ʼn Pragtige gesinsfotosessie – oor die grensdraad!

Jeneen Cilliers moes op ‘n leer staan om die regte skoot te kry vir die gesinsfotosessie waarvoor haar bure poseer het. (Foto: Verskaf)

Jeneen Cilliers, ʼn professionele leefstyl- en troufotograaf van Upington in die Noord-Kaap, wou so graag haar geesdrif vir fotografie uitleef tydens die staat van inperking dat sy haar bure trakteer het met ʼn gesinsfotosessie oor die heining tussen hul erwe.

“Ek was baie verveeld en het so ʼn groot behoefte gehad om my passie vir fotografie uit te leef. My familie, die katte en selfs die goggas in ons tuin kruip al vir my weg as ek naby kom met ʼn kamera, so ek moes ʼn ander plan maak,” vertel Cilliers.

Uiteraard kon sy nie verby die grenslyn van haar erf haar passie beoefen sonder om die reëls van die inperking te breek nie, maar toe sy besef sy kan op sekere plekke in haar erf die bure, die Kalahari Lion’s Rest, se erf mooi sien deur die grensdraad, het sy met hulle kontak gemaak.

Henco Burger en sy vrou, Christal, en hul twee spruite, Lambrecht en Lalie, het ingestem om te poseer vir ʼn gesinsfotosessie. “Hulle is fantastiese mense en ons het soveel pret gehad,” vertel Cilliers.

Die Burger-gesin. Ma Christal en pa Henco saam met die kinders, Lamprecht en Lalie. Die hondekinders was ook deel van die sessie. (Foto: Jeneen Cilliers/PhotoJenic)

Die gesin se troeteldiere het ook voor die kameras gepryk.

Cilliers, ook ‘n korporatiewe fotograaf, lag as sy vertel hoe sy ʼn leer moes nader sleep om die regte hoeke te kry en hoe die steekplante om die grensdraad haar gesteek het. “Ek is ʼn baie energieke en aktiewe fotograaf wat enigiets sal doen om die regte skoot te kry. Al lyk ek self laf, wil ek die beste resultate kry,” sê sy.

Sy vertel hulle het soveel pret gehad dat sy intussen ander bure ook gekontak het om inperkingsfotosessies te doen.

“Ons het só gegiggel hier oor die draad. Ek moes net keer dat ek nie oor val nie. Henco-hulle het ook nie nou ʼn tuinier nie, so die herfsblare lê hul erf vol besaai, wat natuurlik vir my ongelooflik was. Alles het baie mooi saamgewerk,” vertel sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.