil is ek bly getrou aan wie ek is. Wie, is julle nou? Maak ons trots op wie julle is daar, ons sal dieselfde doen hier. Sterkte en seënwense. Ons is hier v julle en hopelik andersom.

Jerry ·

Die uittog van kundige gekwalifiseerde mense uit SA neem maandeliks toe met letterlik honderde aansoeke vir die UK, Nieu Zeeland, Australie en Arabiese emirate. Die aaneenlopende en nou ook eskalerende verlies aan skaars kundigheid het reeds n kritieke vlak bereik en is tans die hoof besprekingspunt in SA. Oorsese maatskappye in SA mag nou reeds kundiges vanuit die buiteland werf en aanstel daar waar daardie kundigheid nie meer in SA beskikbaar is nie. Dit blyk egter n meer ingewikkelder proses te wees om in SA te gaan werk as wat dit is om uit SA te emigreer!

Jerry ·

Hoe meer expats soos Rene du Preez en die mede kommentators n stukkie van hulself vir mense gee, hoe meer kom mense tot die besef dat niks in hierdie globale wereld van ons onmoontlik is nie. Waar SA vir ooglopende redes nie meer die oester van die meerderheid Afrikaners kan wees nie, is die wye wereld vinnig besig om die Afrikaner vir wie dit beskore is en vir wie geen uitdaging te groot is nie, se oester te word. Elke liewe Afrikaner het dit in hom en haar om leiers op hulle onderskeie gebiede te wees. Al hierdie dinge wat besig is om te ontvou in die lewens van Afrikaners is te wyte daaraan dat dit inderwaarheid die volk is wat die Afrikaner as te ware agterwee gelaat het. Die Afrikaner sal wyd verspreid oor die wereld in vreemde lande nie weer n volk wees vir die Afrikaner nie, maar die Afrikaner sal n volk wees vir die lewende God wie die verbond gesluit het met Abraham, die vader van alle gelowiges!

Erik ·

Baie dankie vir die eerlike brief. Ons as gesin is ook by ‘n kruispad en moet ‘n keuse maak. Of ons bly of gaan het albei gevolge. Ons leef ‘n baie bevoorreg en lekker lewe in Suid-Afrika en is baie geseënd, maar as dit nie die geval was nie was ons verseker op pad. Ek is bekommerd oor die toekoms, veral met jong kinders. Al wat ek weet is dat hierdie keuse saam met die Here gemaak moet word en sy doel vir ons lewe… Dis moeilik en ek het baie respek vir mense wat dit wel doen. Meeste mense wat nie kan emigreer nie sal sê dat hulle die pad sou vat as hul kon, maar dis anders as jy kan. Dis nie ‘n maklike besluit nie! Ek oordeel nie die wat bly of gly nie – maar veroordeel wel die wat veroordeel sonder dat hulle werklik verstaan. Ek dink soms dis makliker as jy nie kon kies nie en weet jy kan nie gaan nie. Ons leef elke dag saam met die twyfel en die moontlike gevolge van ons keuses rondom emigrasie en dus ongelooflik uitputtend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.