’n Splinternuwe toekoms lê vir jongmense in dié program opgesluit

My best gap year-program (Foto: www.mybestgapyear.co.za)

My best gap year-program (Foto: www.mybestgapyear.co.za)

Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie is mense onder die ouderdom van 25 drie keer meer geneig om werkloosheid in die gesig te staar as die res van die bevolking, maar danksy ’n splinternuwe oorbruggingsprogram kan jongmense tussen 18 en 25 jaar nou ‘n hoopvolle toekoms vol selfvertroue aanpak.

Reneé van Wyk, stigter van die My Best Gap Year-program, sê dié program leer jongmense meer oor die belangrikheid van doelwitte en aksieplanne en verseker dat hulle beter presteer in die werk- en studie-omgewing.

Van Wyk het dié program gestig saam met haar vernoot, Martie du Plooy, vir jongmense tussen 18 en 25. Sy meen ervaringsleer help hulle om die onbekende toekoms met meer selfvertroue aan te pak.

“Ons leer die jongmense ook hoe om met selfvertroue voor mense te praat en hulself te verpak met ʼn persoonlike handelsmerk wanneer hulle vir werksonderhoude gaan. Ander aspekte, soos hoe om ʼn tee/koffie skinkbord te dek vir gaste en hoe om verskillende sienswyses te hanteer, word ook ingesluit,” vertel sy.

Vanjaar se program was ʼn dawerende sukses. “Waar nie een van hulle aan die begin van die jaar enigsins ʼn idee gehad het wat hul toekomsplanne behels nie, het hulle almal nou reeds, na slegs drie maande van dié program, besluit wat hulle met hul toekoms wil doen. Twee van die studente het reeds deposito’s betaal en is nou ingeskryf vir tersiêre studie in 2017.”

Karlien van den Bergh, een van die oorbruggingsjaarstudente, sê sy het baie geleer tydens dié program. “Dit was vir my ʼn kwessie van Lewensvaardighede 101. Ek het soveel geleer. Ek sien die toekoms nou as ʼn avontuursreis en nie meer as ‘n vreesaanjaende doel wat bereik moet word nie,” vertel sy.

Van Wyk sê navorsing toon dit is van kardinale belang dat jongmense oor indiensnemingsvaardighede, loopbaan-vindingrykheid en entrepreneursdenke beskik om suksesvol te funksioneer in die beroepswêreld.

Verskeie ondernemings het vanjaar ook betrokke geraak om die program verder uit te brei.

“In ʼn ewig veranderende wêreld is dit uiters noodsaaklik dat ons volgende geslag eienskappe en vaardighede aanleer wat hulle laat uittroon bo ander wat ook die arbeidsmark betree.  Met die My Best Gap Year-program fokus ons veral op deursettingsvermoë, hoe om fokus te behou, lang- en korttermyndoelwitstelling en aksieplanne.”

Besoek die My Best Gap Yearwebwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Ekonoom ·

In n goeie gap jaar sluit ook vaardighede in oor programmering, data analise, leierskap en verkoopsvaardighede, dit sal enige jongmens in die toekomstige werksplek baie nodig kry.

Kiepie ·

Oom Ekonoom, daardie is vaardighede wat hulle by enige kollege of universiteit kan aanleer. Wat vandag se jong mense ondersteuning mee nodig het is basiese lewensvaardighede soos doelwitstelling, probleemoplossing, loopbaanbeplanning ens. Ons skoolstelsel berei die kinders glad nie voor vir die wrede werklikheid daar buite nie en weens omstandighede oorbeskerm ons ouers ook meestal ons kinders. Ons kinders word in watte groot en is nie toegerus om die eise van die alledaagse lewe die hoof te bied as die tyd aanbreek om eie potjie te krap nie. Ek dink daar ‘n baie groot aanvraag vir hierdie tipe “soft skills” opleiding.

Oom Ekonoom ·

Hulle leer dit nie by enige college of Universiteit in die praktyk nie, min het die vaardighede. As meer die vaardighede in kombinasie met entrepreneurskap (soos verwys in die berig) gehad het sou ons jongmense in n beter posisie gewees het. Amper alle jongmense moet die vaargighede he as ons ernstig is om mededingend in die toekoms te wees, daarom is dit uitstekende vaardighede vir n gap jaar. Maar jy is reg verder in jou boodskap, ek stem heeltemal saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.